Plaasveiligheid onder loep geneem
2010-06-23 15:42
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Plaasveiligheid was die onderwerp op ’n onlangse vergadering van die plaaslike distriksboereunie (DBU). Dit is deur ’n groot groep boere, sowel as verteenwoordigers van die plaaslike polisie, bygewoon.
Mnr. Cobus Breytenbach van Zastron, voorsitter van Vrystaat Landbou (VL) se komitee vir wet en orde, was die spreker.
Plaasaanvalle is ’n werklikheid en VL het ’n veiligheidsplan ontwikkel wat ook op provinsiale vlak deur die polisie goedgekeur is en in samewerking met die polisie geïmplementeer word. Die Vrystaat is die enigste provinsie wat so ’n plan in plek het, het hy gesê.
Breytenbach meld dat Suid-Afrika een van die vyf lande ter wêreld is met die hoogste misdaadsyfer en sien faktore soos werkloosheid, wetteloosheid, armoede, swak sosio-ekonomiese omstandighede, asook die feit dat sommige mense geen respek vir lewe het nie, as van die hoofoorsake van misdaad.
Misdaadstatistieke dui aan dat 80% van die inligting van huisbrake en plaasaanvalle van eie werkers kom. Almal moet veiligheidsbewus wees en selektief met inligting te werk gaan.
Hy moedig die DBU aan om ’n vennootskap met die polisie te vorm, ’n goeie verhouding met die stasiekommissaris te bou, asook ’n plaaswagstelsel en sektore in plek te kry.
Noodkontaknommers van die polisie, veediefstaleenheid, asook ’n goeie regsverteenwoordiger, moet altyd byderhand wees vir vinnige en maklike verwysing.
Indien boere enige private veiligheidsdiensverskaffer wil gebruik, moet hulle by PSIRA geregistreer wees. Breytenbach beklemtoon dat boere hulself mag beskerm, maar nie die reg in eie hande mag neem nie. Boere moet ook daarteen waak om mekaar op te sweep.
Mnr. Flip Henning van Trompsburg, wat self twee jaar gelede in ’n plaasaanval geskiet is, verteenwoordig die streek se landelike beveiliging. Om misdaad te help voorkom moet boere georganiseerd en professioneel optree.
Hulle moet sake aanmeld omdat dit help in die byhou van die misdaadstatistieke en inligting verskaf. Netwerke moet geskep word.
Hy moedig gemeenskapsbetrokkenheid en samewerking aan, asook dat lede betrokke raak by VL se gebeurlikheidsplan. Relevante inligting moet ingesamel en ontleed word en bruikbare inligting moet aan die landelike beveiligingstrukture van VL en die polisie oorgedra word vir optrede.
Die streek se veiligheidstruktuurverteenwoordigers moet gereelde vergaderings met die polisie en ander belanghebbendes hou en die plan moet minstens twee keer per jaar geoefen word.
VL se intelligensiehoof, mnr. Hennie Gerber, meld dat ongeregverdigde wraak een van die hoofoorsake van plaasmoorde is, maar waarsku ook om bedag te wees op onbekendes.
Hy beveel aan dat “Reg van Toegang”-borde vertoon word.
Verder noem hy dat almal bedag daarop moet wees dat plaasaanvallers nie tot ’n spesifieke etniese groep beperk is nie.
Sedert VL-intelligensie sowat ses jaar gelede begin is, is 210 beplande plaasmoorde reeds afgeweer. In 2009 was daar twee plaasmoorde en drie sover in 2010.
Daar is slegs drie onopgeloste plaasmoorde in die Vrystaat, waarvan die sake oop bly, het Gerber gesê.
Hy benadruk die belangrikheid om plaasbeveiliging te doen. Lede moet pro-aktief optree deur hul onmiddellike omgewing te inspekteer, asook om ’n gebeurlikheidsplan in plek te hê sodat enige moontlike aanval in die omgewing gehanteer kan word. Boere moet die wet ken oor wanneer geskiet mag word.
Kapt. David Molefe Chabeli, die plaaslike stasiebevelvoerder van die polisie, sê dit is belangrik om nie vreemdelinge te huur voordat hul misdaadrekord nagegaan is nie.