Girokopters byeen op Gariepdam
2011-06-19 12:07
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
GARIEPDAM. – Girokoptervlieëniers van oor die land heen het op 21 Mei vir ’n pret-vliegdag op Gariepdam saamgetrek.
Volgens mnr. Gerrit Roux, die onder-voorsitter van die Suid-Afrikaanse Girokopter-vereniging (Sagpa), was die 73 girokopters wat hier byeen was, beslis ’n Suid-Afrikaanse rekord vir die getal vlieëniers wat op een dag bymekaargekom het.
Die girokopter-vlieëniers het sedert Vrydag 20 Mei van so ver as Alldays, Kaapstad en Natal by die Gariepvliegveld aangekom.
Vyf vervaardigers van girokopters was ook teenwoordig. Volgens Roux kan twee mense op een slag met so ’n girokopter vlieg.
Volgens die webblad van Sagpa help die vereniging om girokoptervlieg in die land te bevorder.
Die vereniging help ook girokopterstudente om die girovlieglisensie (GPL) te bekom. Daarbenewens dien die organisasie as ’n mondstuk vir die ongeveer 200 lede, asook kommunikasie met ander soortgelyke organisasies.
Die Girokopter-vereniging deel ook alle bruikbare inligting met die vlieëniers.
Tydens die Saterdag is daar slegs girokopters gepraat en gedurende die dag het verskeie groepe op hul eie roetes die omgewing verken.
Elkeen kon later sy eie roete vlieg.
Die weer het perfek saamgespeel en goeie vliegtoestande is heeldag ondervind.
Volgens Roux het die betroubaarheid van die vliegtuie en veiligheid wat deur die deelnemers aan die dag gelê is, verseker dat al 73 girokoptervlieëniers veilig by Gariepdam aangekom het. Ná die naweek het almal sonder enige voorvalle tuis gekom.
Die veiligheid van die vliegdag is deur Roux se broer mnr. Paul Roux behartig wat ook die Girokopter-vereniging se geleentheidskoördineerder is.
Op hierdie jaar se geslaagde Girokopter-vliegdag het 150 mense by Forever Resorts die afsluitingsgeselligheid bygewoon.
Die jaarlikse prys vir uitnemende bydrae tot die giro-gemeenskap is aan mnr. Dave Lehr oorhandig.
Dit is vir sy bydrae om die sport te bevorder en vir sy kennis oor die tegniese aspekte van die girokopters, waarvoor Sagpa hom vereer het.
Die volgende Girokopter-vliegdag vir Gariepdam word al beplan en daar word beoog om sowat 100 girokopter-vlieëniers in Mei 2012 daar bymekaar te kry.

DIE 73 girokopters staan gereed om op te styg op die Gariepdam-vliegveld.Foto: EARL OOSTHUIZEN

DIE helderkleurige girokopters op die aanloopbaan op Gariepdam.Foto: jan venter
- Volksblad