'Ons moet nou vir Zuma bid'
2010-02-08 11:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Johannesburg – President Jacob Zuma moet vergewe word en die nasie moet “aanbeweeg”, het die National Interfaith Leaders Council (NILC) Maandag gesê.
“Laat ons hierdie episode agter ons laat, so jammer soos wat dit is, en aanbeweeg as ‘n nasie,” het die raad in 'n verklaring gesê.
“Die NILC vra vir gebed vir ons president en sy familie en vir genesing en vergifnis in wat ‘n moeilike week vir die land was.”
Hulle het gesê dat aangesien Zuma om verskoning gevra het en “erken” het dat hy ‘n kind saam met ‘n vriend se dogter gehad het, hy nou vergewe moet word.
“Dit is nou in ons as Suid-Afrikaners se hande of ons nog verdere pyn wil veroorsaak en of ons vergifnis wil bied.”
Hulle het alle Suid-Afrikaners aangemoedig om “die president se openlikheid en nederigheid oor die kwessie met grasie en genade te aanvaar.”
Die Sunday Times het verlede week die nuus gebreek dat Zuma ‘n kind gehad het by Sonona Khoza, ‘n bemarkingspesialis en dogter van Irvin Khoza, voorsitter van die plaaslike reëlingskomitee vir die Wêreldbeker-sokkertoernooi.
Na ‘n periode van stilte het die presidensie bevestig dat die berig waar was.
“Ek is diep spyt oor die pyn wat ek vir my familie, die ANC, die alliansie en aan Suid-Afrika in die algemeen veroorsaak het,” het hy in ‘n verklaring gesê.
- Sapa