Prieska het baie skatte
2011-08-10 12:19
PRIESKA. – Aan die voet van die Doringberg, sowat 230?km suidwes van Kimberley, lê Prieska.
Dié Karoodorp is oorspronklik Priskab (Khoisan vir plek van die verlore bokooi) genoem.
Die dorp is bekend om sy halfedelgesteentes, en die Schumann-klipversameling wat halfedelgesteentes en klip-werktuie van die Khoisan insluit, kan by die munisipale kantoor besigtig word.
Die Prieska-museum in Victoriastraat is ’n ryk bron van die dorp se geskiedenis en het ’n interessante uitstalling van vroeë huishoudelike artikels en werktuie.
Tydens die Anglo-Boereoorlog het die Britte ’n fort van tieroog en ander halfedelgesteentes op ’n koppie aan die kant van die dorp gebou.
Dié koppie met ’n pragtige uitsig oor die dorp is vandag die Ria Huysamen-aalwyntuin waar ’n verskeidenheid aalwyne en ander vetplante, asook kokerbome (halfmense), besigtig kan word. Die Bos-natuurreservaat teenaan die dorp het pragtige piekniekplekke tussen inheemse bome. Besoekers kan ook hengel of die ryk voëllewe geniet. Wonderdraai naby Prieska is ’n uitsonderlike verskynsel waar die Oranjerivier ’n eiland in die vorm van ’n perdeskoen vorm. Dit skep die illusie die water vloei opdraand. Besoekers kan ook verskeie wildplase besoek om foto’s te neem of jagsafari’s bespreek.

DIÉ fort op ’n koppie aan die kant van die dorp is tydens die Anglo-Boereoorlog deur Britse soldate van tieroog en ander halfedelgesteentes gebou.