Egpaar wreedaardig vermoor op hul plaas
2010-01-07 05:17
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Jana van der Merwe
Dierlik kan nie eens die wreedaardige moord op ’n boer en sy vrou eergisteraand op hul plaas tussen Senekal en Steynsrus beskryf nie.
Mnr. Koos van Zyl (63) en sy vrou, Retha (66), is albei vroegaand met hul eie haelgeweer in die bors doodgeskiet nadat hulle met ’n vleishaak aangerand is.
Uitstekende samewerking deur die Vrystaatse polisie het gistermiddag tot die inhegtenisneming van ’n 27-jarige verdagte, ’n voormalige plaaswerker van die egpaar, gelei.
Die plaaswerker, wat glo die vorige dag afgedank is, is naby Odendaalsrus in die egpaar se dogter, Marietjie, se rooi Chevrolet Aveo-sedan aangekeer.
Die egpaar het hom glo nog R250 geskuld.
Sers. Majang Mosupa, ’n polisiewoordvoerder, sê mev. Van Zyl het moontlik die huis verlaat nadat hul kragopwekker afgegaan het.
Hul plaas, Poortjie, het nie Eskom-elektrisiteit nie.
Van Zyl is kort daarna buite die kombuis deur haar aanvaller, wat vermoedelik die kragopwekker afgeskakel het, ingewag.
Hy het haar oorval en wreed met ’n vleishaak, hoofsaaklik oor haar bors, asook een keer in haar nek, gekap.
Mnr. Van Zyl, wat baie sieklik was, is daarna in die kombuis oorval en twee keer met die vleishaak in sy nek en op sy kop gekap.
Hartseer gemeenskapslede sê hy was die afgelope tyd baie swak en sou hom nie teen sy aanvaller kon teësit nie.
Die aanvaller het mev. Van Zyl se hande met baaltou vasgemaak en haar deur die kombuis tot in die gang van die huis gesleep.
Hy het die egpaar se haelgeweer langs hul nog opgemaakte bed in hul slaapkamer gevind.
Hy het elkeen van naby met een skoot in die bors doodgeskiet.
Die verdagte het daarna met hul dogter se voertuig en hul twee selfone gevlug.
Hy het ook glo een van die egpaar se skape in die kar gelaai en iemand ’n rygeleentheid gegee.
Reserviskonstabels Thapelo Mponeng en Moeti Mokoatsi van Odendaalrus se eenheid vir sigbare polisiëring het die voertuig, waarna die polisie gesoek het, gistermiddag gesien.
Hulle het hul kollegas om bystand gekontak en die verdagte toe vasgetrek.
Die gemeenskap vrees dat die moord slegs deel van die statistieke gaan word.
Mnr. Jan de Villiers, ’n veiligheidsbeampte van die Emdonio-boerevereniging, doen ’n beroep op boere om aktief deel van hul gebied se veiligheidstelsel te word.
Hy sê dit was die tweede plaasaanval in die distrik in twee weke.
Mnr. Frik Ras, ook ’n boer, is die dag ná Kersfees in ’n aanval op sy plaas beseer.
“Dit is ’n neiging wat sedert 1994 aanhou.
“Die ouens wat oorbly, sal moet leer om na hulself te kyk,” sê De Villiers.
Mev. Rautenbach sê haar suster het onlangs ná 42 jaar as onderwyseres afgetree. Sy sê sy was ’n rustige, goeie mens.
Mnr. Van Zyl is as ’n nederige, hardwerkende mens beskryf.
Die egpaar word deur hul drie kinders, Erik, Estie en Marietjie, oorleef.
Hulle het nie kleinkinders nie.
- Volksblad