OORBLYFSEL/VOICE OVER. Breyten Breytenbach. Human en
Rousseau. Sagteband. R130.
Mahmoud Darwish (Darwiesj) (1941 tot 2008) was ’n leier in die
Palestynse bevrydingstryd en ’n belangrike karakter binne die Arabiese
letterkunde.
Hierdie gedig van Breytenbach is ’n lykdig of ’n treurvers. En
bekend aan die struktuur van die soort vers word ’n bekende gestorwene vereer.
Hier dan deur ’n mededigter wat in sowel Afrikaans as Engels met die digter
praat, sy vriend en toeverlaat. ’n Digter wat, soos die spreker, ’n stryder was
binne ’n politieke arena. Die gedig is ’n oorblyfsel, ’n naskrif, ’n nawoord.
Dit is egter ook op Engels ’n voice over, ’n filmiese term waarin die
stem die storie interpreteer vanuit die agterna-perspektief.
Die bundel getuig van Breytenbach se besonderse beeldvermoë: Die
maan is soos ’n mandolien, maar ook maagdelik vol (8), terwyl die aangesprokene
se skedel soos ’n skip is. Daar is dan ’n volgehoue spanning tussen beweging en
stolling, tussen die hier en nou. Breytenbach se gedurfde vermoë om telkens
grense te verskuif, is eweneens hier aanwesig. Die leser is deurgaans bewus van
die verlies wat deur die gedig spreek.
Dit het alles begin toe Magmoed se slagaar kronkelend en sloom soos
’n pers slang gebars het. Die digter doen dus ’n bestekopname namens ’n
mededigter met ’n gewete. Op ’n retoriese wyse word die volk dan ook aangespreek
en tot orde geroep. Eers wanneer alle mense begrip het vir ander se ellendes kan
daar van so ’n begrip, naamlik volk, sprake wees:
ons sal ’n volk wees wanneer die sedepolisie
die hoer en die owerspelige vrou gaan beskerm
teen die klip en die klap van die knuppel op straat (bl. 28)
Die digter Breytenbach is dus buikspreker vir sy mededigter.
In die nawoord verduidelik Breytenbach hoe intens sy gedigte
vervleg is met die gedigte van Darwish.
Hier is dan sprake van verskillende reise: van die lewe na die
dood, van een digkuns na ’n ander en uiteindelik: van selfgesprek tussen
Afrikaans en Engels. Die twee spieëltekste maak belangrike stellings oor hoé die
digter van die een taal na ’n ander beweeg of reis.
“Ek beskou hierdie fragmente as lofbetuigings. Miskien ook ’n
poging om die sluier te kan wegtrek van die bekende gelaat wat nou stil geword
het” (bl. 62).
En die noulettende leser sal veel plesiere (eintlik jouissance) put
uit die eindelose vervlegtings tussen twee digters se tekste én hoe Breytenbach
uiteindelik sy eie Afrikaanse teks verander en subverteer.
’n ander dag sal aanbreek, ’n vroulike dag
deursigtig in vergelyking, geheel in syn gebrand (bl. 58)
word
another day will inbreed, froglike and femaletransparent in
comparison, gavelled in being
(bl. 59)
Hierdie tekste is helaas nie deursigtig nie. Dit sit vol
verwikkelde en opwindende raaisels wat die leser moet oplos. Soos waarom word
vroulike herdig in
froglike / female / womanly?
En op my beurt lees ek weer die gedig as ’n briljante gesprek met
Julia Kristeva se nooit-volprese studie oor digterlike taal, Desire in
language, waarin die siening van poëtiese taal as intiem-vroulik
gedefinieer word. ’n Terugbeweeg in die semiotiese of pre-simboliese dimensie.
Hierom dan ’n tersaaklike beeld soos “water sal syfer uit die klip / se skoot”
(58).
Dit is ’n teks, nee, eintlik twee tekste, waaragter vele ander
skuilhou, wat die liefhebber van die digkuns sal behaag.
Die bundel is ’n treursang of lykdig.
By geleentheid het die digter hierdie bundel beskryf as ’n collage,
oftewel getransformeerde variasies.
Die afskeid van die geliefde vriend is terselfdertyd ’n bewus wees
van ’n eie nietigheid en sterflikheid.
bo die bouvalle skater ’n leedvermakerige maan
soos ’n mal vrou met ’n stukkende skepbeker
wanneer sy haar gesig in die put sien verrimpel (bl. 54)
Onsienbaarheid / unseeingness – niksheid. Hieroor het
Breytenbach al so uitgebreid gedig.
En die spieëls sal inderdaad aan die stemme gehang word.
– Joan Hambidge, digter en akademikus