Hilda is Brandfort se eie Samaritaan
2011-05-25 06:02
BRANDFORT. – Die klein gryskopvroutjie kom haastig by die koffiewinkel se voordeur in. “Ek kom nou daar van die nuwe uitbreiding af, maar ek is darem vinnig hier, nè?”
So ken die meeste mense op Brandfort vir Hilda Swart. Altyd op pad iewers heen met haar rooi stootkarretjie en sy persoonlike nommerplaat, Hilda FS.
Dit is koud en nat op die dag van die besoek, maar Hilda is in die strate met een of ander liefdeswerk besig.
Sy is ’n Vrystater in murg en been – gebore op Kroonstad, skoolgegaan op Tweeling, Bethlehem en Brandfort en het aan die einde van 1981, ná haar egskeiding, van Ladybrand af teruggekeer na Brandfort waar sy saam met haar ma woon.
Hilda vertel sy het skaars hier aangeland toe sy as die Suid-Afrikaanse Nasionale Bloeddiens (SANBD) se organiseerder op die dorp aangestel is. “Ek het een keer saam met die tannie gegaan wat dit voorheen gedoen het en die volgende keer moes ek dit op my eie doen. Ek was só op my senuwees!” Dit is nou 29 jaar later en Hilda verrig steeds hierdie taak met entoesiasme.
Sy verrig ook allerhande takies vir die bejaardes op die dorp. “Ek doen hul shopping, help maar met alles. Dit hou my besig. Ek kan nie stilsit nie.”
“Ek geniet dit om met mense te werk en kom goed met hulle oor die weg. Ek luister maar so na almal se probleme.”
En tussenin kla sy ook ’n bietjie. “Jy weet, Brandfort se begraafplaas is so vuil, ’n mens kan nie daar ingaan nie. Dit word nooit meer skoongemaak nie.”
Benewens haar selfopgelegde liefdestaak gee Hilda Sondag-skool en is sy diaken in die NG Moedergemeente op die dorp.
Aan die einde van die onderhoud onthou sy skielik: “Ek moet popcorn gaan spring vir die mini-basaar oormôre, maar ek gaan dit eers môreaand doen. Ek kan mos nie vir die kinders ou popcorn gee nie.”
En daar gaan sy...straat-af teen ’n flinke pas.
- Volksblad