Ope dag trek duisende voornemende Kovsies
2011-05-10 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n REKORDGETAL van 1000 aansoeke om toelating tot die Universiteit van die Vrystaat (UV) in 2012 is deur die loop van die jaarlikse ope dag op die hoofkampus ontvang. Beursgeld van R150000 is ook aan voornemende studente toegeken.
Die kampus het gewemel van aspirant-Kovsies en hul ouers toe hulle meer wou uitvind oor kursusse wat hier aangebied word.
Die hoofaktiwiteite van die dag was die menigte stalletjies van koshuise en die verskillende verenigings op die kampus.
Die visekanselier en rektor van die UV, prof. Jonathan Jansen, het in sy boodskap aan die leerlinge, ouers en onderwysers gesê swak akademiese standaarde is dalk ’n aanvaarbare norm in die gemeenskap, maar sal geensins deur die universiteit geduld word nie.
Nagenoeg 6000 mense het op die hoofkampus in Bloemfontein byeengekom, waar hulle aan senior personeel en dekane voorgestel is en elk van die universiteit se sewe fakulteite besoek het. Uitstallings deur koshuise en studenteverenigings het ook om die aandag van voornemende UV-studente meegeding.
Jansen het teenwoordigers in die Callie Human-sentrum daarvan verseker dat hulle kan uitsien na gehalte-onderrig en ’n akademiese klimaat wat daarop gemik is om slegs die beste akademici en landsburgers vir Suid-Afrika op te lewer.
Hy het gesê verhoogde standaarde wat ingestel is, het reeds bewys om die slaagsyfer te verhoog, lok hoëgehalte-studente, aangesien die UV vanjaar 146 studente wat ses of meer A-simbole in matriek behaal het, kon werf.
’n Verdere bewys hiervan is dat die universiteit twee Rhodes-beurshouers, Sannah Mokone en Dirk Bester, in een jaar opgelewer het.
Verhoogvertonings is gehou waar die skoolkinders en hul ouers deur die dag vermaak is. Op die verhoog het onder meer Karpos en Veritas se 2010-sêrgroep opgetree.
Die koshuise het deelgeneem aan die oorlogskreet-kompetisie waar elke koshuis ’n kreet moes voorberei. Die tema was Vryheid.
Huis Armentum het as wenners uit die stryd getree.
Die verskillende fakulteite het ook uitstallings gehou.
Vir die koshuise het die dag nie net daaroor gegaan om eerstejaars te werf nie, maar ook om te kyk wie die beste stalletjie kan bemark.
Huis Marjolein is as die algehele wenner aangewys.
- Volksblad