‘Go for it’! mense van SA
2011-01-31 15:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Almal, wit en swart, in Suid-Afrika is slagoffers van apartheid. Dit is ’n sielkundige probleem.
Swartes voel steeds minderwaardig en sommige wittes dink hulle is steeds beter en superieur, het emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu verlede week op die Kovsie-kampus gesê.
Dit was in sy toespraak nadat hy ’n eredoktorsgraad in teologie van die Universiteit van die Vrystaat (UV) ontvang het.
Hy het gepleit alle Suid-Afrikaners moet besef niemand is beter as ’n ander nie. Hy het ook die huidige maghebbers nie gespaar nie.
“Swartes projekteer selfhaat op mekaar, omdat hulle so lank deur wittes tydens apartheid onderdruk is. Dié stelsel het hulle laat glo wittes is die enigste mense wat respek verdien.”
Hy het vertel van ’n vlug in 1972 in Nigerië waarop hy was.
“Die vlieënier en hele span op die vlug was swart. Ek het aanvanklik gedink: ‘Sjoe, gaan ons veilig wees as ’n wit vlieënier nie in beheer is nie?’ Apartheid het my laat glo wittes is die enigste mense wat iets werd is.
“Waarom lyk die townships soos hulle lyk? Waarom sal ’n swarte eerder ’n piesangskil langs die vullisblik gooi as ín die blik? Waarom ry hulle soos hulle wil in townships? Dit word nie geduld in die voormalige wit woonbuurte nie.”
Tutu sê wittes dink steeds hulle is beter as ander en dat hulle die mag het. “Sommige wittes dink hulle doen swartes ’n guns om hulle te help as jy iets by hulle koop, of wanneer hulle iets vir jou doen.” Volgens hom is almal kinders van God. “Ons is almal ménse. Ons is wónderlike mense in Suid-Afrika.”
Hy het verwys na die vreedsame demokratiese oorgang in 1994 toe die wêreld verwag het ’n burgeroorlog gaan uitbreek.
“Die wêreld bewonder ons vir wat ons al vermag het.”
Tutu sê die vier studente wat betrokke was by die Reitz-video is ook slagoffers, net soos die vernederde vroue in die video. “Hulle is produkte van ’n stelsel. Ons moet nie verbaas wees oor die voorval nie. Ons moet verbaas wees dat daar nie meer sulke voorvalle was nie. Dat daar nie érger voorvalle was nie.”
Hy het gesê hy weet nie hoe kon iemand gaan slaap het, of sy kinders in die oë kyk, nadat hy gesê het iemand se dood “laat hom koud nie”.
In ’n duidelike verwysing na ampsdraers in die regering het Tutu gesê die land word nie gebou deur mense wat skielik mag kry en dit misbruik om duur partytjies te hou en duur motors aan te skaf nie.
“Die mense van Suid-Afrika het die vermoë om ’n ongelooflike land te bou. Go for it!”
*Die UV het dieselfde dag die nuwe korporatiewe handelsmerke van die instelling bekend gestel. Dit volg op groot omstredenheid, nadat dit in September verlede jaar bekend geword het dat God uit die UV-leuse gelaat sou word.
Jansen het die besluit verdedig en gesê die UV is ’n openbare instelling en nie ’n kerk nie. “Die God wat in daardie leuse voorgekom het, is die God van die 1948-Nasionale Party. Dit was die God van apartheid-Suid-Afrika.
Die UV-wapenskild het al vier keer verander sedert sy ontstaan. Die vorige leuse was die enigste wat God bevat het. Was die UV voor dit God-loos?” het Jansen gevra.

Bo: Die nuwe akademiesewapen van die UV.
Onder: Die nuwe bemarkingswapen van die UV.
