Clarens werk hard vir toerisme
2011-05-25 06:02
CLARENS. – Sake-eienaars op die dorp moet nie aanvaar dat die toerismefontein nooit sal opdroog nie. Sonder verantwoordelike bemarking kan toerisme op Clarens nie ’n mededingende en volhoubare bedryf bly nie.
So sê die nuutverkose voorsitter van die Clarens-toerismeforum (CTF), mnr. Michael Scheepers. Hy moedig ondernemings aan om saam te werk aan ’n korporatiewe, langtermynvisie wat die hele dorp en omgewing sal bevoordeel in plaas van kortsigtige benaderings wat selfgesentreerd is.
Die toerismeforum het in sy kort bestaanstydperk reeds baie vermag en is ook nou geaffilieer met die N3 Gateway (N3GC), die toerismekomponent van die N3-tolkonsessie (N3TC). Mnr. Laurence Fenner, bemarkingsbestuurder van N3GC, het op die bekendstellingsaand van die CTF die Clarensgemeenskap toegespreek met ’n verrassing van ’n R160,000-borgskap wat toegestaan is om Clarens vroeër vandeesmaand op die internasionale toerisme-indaba in Durban te bemark.
Volgens die fasiliteerder van die CTF, me. Alaë Grabe, is dit die forum se visie om ’n jaarlikse geleentheid te bied waardeur alle vlakke van die gemeenskap betrek en bevoordeel sal kan word, nie net ondernemings nie.
’n Fees word reeds beplan vir 7 tot 10 Oktober – die Clarens- beeldende kuns-, kos- en wynfees. Op 4 Junie word ’n ope gholfdag ten bate van die CTF gehou. Besoek die forum se webtuiste op www.clarenstourismforum.blogspot.com/p/info.html, vir meer inligting.