Jos se lewensverhaal inspireer
2010-08-11 10:36
BETHULIE. – Joszhuah (Jos) Josling se lewensverhaal – om struikelblokke te oorkom en sy passie te volg – kan as inspirasie vir ander dien.
Nadat hy sy nasionale diploma in natuurbewaring in 1988 behaal het, het hy ongeveer ’n jaar lank waardevolle ondervinding in ’n private wildtuin in Gauteng opgedoen.
Tien jaar later het hy sy nasionale hoër diploma in natuurbewaring behaal. Dit was tydens sy dienstydperk van agt jaar by die Natalse Parkeraad waar hy by verskillende reservate betrokke was. Hy was ook lid van die wetenskaplike duikspan.
Hierna het hy ’n rukkie saam met sy destydse skoonpa naby Newcastle in KwaZulu-Natal geboer. Toe sy eerste huwelik egter op die rotse loop, het hy na sy ouerhuis in Gauteng teruggekeer.
Hy het sy voete begin vind en ’n betrekking aanvaar op ’n wildplaas in Assen (Noordwes) wat in ’n reservaat omskep moes word. Dit was ’n moeilike tyd terwyl hy probeer het om die trauma van ’n mislukte huwelik te verwerk.
In 2000 is hy op die plaas aangerand. Hy het die oggend ná die voorval gevoel iets is nie pluis nie en het van Assen na sy ouerhuis in Centurion gegaan. Ongeveer 24 uur ná die voorval het hy ’n massiewe beroerte by die hospitaal gekry terwyl hy gewag het dat x-strale geneem moes word.
Die beroerte was ’n regstreekse gevolg van die aanranding.
Dit het hom aan sy regterkant verlam. Weens die kneusing in sy nek het ’n bloedklont gevorm en die suurstoftoevoer na ’n gedeelte van die brein afgesny. Hy was twee weke in ’n koma voordat met ’n rehabilitasieproses van 18 maande – wat spraak- en fisioterapie ingesluit het – begin is. Sy ma het hom ondersteun en so baie bygedra tot sy rehabilitasie.
Op 32 jaar moes Josling van voor af leer praat, eet, eers kruip en toe loop. Met baie wilskrag en uithouvermoë het hy daarin geslaag.
Omdat hy die gebruik van sy regterhand verloor het en net gedeeltelike gebruik van sy regterskouer en arm het, moes hy ook leer om links te skryf en skiet. Om ’n motor te bestuur was ook ’n uitdaging omdat hy die gebruik van net een van sy hande het.
Toe hy weer sonder hulp oor die weg kon kom, en as deel van sy eie verdere rehabilitasieproses, het hy vir hom ’n stukkie grond naby Bela-Bela (Warmbad) gekoop sodat hy weer naby die natuur kon wees.
Hy en een helper het alles self gedoen – draad gespan en hokke gebou vir sy braaikuiken- en knoffelboerdery. Hier het hy elke oggend sy ma se motiverende woorde uit sy kleintyd herhaal. Hy het gewerk totdat hy moeg is, gerus en dan weer aangegaan.
Hier het hy besef natuurbewaring, die veld en grootwild is sy eerste liefde en dat hy weer daarby betrokke wil raak. Hy het die grond verkoop en ’n tuindienste-onderneming in Centu- rion begin.
Toe hy inligting kry oor ’n meestersgraad in omgewingsbestuur aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) het hy die onderneming teen ’n groot wins verkoop om sy studie te betaal.
Ná ’n paar maande op Queenstown in die Oos-Kaap het hy aan die einde van 2004 by die Tussen-die-Riviere-natuurreservaat buite Bethulie begin werk. Hy het sy meestersgraad in 2007 behaal en beplan nou om ’n doktorale tesis in natuurbewaring te doen.
Hy het sy navorsing en beplande studie egter ’n rukkie onderbreek toe hy sy vrou, Nicolette, vroeg in 2008 ontmoet het en hulle net ’n bietjie meer as ’n jaar gelede getroud is.
Sy onthou nog die eerste dag toe sy hom gesien het soos gister. Hy het haar voete onder haar uitgeslaan toe hy in sy uniform met sy voorskrif by die apteek in Bloemfontein waar sy gewerk het, ingestap het.
’n Week later het hulle weer ontmoet en sedertdien onafskeidbaar geword.
Dit was in die tyd dat Josling ’n pastoorsvriend vertel het hy is gelukkig, maar kort net ’n vrou. Die pastoor het hom raad gegee dat hy tot rus moet kom en dit aan God moet oorlaat.
Hulle is ’n jaar ná hul ontmoeting tydens die jaarlikse GRAA-kongres (Game Rangers Assosiation of Africa) in die Caprivi getroud. Dit was die eerste keer in die GRAA se geskiedenis dat een van sy lede tydens so ’n byeenkoms getroud is.
Toe een van die wildbewaarders haar tas sien, het hy vir die bruid gevra: “Is jou trourok in daardie tas?” Dit was inderdaad die geval.