Elfranco Malan een van beste atlete
2010-02-17 07:01
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Die Springbok-atletiekspan het gereed gestaan om na die buiteland te vertrek. Dit was kort voor die Olimpiese Spele in Tokio in 1964. Elfranco Malan was die kaptein van die span en almal het uitgesien na die byeenkomste wat voorgelê het.
Twee swart atlete is die eerste keer in die Springbokspan ingesluit. Die Olimpiese base, wat Suid-Afrika graag op die spele wou sien deelneem het, het vooraf laat deurskemer: Kies twee swart atlete en jul deelname aan die spele in Japan is verseker. Humphrey Khosi en Benoni Malaka, twee middelafstand-atlete, is die manne wat Suid-Afrika sou verteenwoordig het. Hul afrigter, wyle Poena Malan, het vas geglo die twee was medaljemateriaal. Hulle sou in ’n afsonderlike vliegtuig gereis het, maar sou in dieselfde klere en kleure as die ander spanlede deelgeneem het.
Saam met hulle in die span was onder andere Elfranco Malan (kaptein), Judge Jefferys, Renate Potgieter en Hannes Botha.
Maar toe kom die opdrag – eintlik ’n waarskuwing – van min. Jan de Klerk se kantoor: Klim op daardie vliegtuig en julle sal nie weer in Suid-Afrika welkom wees nie.
Suid-Afrika se deelname aan die Olimpiese Spele was hiermee gedoem. En daarmee saam Suid-Afrika se deelname aan internasionale sport. Dit was eers 28 jaar later – in 1992 – dat Suid-Afrika weer op die Olimpiese Spele toegelaat is. Dit was ook die tydperk toe van Suid-Afrika se heel beste atlete en swemmers na vore getree het, maar nooit internasionaal kon deelneem nie.
En in die 28 jaar sedert daardie gewraakte dag in 1964 was ook rugby- en kriekettoere en deelname aan omtrent elke spansport vir Suid-Afrika verlore.
Elfranco, een van die beste atlete nog in die Springbokfrokkie, en Susan, met wie hy byna 53 jaar getroud is, woon nou in ’n aftreeoord in Fichardtpark. Dit is waar ons die afgelope week met hom gesels het oor die hartseerdae van Suid-Afrikaanse atletiek wat hom ook gedwing het om die sport te los.
Maar Elfranco was nie net ’n skitterende atleet nie. Trouens, dit was as rugbyspeler dat hy die eerste keer sy stempel afgedruk het. Die man wat op 12 November 1934 op Hoopstad gebore is, het al as 11-jarige losskakel by die Laerskool op Hoopstad die eerste keer die aandag getrek. Sy skakelmaat was die latere junior Springbok Norman Bridger. Twee ander bekendes wat saam met hulle gespeel het, was die latere toets-rugbyskeidsregter Max Baise en sy broer, Louis, wat ’n Springbok-stoeier op die Statebondspele in 1954 in Vancouver was.
Elfranco is later na Kroonstad waar hy vir die Blouskool aan atletiek en rugby deelgeneem het.
Een van die hoogtepunte van sy rugbyloopbaan as skoolseun was toe die Blouskool in 1951 die bykans onmoontlike vermag het en die Bloemfonteinse kampioen, Grey-kollege, in die eindstryd om die Administrateursbeker geklop het.
“Ons het in daardie jaar met al die grotes – Grey, Sentraal en baie ander – afgereken,” onthou hy.
In sy laerskooldae het hy hoofsaaklik aan die naellope deelgeneem, maar by die Blouskool het sy atletiekloopbaan werklik begin blom. Hy het in die diskusgooi, gewigstoot en die 440 treë teen die beste deelgeneem en gewen.
In sy matriekjaar het hy op die Vrystaatse kampioenskapsbyeenkoms die provinsiale rekord in die diskusgooi verbeter, ’n tweede plek in die 440 treë behaal en hy was tweede in die gewigstoot. En hy het sy man op die rugbyveld gestaan. Hy het ook as vleuel vir Noord-Vrystaat uitgedraf.
In 1951 was hy een van die eerste jong soldate wat na die SA Lugmaggimnasium in Pretoria gegaan het.
“Om die lugmag se span te haal was moeiliker as om vir Noord-Transvaal gekies te word. Die oefeninge was kliphard. Dit was in die dae van daardie gevreesde flankpaar-broers van Garnisoen, soos die weermag toe genoem is, RC en MC de Beer. En van my spanmaats was Eschel Roodie wat later by die inligtingskandaal betrek is. Hy was ’n briljante speler.”
Elfranco was ook kaptein van Noord-Transvaal se o.19-rugbyspan. Een van die manne wat saam met hom gespeel het, was die latere Springbok-kaptein Avril Malan.”
Elfranco het as o.19-speler vier keer vir die Tukkie- eerste span gespeel, maar ná ’n besering en ondanks die Springbokkeurder Daan Swiegers se gesoebat het hy rugby gelos ná ’n lelike neusbesering.
In 1954 het sy ouers, wat op Hoopstad geboer het, albei siekerig geword en hy het besluit om huis toe te kom. Sy paaie het ook gekruis met dié van Susan Janse van Rensburg wat van die distrik Vryburg in die destydse Betsjoeanaland (vandag Botswana) gekom het.
Hy en wyle Fanie du Plessis was in menige tweestryd in die diskusgooi gewikkel. Hulle het om die beurt gewen, maar eindelik was dit Elfranco wat uitgestyg het en die Suid-Afrikaanse rekord gehou het. Voor die Olimpiese Spele in 1956 in Melbourne het albei diskusgooiers aan die Springbokproewe deelgeneem. Elfranco het gewen, maar om die een of ander rede is Fanie vir die span gekies.
In 1955 het sy atletiekloopbaan ’n hoogtepunt bereik toe hy gekies is vir die Suid-Afrikaanse span wat teen die Wes-Duitse toerspan deelgeneem het. Hy het daarna nog verskeie kere die Suid-Afrikaanse span gehaal en was ook die kaptein.
Teleurstellings was daar ook baie. In 1960 is hy, Hentie Kruger (paalspring) en Hannes Botha (gewigstoot) vir die Suid-Afrikaanse span gekies wat in Athene sou gaan deelneem het, maar toe raak die atletiekbase se geld op en hulle moes tuisbly.
Hy vertel een voorval wat hom altyd sal bybly, was toe die atletiekbase besluit het om ’n aflosspan te kies. Hulle moes iemand hê om mee mee te ding en Elfranco, Hannes Botha, Fanie du Plessis en nog ’n veldatleet het besluit hulle sal deelneem.
Fanie het die tweede been gehardloop en sommer so half kortpad na die binnebaan toe geskiet. Die veldatlete het die blitse stukkend gehardloop. Nou moet ’n mens darem noem Elfranco was ’n blitsige vleuel en dat Fanie ’n baie goeie hoogspringer en naelloper was. Maar jy verwag nie jou beste blitse moet teen die groot ouens verloor nie.
Statebondsrekord, agtste op die wêreld se ranglys, Springbokkaptein en houer van baie rekords, onderwyser en skeikundige by Yskor ’n paar dekades gelede is Elfranco Malan se oes.
En wie beskou hy as die beste atleet wat hy nog in aksie gesien het? Elfranco dink nie eens twee keer nie: Die beste was Malcolm Spence, destyds houer van die Suid-Afrikaanse rekord vir die 400 treë (400 m).
Hy en Susan het drie kinders: Francois, Louise en Adri. Francois, hul oudste, het vir die Shimlas en ’n Vrystaatse vyftiental in die voorry gesak en later vir die Oostelike Provinsie gespeel.
Die blitse loop in die Malan-gesin. Elfranco se pa, Jacobus Francois, het in 1923 vir die Kovsies se eerste span senter gespeel. Sy foto hang in die Shimlakamer.
- Volksblad