Gee jou dorp ’n wenkans
2011-06-22 09:35
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
STEMME vir die Volksblad-toerismedorp van die Jaar-kompetisie kom stadig maar seker in.
In hierdie stadium is Zastron, verlede jaar een van die topdrie dorpe, in die eerste plek. Clarens lê tweede met Reitz en Harrismith onderskeidelik tweede en derde. Hopetown is die eerste Noord-Kaapse dorp waarvoor gestem is.
Lesers moet onthou ’n naweek by Forever Resorts Gariepdam word weekliks weggegee aan ’n gelukkige leser wat sy stem vir sy gunstelingdorp in Volksblad se verspreidingsgebied in die Vrystaat en Noord-Kaap uitbring.
Hoërskoolleerlinge kan ook wen met die Facebook-fotokompetisie. Neem net ’n foto wat jou dorp uitbeeld en stuur dit aan ons. Moedig dan jou vriende aan om vir jou foto te gaan stem en jy kan met R250 met komplimente van PwC wegstap. Onthou net, jy móét ook vir jou dorp stem!
Met ten minste R45?000 op die spel vir die wendorp is dit die moeite werd om jou stem uit te bring. Die gedagte is die wengeld moet tot voordeel van die hele gemeenskap aangewend word. Boonop word sowat R20?000 bygedra vir die makietie wat in Oktober op die wendorp aangebied word.
Onthou, dit is nie die plaaslike regering of net die inwoners wat ’n dorp ’n wendorp maak nie, maar wel samewerking. Dit is vir die borge van groot belang dat munisipaliteite, inwoners en ondernemings hande vat om die dorp ’n beter plek vir die gemeenskap te maak.
Om te wen is ook nie die belangrikste doelwit van die kompetisie nie, maar wel om plattelandse dorpe bewus te maak van die moontlikhede wat toerisme ook vir die platteland inhou.
Lesers moet net onthou die wenners van die afgelope twee jaar, Marquard (2009) en Gariepdam (2010), kwalifiseer nie vanjaar vir die kompetisie nie.
ENIGIEMAND KAN STEM
ENIGIEMAND wat sy of haar stem vir ’n plattelandse dorp in die Vrystaat en Noord-Kaap wil uitbring, kan deelneem.
Die drie stede in die Vrystaat en Noord-Kaap, Bloemfontein, Kimberley en Welkom, kwalifiseer ongelukkig nie vir die kompetisie nie.
Die vorige twee jaar se wenners, Marquard en Gariepdam, mag ook nie aan die kompetisie deelneem nie.
Mense wat per SMS stem, kan ook wen. Weekliks word ’n naweek met komplimente van Forever Resorts Gariepdam weggegee vir een gelukkige leser.
Stem vir u dorp deur ’n SMS na 45527 te stuur. Begin u boodskap met Volksblad dorp gevolg deur die naam van die dorp waarvoor u wil stem, asook u naam en kontakbesonderhede. Dit moet dus só lyk: Volksblad dorp Kakamas Piet Pompies 082-123-4567. Elke SMS kos R1,50 en daar is geen beperking op hoeveel keer iemand mag stem nie.
Stemme word elke Maandag om 10:00 getel en deur PwC geverifieer.
- Volksblad