Kunsgene loop diep in dié Vrystater
2010-07-14 09:11
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
BETHULIE. – By haar huis Du Plaisir in Martinstraat ontvang Annette du Plessis en haar twee honde, Bonnie en Clyde, die besoeker hartlik.
Van die tuinhekkie met die paadjie na die voordeur is oral detail wat getuig van Du Plessis se kreatiwiteit. Die kunsgene loop diep in haar are. Sy was ’n nooi Boonzaier, verwant aan die befaamde Gregoire Boonzaier (haar groot-oom van vaderskant).
Sy vertel dat sy reeds sedert haar kinderjare daarvan hou om te teken, maar nooit formele skilderklasse geneem het nie. Sy het haarself geleer deur boeke te bestudeer en kunsgalerye in Suid-Afrika en Europa te besoek en het mettertyd haar eie tegniek en styl ontwikkel. Sy is veral lief vir die werk van Monet, Renoir en Hopper.
As heeltydse beroepsvrou (tot voordat sy haar in 2005 op Bethulie gevestig het), was sy kreatief oor ’n wye spektrum van kuns en kunshandwerk, onder meer om op keramiekborde te skilder, maar het sy nie werklik aktief geskilder nie.
Sowat tien jaar gelede, tydens ’n besoek aan Gauteng se grootste vlooimark by die Bruma-meer, het sy ’n jong voet-en-mond-skilder sonder arms raakgeloop wat die pragtigste tonele geskilder het.
Dit het haar hart geraak en was vir haar ’n groot inspirasie om haar talent te ontgin. In 2003 kom nog ’n keerpunt toe sy en haar man Ierland besoek het. Toe “sy haar voet van die vliegtuig sit” in hierdie pragtige land, was sy dadelik so geïnspireer deur die skoonheid om haar, dat sy net “kwaste en papier gesoek het”.
Met haar terugkoms het die “verf begin vloei”.
Aanvanklik het sy haar op klein werke toegespits, maar soos haar selfvertroue gegroei het, het sy later die sprong gewaag na groot skilderye, iets wat sy baie meer geniet. Omdat sy steeds in ’n heeltydse beroep by Burgerlugvaart was, kon sy eers heeltyds begin skilder nadat sy en haar man op Bethulie kom aftree het.
Du Plessis het ’n passie vir skilder en haar werke strek oor ’n wye spektrum van wat sy noem “urban realism” tot vrouefigure en Afrika-temas in semi-abstrakte en impressionistiese styl. Sy is baie lief vir die vrouefiguur, maar “gaan deur stadiums” en noudat sy ’n kleinkind het, sal sy dalk ook begin om kinders te skilder.
Sy verkies om in akriel te werk omdat dit haar groter kreatiewe vryheid gee, onder meer om “nat-op-nat” te werk, tekstuur by te voeg, helder kleure te gebruik en met lig en skadu te eksperimenteer. Haar werke vertel ’n storie en daar is ’n bepaalde misterie wat sy skep, onder meer om die gesig te verbloem met byvoorbeeld ’n hoed, deur weg te kyk, of die hare wat die gesig bedek.
Du Plessis vertel hoe dit haar gewoonte is om donker kleure te dra wanneer sy skilder, dat sy “op musiek verf” én die musiek op volle volume oopdraai terwyl sy besig is om te skilder. Haar gunstelingbegeleiding sluit in Afrika-musiek van Ladysmith Black Mambazo, die Ierse sanger Enya, opera of klassieke werke.
Sy besef almal het nie dieselfde smaak nie en dat verskillende kunstenaars se werk vir verskillende mense mooi is, maar sy skilder wat in haar hart is en wat vir haar vreugde gee.
Weens die gejaagde lewe en die hoë misdaad in die stede, het hulle besluit om Pretoria vir ’n veilige en rustige omgewing te verruil. Hulle het hul hart verloor op Bethulie waar hulle hul huis pragtig en gerieflik ingerig het om hulle te pas.
Sy skerts dat hul koms na Bethulie ’n “tweede poging is om af te tree, maar dat dit steeds nie so gewerk het nie”. Eers het die plaaslike skool haar man, Pieter, amper onmiddellik genader om te kom help (hy het in 1994 ook “afgetree” as hoofonderwyskundige) en later was hy ook bestuurder van Huis Uitkoms, die aftreeoord op Bethulie, waar Du Plessis weekliks kunshandwerkklasse aanbied.
Hy is intussen georden as predikant in die Wesleyaanse Kerk met gemeentes op Bethulie, Springfontein en Oviston.
Die Du Plessis’s moes ’n gewigtige besluit neem toe ’n groot gemeente in Pretoria hulle beroep het en hulle nie die Here se roepstem kon weier nie. Du Plessis beplan om nog ’n laaste uitstalling op Be-thulie by haar huis te hou voordat hulle die dorp later vanjaar tydelik verlaat.