NAWEEK deur Toast Coetzer. Tafelberg. Sagteband.
R160.
Toast Coetzer is heeltyds joernalis vir WEG,
mederedakteur van Ons Klyntji en liriekskrywer vir The Buckfever Underground. En
dis net die sondes waarvan ons weet. Nou het hy die vermetelheid aan die dag
gelê om ’n roman te skryf. Darem nie sonder leiding nie: Naweek is die
jongste boek wat Etienne van Heerden se kreatiewe skryfkursus oorleef het.
Maanhaar Basson is aantreklik, fiks, intelligent, gewild en kan
waaragtig sing ook. Hy is oorgelewer aan die waansin wat roem en rykdom bring,
’n gevoel van onaantasbaarheid. Naweek is nie morbied nie, maar dit ís ’n
boek oor die donker kant van die lewe, die gekheid van jonkwees. Oor hoe een
onvoorsiene oomblik die hel kan loslaat.
Die verhaal skop af met die slot: ’n koerantberig met ’n dramatiese
aankondiging. Daarna volg ’n vertelling van wat op Sondag gebeur het. Saterdag
en Vrydag volg later.
Om ’n storie agterstevoor te vertel is geen nuwigheid nie, maar
selfs ervare romansiers sal sukkel om sulke literêre gimnastiek te laat werk.
Hoe boei jy lesers deur by die einde weg te spring en agteruit te loop? Juis
deur ’n verhaal te maak van wat ná die dramatiese hoogtepunt gebeur: Die afloop
ís die storie. En deur weg te spring met die klimaks sodat dit tóg teen die
einde eers aangebied word.
Dis nie net die strukturele eskapades wat Naweek
besonders maak nie. Dis goeie, boeiende prosa. Wat kan lekkerder wees om oor te
lees as ’n naïewe, verwaande rocker en sy dekadente maters? Drank vloei,
daggakooltjies gloei, wit poeiertjies word gesnuif en seks is ’n blote
tydverdryf.
Coetzer se beeldende vermoë is byna magies. Soos op bladsy 67: “Om
dooie mense te sien is om weer daarvan bewus te word dat jy met ’n handgranaat
deur jou lewe stap, die pennetjie lankal uitgetrek, saam met jou naelstring
geknip.” Of bladsy 89: “...met een arm op die nat pad asof hy voel asof die
aarde nog ’n pols het.”
Maar die lyn tussen ’n treffende beeld en lompe oordaad is dun.
“Opgefrommelde klere wat sy slaapkamervloer bedek soos nagemaakte lappoplyke in
’n oorlogfliek” laat die wenkbroue lig. En my “gunsteling”: “plastieksakke vol
inkopies wagtend om haar voete soos honger ganse met flappende snawels na
bo.”
Die skrywer ervaar (so half ongemerk) begrip en deernis met sy
karakters en wek dit ook by sy lesers op: Maanhaar het byvoorbeeld dalk bloot te
gou te suksesvol geraak; die noodlot kan hom nog sy ware, goeie self laat
ontdek. Of is die teenoorgestelde aan die gebeur?
Naweek is ontstellend oortuigend en hoogs intelligent, ’n
“harde” boek met subtiliteit wat ragfyn tussen die intrige deur gespin is. As
debuutromans ’n genre op sy eie is, beïndruk Naweek ver buite die grense van die
genre.
Roosterbroodjie, jy mág skryf. Jou volgende boek is hopelik langer
as ’n naweek.
– Jaybee Roux, skrywer en vryskutresensent