Mediese studente wil ’n verskil maak
2011-05-10 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
GEMEENSKAPSDIENS vorm ’n integrale deel van ’n mediese student se derdejaarstudie.
Daarom het ’n groep van ses derdejaars by die Age in Action-groep in Heidedal betrokke geraak.
Age in Action bestaan uit 35 bejaardes wat vir hulself werk geskep het deur verskeie produkte te maak en te verkoop.
Hul toerusting en werksomgewing is egter nie op peil nie en daarom het die derdejaarstudente projekte aangepak om geld en ware in te samel om die bejaardes beter toe te rus.
Die groep benodig toerusting soos naaimasjiene, wol en naalde en baktoerusting om hul werk te kan doen.
Die bou van ’n oprit waar bejaardes en gestremdes met gemak kan beweeg, is ook deel van die projek.
Hulle benodig ook beter badkamergeriewe, ’n naambord vir die Age in Action-groep vir blootstelling en diefwering in die ontspanningsaal.
Die groep het reeds ’n groentetuin begin om in hul behoeftes te voorsien. Enige skenkings hiervoor sal verwelkom word.
Die personeel benodig ook ’n werksuniform vir eenvormigheid. Vervoer na hospitale of klinieke word ook benodig. ’n Tekort aan rolstoele bestaan ook.
As jy graag ’n bydrae wil maak, skakel 083-791-2791.
- Volksblad