Filantroop vir R50 vermoor
2010-01-25 05:14
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
’n Afgetrede doktor in chemie en saggeaarde filantroop is vir ’n skamele R50 en ’n selfoon wreed op sy rustige plaas by Fickburg vermoor.
Dr. Ernest Giesekke (69) se lyk is Saterdagoggend op die plaas Goodhope gekry. Sy kop is met ’n groot klip ingeslaan en sy keel afgesny. Dit kom voor of hy ook met ’n skroewedraaier gesteek is.
Volgens sr.supt. Mptantsi Makhele, polisiewoordvoerder, is drie verdagtes skaars ses uur ná die moord aangekeer.
Giesekke se vrou, Eve (77), was ten tye van die aanval in die huis, terwyl haar man om 05:45 uit die huis is om beeste kos te gee en vas te stel of die besproeiingstelsels werk.
Gavin Boy, vryskutjoernalis, berig dat die Giesekke-egpaar laventel en bessies verbou.
Die vermoede bestaan dat Giesekke omstreeks 06:00 by die watertenk op die plaaswerf deur drie mans oorval is waar sy lyk later gekry is. Hulle was vermoedelik gewapen.
Hy is erg mishandel. Sy kop is met ’n klip ingeslaan en dit blyk dat hy ook met ’n skroewedraaier gesteek is voordat sy keel uiteindelik afgesny is, berig Boy.
Die boosdoeners het ná die aanval die plaashuis ingegaan en mev. Giesekke in haar slaapkamer oorval.
Volgens Boy het sy gevra waar haar man is. Een van die aanvallers het gesê: “Jy het nie meer ’n man nie.”
Makhele sê die mans het geld en wapens geëis, maar is met mev. Giesekke se handsak en selfoon weg. Daar was R50 in die handsak.
Giesekke het daarna die paniekknoppie van die alarmstelsel gedruk.
Die eerste mens op die toneel was mnr. James Brown, eienaar van Alarm Security. Hy het op die lyk afgekom, berig Boy.
Die polisie en lede van die Gumtree-boerevereniging en die Ficksburg-veiligheid-en-sekuriteitskomitee het onmiddellik by die intensiewe soektog betrokke geraak.
Inligting is ook ontvang dat die elektriese heining verlede week geknip is om toegang tot die plaaswerf te kry.
Die aanvallers is toe vermoedelik betyds verwilder. Die geknipte drade was na verneem word nie aangemeld nie.
Die verdagtes is ná ’n intensiewe soektog, waaraan onder andere polisielede, plaaslike inwoners, die polisiehelikopter, die veiligheids-en-sekuriteitskomitee en die sekuriteitsmaatskappy deelgeneem het, opgespoor en aangekeer.
- Giesekke is die derde boer van Ficksburg wat die afgelope twee jaar vermoor is.
- Volksblad