Gholf hou die gees jonk, sê 90-jarige
2011-05-25 06:02
DIE beste medisyne vir ’n man wat afgetree het, is om besig te bly... en wat is lekkerder as om 18 putjies saam met jonger mense te speel. Dit hou ook jou gees jonk.
“As jy aftree-ouderdom bereik het en jy besluit om te gaan sit en niks te doen, is dit klaarpraat met jou.”
Die man wat só praat, is ’n gholf-fanatikus. Die afgelope 30 jaar speel hy elke Saterdag – en soms ook in die week – op Schoemanpark se baan saam met ’n klompie manne wat baie jonger as hy is.
Bob McLaren was Saterdag weer op sy pos.
Die klub het immers vir hom ’n vroeë verjaardagpartytjie gehou.
Hy het gister sy 90ste verjaardag gevier.
“Ja, dit is net genade van Bo. Ek is dankbaar dat daar ’n klompie jong manne is wat gewillig is om saam met iemand soos ek te speel,” het hy gesê. “Hulle maak nou die lewe vir my lekker.”
McLaren is iemand wat eers laat in sy lewe begin gholf speel het.
Trouens, dit was eers nadat hy op 60-jarige ouderdom afgetree het, dat hy besluit het om die stokke op die baan te begin swaai. “Dit het ook maar toevallig gebeur.”
Hy sê hy wou besig bly nadat hy “op pensioen gegaan het, maar het nie lekker geweet hoe nie”.
Hy het besluit die rustigheid van die gholfbaan en om ’n paar uur in die natuur deur te bring is die beste.
Sy vernaamste probleem was dat hy linkshandig is en dat daar baie min stokke vir hotklouspelers in sy jonger dae was. Hy het met regshandige stokke probeer speel, maar dit het maar sukkel-sukkel gegaan.
Maar van een ding was hy seker: Hy wou nie ledig bly nie en het maar weer en weer probeer. Ledigheid is die duiwel se oorkussing.
Dalk het hy in gedagte gehad wat ou dominee altoos gesê het: Hy sal, het die predikant gesê, graag elke ateïs op die gholfbaan wil sien, want niks kry jou so maklik op jou knieë soos gholf nie.
Maar McLaren was nie ’n man wat vreeslik gesukkel het nie. Om op ouderdom 60 eers te begin gholf speel, verg harde werk, maar hy was gewillig om te leer. En sy voorgee het dit weerspieël, want hy het tot ’n voorgee van 16 gevorder. “Ek kan nie so lekker onthou nie, maar dit kon dalk ook laer gewees het.”
En vandag? Ek speel maar soos ’n 90-jarige en geniet dit, sê hy.
Hy kan natuurlik nie meer ’n volle 18 putjies stap nie, want van die eerste bof tot by die 18de putjie is meer as 7 of 8km en as jy die balle nie altyd reguit slaan nie en tussen die bome of in die sukkelveld beland, is dit sommer honderde meters verder.
Maar deesdae is daar dinge soos gholfkarretjies wat dit vir die spelers makliker maak. McLaren het een van die driewiel-fietse waarop hy sy stel stokke agter die sitplek vasmaak. Dit maak dit baie maklik om ’n rondte saam met die jong ouens te “stap” sonder om moeg te word.
McLaren is ’n boorling van die Oos-Kaap. Hy is 90 jaar gelede op Kirkwood gebore en het ook daar skoolgegaan. In daardie jare was jou keuse nie baie groot wanneer jy ná skool moes gaan werk nie. Hy het hom by die poskantoor aangesluit en tot sy aftrede in 1981 vir dié instelling gewerk.
Die poskantoor was in die vroeër jare een van die belangrikste geboue op die dorp. Dit is waar die boere saamgetrek het en gewoonlik was daar ook ’n winkeltjie. Almal het almal geken.
“Ek was deel van die aflos-personeel en het in omtrent elke uithoek van Suid-Afrika, die Transkei en Suidwes-Afrika (Namibië) gewerk.”
McLaren was ook ’n knap rugbyspeler en gedurende sy verblyf in die Oos-Kaap het sy paaie met dié van Basil Kenyon gekruis.
“Ek onthou hom as ’n uitstekende speler. Hy was ’n ware ‘gentleman’ en wanneer jy hom ontmoet het, was dit duidelik waarom hy die Springbokkaptein geword het. Hy was ’n gebore leier.”
Kenyon was kaptein van die Springbokke wat in 1949 in die vierde toets teen die All Blacks gespeel het en hy was ook kaptein van die Bokspan wat in 1951-’52 na Brittanje en Frankryk gegaan het.
’n Oogbesering het egter veroorsaak dat hy in net vier wedstryde kon speel.
Hy het ook teen een van die beste vleuels wat Suid-Afrika gelewer het, maar wat nooit Springbok geword het nie, gespeel. Dit was die driedruk-koning van eers die ou Transvaal en daarna die Westelike Provinsie, Otto van Niekerk.
McLaren vertel dat dit soms maar moeilik was om getrou aan die poskantoor te bly. “Hulle was die base en jy moes spring wanneer hulle gepraat het.”
So het dit ’n slag gebeur dat hy met vakansie in Kirkwood was toe hy die opdrag kry om dadelik – soos gister al – Pretoria toe te gaan.
Dit was ’n geskarrel en hy wou darem nog ’n paar dae by sy meisie kuier. Maar die base het gepraat.
Hy vertel dat hy toe ook pas ’n motor gekoop het. Hy het geen bestuurslesse gehad nie, maar het die pad gevat. Hy het maar so koes-koes vir ander motors gery, maar gelukkig nie ’n ongeluk gemaak nie.
Hy en sy vrou het ná sy aftrede in Westerbloem, Bloemfontein, gaan woon. “Sy is 17 jaar gelede oorlede. Daar is wel altyd mense om jou, maar dit is hel om so alleen te woon,” sê hy.
Hy is nie ’n mens wat graag verhuis nie, maar hy sal dit dalk nou moet doen. Sy enigste kind, Ian, woon in Namibië. “Hy hou aan dat ek daarheen moet emigreer en ek sal dit dalk nog doen.”
Daar is darem ook gholfbane.