Deon skryf wat hy wil lees
2009-11-08 22:36
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Adéle Dempers
MIMOSA MALL, Bloemfontein. 17:10.
“Daar’s hulle,” sê Charl en tel sy swart sak op.
Ons kyk af op die twee figure wat met die roltrap opgery kom en
links na ons draai. Hulle kom aangestap.
Deon Meyer is lank, sterk gebou. Sy hare is langer as op die
omslagfoto’s op sy boeke en golwend agteroor gekam. Hy dra ’n swart hemp en grys
geruite baadjie – die toonbeeld van ’n gesofistikeerde skrywer. G’n wonder nie
die fotograaf het hom so maklik raakgesien. Sy oë is ligblou, sy stem heserig,
dalk omdat dit al die derde boekbekendstelling in drie dae is. Hy praat mooi,
suiwer Afrikaans.
Wanneer ons gaan sit, bestel hy ’n warm sjokolade, maar skep die
room later af – darem te dekadent.
Hy is op 4 Julie 1958 in die Paarl gebore, maar hy wil nie sê wat
sy doopname is nie.
Hy het in die Wes-Transvaal grootgeword waar sy pa die
areabestuurder van ’n hysermaatskappy was. Sy ma was ’n tuisteskepper. Hy is die
middelste van drie seuns, maar hy ly nie aan die middelkind-sindroom nie, in elk
geval nie sover hy weet nie...
Sy pa was ’n gebore storieverteller by wie hy belangrike
lewenswaarhede geleer het. Wanneer hulle vakansietye Kaap toe gery het, het sy
pa vertel die lewe is soos ’n reis Kaap toe: Jy moet eers die dor vlaktes van
die Karoo oorsteek voordat jy die oase van die Kaap kan bereik. In die grootmens
Deon se lewe beteken dit die lewe vra opofferings as jy iets wil bereik.
Sy ma was die leser in die gesin. Sy het baie gepraat oor wat sy
gelees het, vir hulle boeke uitgeneem en so die liefde vir lees by hulle
gekweek.
As seuntjie wou hy die gewone seuntjie-goed soos soldaat of
speurder word, maar hy wou reeds vroeg “stories maak, ander die plesier gee wat
ek uit stories put”. Nou skryf hy wat hy graag sou wou lees, want hy dink elke
skrywer skryf eintlik vir homself.
Deon is met Anita, ’n oudjoernalis en fotograaf, getroud. Hulle het
vier kinders tussen 14 en 24 jaar, twee seuns en twee dogters.
Anita is sy klankbord en lees en lewer kommentaar soos hy skryf. Hy
noem haar sy “vrouekonsultant” wat raad oor sy vrouekarakters gee.
Sy kinders dink nie hul pa is besonder cool nie;
inteendeel, hulle lees nie eens sy boeke nie. Maar hulle hou daarvan wanneer hy
bekendes huis toe bring. Deon probeer die gesprek met hulle aan die gang hou,
veral omdat tieners geneig is om in hulself geslote te wees.
Al skryf Deon nou heeltyds van die huis af, werk hy steeds baie
gedissiplineerd van soggens vroeg af vir sewe, agt uur. Hy skryf afgesonder in
’n studeerkamer en hoe stiller dit is, hoe lekkerder skryf hy.
“Nee,” sê hy laggend oor of dit nie vir hom en Anita moeilik is om
albei by die huis te wees nie, “dit gaan beter as wat ons verwag het.”
So hoe begin ’n nuwe boek? Volgens Deon ontwikkel ’n idee eers in
sy kop en hy loop soms lank daarmee en pas die stukkies inmekaar. Dan begin hy
navorsing doen, onderhoude voer, die milieu en omstandighede ondersoek. Hy
gesels met mense soos polisiemanne en luister fyn wat hulle sê en hoe hulle
praat – dis hoekom sy dialoog so lewensgetrou is. Hy is baie presies oor dinge
soos ligging omdat lesers hom op sy tone hou. Hy neem foto’s van ’n plek en
skryf die GPS-koördinate neer sodat hy daarna kan terugverwys. Tydens die
navorsingsproses begin hy skryf.
Hy raak lief vir sy karakters en kan nie een as gunsteling
uitsonder nie, “dit sal onregverdig wees”. Hulle word vir hom soos mense wat hy
ken en met wie hy wil gesels. Anita verstaan al wanneer hy in ’n slegte bui is,
gaan dit sleg met een van sy karakters.
“Een voordeel van skryf,” sê hy, “is ek kan hulle terugbring in
nuwe boeke as ek te veel verlang.”
Karakter-identifikasie is baie belangrik en hy wil graag hê die
leser moet vir sy protagoniste omgee. Sy karakters is fiktief, hoewel hy soms
iemand se fisieke voorkoms as ’n raamwerk sal gebruik.
Dit is opvallend dat Deon sy karakters se ras noem. “Dit is die
Suid-Afrikaanse werklikheid en dit plaas ook die karakter in konteks. Ek
spesifiseer selfs of ’n karakter Xhosa of Zoeloe is, want dit vertel ook vir die
leser meer. Dit help ook om vir lesers van die vertaalde boeke die prentjie
duideliker te skets.”
Deon skryf die spanningsverhaal se internasionale gewildheid
daaraan toe dat alle mense ’n ingeboude sin vir geregtigheid het. In ’n
spanningsverhaal boet die antagonis gewoonlik en die protagonis se “oorwinning”
oor die slegte bevredig die leser se sin vir geregtigheid.
Die goeie nuus is dat hy nou aan sy dikste boek nog werk en dat dit
aanstaande jaar op die winkelrakke sal wees.
Deon sê sy beste en slegste eienskap is sy deernis met mense en sy
ongeduld met stommerike.
’n Kenner van mense dus, soos ons kan sien in sy boeke. Al lyk hy
soos die gesofistikeerde skrywer, het hy ook ’n aardsheid en rustigheid aan hom.
’n Mens sonder nonsens, beaam sy bemarker.
- Volksblad