Jeffery werp nuwe lig op SA bevrydingstryd
2009-10-26 03:41
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PEOPLE’S WAR: NEW LIGHT ON THE STRUGGLE FOR SOUTH
AFRICA. Anthea Jeffery. Jonathan Ball Publishers. R279.
Die waterskeidingstoespraak wat mnr. F.W. de Klerk op 2 Februarie
1990 in die parlementsgebou in Kaapstad gelewer het, het die geskiedenis van die
Republiek van Suid-Afrika (RSA) in ’n ander rigting gestuur, maar ongelukkig nie
’n einde aan die geweld (wat toe reeds etlike jare hoogty gevier het) gebring
nie. Waar ongeveer 1 000 mense per jaar tussen 1985 en 1989 gesterf het, was die
geweldsterftesyfer meer as 3 400 per jaar tussen 1990 en 1994. Boonop was die
oorgrote meerderheid van die mense wat ná 2 Februarie 1990 in geweld omgekom
het, nie Suid-Afrikaanse veiligheidspersoneel (soldate en polisie) nie, maar
burgerlikes – en meestal swartes.
Vyftien jaar nadat die RSA amptelik ’n ware demokrasie geword het,
is dit wenslik dat nie slegs die geskiedenis van die demokratiese RSA bestudeer
en geëvalueer word nie, maar ook die jare van Sturm und Drang wat dit voorafgegaan het.
Dr. Anthea Jeffery, wat in die regte aan die Universiteit van die Witwatersrand
en Cambridge gestudeer het en ‘n doktorsgraad in regte (met spesialisasie in
menseregte) aan die Universiteit van Londen verwerf het, het besluit om die
geskiedenis van die laaste dekade van die omstrede vryheidstryd, naamlik die
gebeure in die jare 1984 tot 1994, na te vors en te boek te stel. Sy was goed
toegerus om die taak suksesvol te verrig danksy vorige navorsing wat in boeke
soos The Natal
story: sixteen years of conflict (Johannesburg, 1997) en The truth about the
Truth Commission (Johannesburg, 1999) neerslag gevind het. Sy skram
ooglopend nie weg van omstrede temas nie en skroom nie om – gestroop van
(onheilige) politieke korrektheid – sensitiewe kwessies tot op die been oop te
kloof en krities te ontleed nie.
Jeffery struktureer haar studie aan die hand van ’n inleiding, 17
hoofstukke en ’n slot. In hoofstukke 1, 2 en 3 word die geskiedkundige
agtergrond van wat sy die people’s war van 1984 tot 1994 noem, geskets, insluitende die
versetstryd teen apartheid soos gemanifesteer in die gebeure in Sharpeville en
elders in 1960, die begin van die ANC en sy militêre vleuel, Umkhonto weSizwe
(MK), se gewapende stryd (en die mislukking daarvan in die 1960’s), die
totstandkoming van die Inkatha-vryheidsparty (IVP), die rol van die swart
bewussynsbeweging, die lesse wat versetbewegings uit die oorlog in Viëtnam
geleer het (soos goeie beplanning, mobilisasie, die waarde van buitelandse hulp
en van ’n uitgerekte stryd, en van die koördinering van politieke en militêre
aksie) en die voorbereidings wat in sowel die buiteland as in die RSA getref is
om ‘n people’s
war hier op ’n groter skaal as ooit tevore los te laat.
Vervolgens behandel Jeffery die bevrydingstryd van 1984 tot 1994
hoofsaaklik chronologies: die begin (1984), die intensivering van die stryd
(1985), die mislukking van pogings om in 1986 ’n algemene opstand te weeg te
bring, die fokusverskuiwings van 1987, die uitbreiding van die stryd na talle
fronte (1988), verset en die Nasionale Party (NP) se hervormings (1989), die
verdere eskalering van die people’s war (1990), pogings om ’n tussentydse administrasie
te vestig (1991), die komplekse onderhandelingsproses (1991 tot 1993) en die
verkiesing van April 1994. In die slothoofstuk word die redes vir die sukses wat
die ANC deur die people’s war behaal het, asook die politieke en maatskaplike
gevolge van dié stryd, uiteengesit en geëvalueer.
Nadat die ANC in September 1984 sy people’s war verskerp het, het intimidasie
en gepaardgaande politieke moorde toegeneem. Die ANC se uitstekende
propagandamasjien het egter die indruk gewek dat dit die NP en sy beweerde
vennoot, die IVP, was wat vir die geweld verantwoordelik gehou moes word.
Simpatie vir die ANC het plaaslik en wêreldwyd toegeneem, terwyl die NP en IVP
se beeld skade berokken is. Teen 1993 het die ANC daarin geslaag om die botoon
in die onderhandelingsproses te voer en was dit net ’n kwessie van tyd
tvoordat hy tdie seël op sy sukses sou plaas.
Die oorgang van minderheids- na meerderheidsregering in die jare
1990 tot 1994 was dus nie noodwendig ‘n “wonderwerk” nie, maar onder meer die
gevolg van die ANC se suksesvolle strategie om die politieke mag in die RSA te
bekom. In die verband het die ANC/MK se multidimensionele people’s war
geen geringe rol gespeel nie. In April 1994 het die ANC inderdaad die politieke
oorwinning waarna hy so lank gesmag het, behaal, maar in die proses het daar in
tien jaar meer as 20 000 mense gesterf. Die gewapende stryd het ook kragte en
magte ontketen wat nie maklik ongedaan gemaak kan word nie. Dit is immers
makliker om anargie aan te stig as om weer wet en orde te herstel. Die wortels
van talle van die probleme/uitdagings waarmee Suid-Afrikaners van alle rasse
vandag worstel, kan dus inderdaad na die dekade wat die politieke draaipunt van
1994 voorafgegaan het, teruggespoor word.
Jeffery se uitstekende People’s war: new light on the struggle for South
Africa werp beslis nuwe lig op die bevrydingstryd in Suid-Afrika. Hierdie
goed nagevorsde boek word in slapbandformaat deur die Jonathan
Ball-uitgewersmaatskappy namens die Suid-Afrikaanse Instituut vir
Rasseverhoudinge uitgegee. Dit bevat ’n lys van afkortings, ’n glossarium, vier
kaarte wat die belangrikste brandpuntgebiede en doodsakkers van die
bevrydingstryd aandui, ’n nuttige register en ’n redelik omvangryke bronnelys.
Die uitmuntende navorsing word weerspieël in die boek se 133
aantekening-eindnote en 2 054 bronverwysingseindnote (pp. 515 tot 606).
Enigiemand wat in die eietydse geskiedenis van Suid-Afrika, die
geskiedenis van die ANC, die IVP en die NP, en konflik in die algemeen, belang
stel, moet die insiggewende boek lees. Dit sal die leser help om die dinamika
van die stuiptrekkings van die apartheid-era, sowel as van die nuwe
post-1994-Suid-Afrika, beter te verstaan, en sal hopelik wyd gelees en
gedebatteer word. Alle Suid-Afrikaners van alle rasse deel immers ’n groot stuk
gemeenskaplike geskiedenis, en die geskiedenis behoort in veel meer besonderhede
bespreek te word om ons in staat te stel om sinvol vir ’n beter toekoms te
beplan.
– Prof. André Wessels, senior professor, departement geskiedenis,
Universiteit van die Vrystaat
- Volksblad