Kovsies werk ook op skou
2011-05-10 06:00
DIE Bloemskou is een van die hoogtepunte op Bloemfonteiners se kalender. Dit is egter geen geheim nie dat die toegangsgeld nie enige student se sak pas nie.
“Dit is net te duur om meer as een maal daar ’n draai te maak,” sê Chris-Mari van der Merwe, ’n B.Ed-student in haar tweede jaar.
Maar daar is ook studente wat betaal word om daar te wees – tot R16 per uur.
Kampus-Volksblad het ’n draai op die skou gemaak en was verbaas om te sien hoe baie studente van die stalletjies beman om ’n ekstra geldjie te verdien.
’n Paar vrouestudente werk by The Waffle Diner as kelnerinne. Zandi Coetzee (B.Ed, tweede jaar) sê al mis sy klas, is dit beslis die moeite werd.
Yolani Oosthuizen (MBW, eerste jaar) het by Café Pronto vir die publiek heerlike koffie geskink. “Dit is vir my baie lekker om hier te werk en ek hoef nie klas te skip nie, want ons werk in skofte,” het sy gesê.
Daar is vele ander stalletjies waar studente ’n produk of twee aan jou wil afsmeer, maar die meeste studente werk in die namiddag wanneer die skouterrein krioel van mense wat na die gaskunstenaars kom kyk.
Die stalletjies is egter nie al waar Kovsies help om van die skou ’n sukses te maak nie.
Die dramastudente het kinders ’n paar keer op die skou vermaak met Apies Innibos en Boer Manie en die basaar.
YOLANI OOSTHUIZEN maak koffie by Café Pronto.Foto: Liezl Keyter
- Volksblad