Pres. Tweede Prys?
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
‘Ja, ons kan!” Met dié drie klein woorde het Barack Obama vier jaar gelede ’n reusegolf van politieke steun ontketen wat hom tot binne in die Withuis gespoel het. Daarmee het hy as suksesvolle Demokratiese presidentskandidaat ’n einde gemaak aan die omstrede heerskappy van pres. George W. Bush se Republikeine. Dit was ’n moderne Amerikaanse sprokiesverhaal: Die seun van ’n bokwagter van Kenia wat die eerste swart president van die magtigste Westerse land geword het.
Hy het Amerikaners begeester deur vir hulle die Amerikaanse droom te skilder soos net ’n ware nierassige kandidaat, die seun van ’n immigrant, dit kon doen. Saam kan ons die wonde in ons samelewing genees en ’n beter toekoms vir almal skep, was sy wekroep. En Amerika – moeg vir die bitter verdeling van die Bush-era, gewalg deur die sinlose oorlog in Irak en leeg gesuig deur gierige bankiers – het geantwoord: Ja, ons kan!
Maar dit was 2008.
Amerikaners gaan vanjaar weer stembus toe om ’n president te kies. Onlangse meningspeilings wys Obama se ster het aansienlik verdof. Die Amerikaanse ekonomie sukkel, en besielende toesprake sit nie brood op die tafel nie.
Konserwatiewe Amerikaners mor oor sy nuwe belastingbeleid, en die liberales kla daar het min gekom van die progressiewe veranderinge wat hy belowe het.
Obama het sy “ja, ons kan”-mantra begin herhaal. Die Republikeine se nuwe strydkreet is: “Stop Obama.”
Maar ondanks Obama se kwynende gewildheid gaan dit vir die Republikeine moeilik wees om hom uit die Withuis te skop. Want ’n ou politieke waarheid lui dit is nie hoe goed die ou in die Withuis is nie, maar hoe goed sy uitdagers is. En alles dui daarop dat selfs konserwatiewe kiesers nie opgewonde is oor die vier manne wat met mekaar meeding om as die Republikeinse presidentskandidaat benoem te word nie.
Om te verstaan hoekom die Republikeinse Party so sukkel om ’n nuwe Moses te vind om hulle uit die politieke woestyn te lei, moet ’n mens weer die horlosie na 2008 terugdraai. Obama het sy opponent, die oorlogsheld sen. John McCain, die grootste loesing gegee wat enige konserwatiewe presidentskandidaat in 40 jaar gekry het. Die gevolg was ’n identiteitskrisis wat soos ’n kanker aan die hart van die Republikeinse Party knaag.
Dat die party wedergebore moes word, was duidelik. Maar in watter gedaante? Bush en sy kliek het in 2004 hul tweede termyn in die Withuis beklink deur die steun van regse, fundamentalistiese Christene te koop met beloftes om nie gay-huwelike en aborsies te wettig nie. En deur op Amerikaners se durende vrese oor ’n tweede 9/11 te teer.
Dié taktiek het nie gewerk vir McCain en sy verkiesingsmaat, die aanvallige veghond Sarah “Pitbull” Palin, nie. Die regse Christene het nie hul beloofde pond vleis van Bush gekry nie en het McCain, ’n gematigde, boonop nie vertrou nie. En Amerika se groeiende afkeer van die bloedige oorlog in Irak het selfs hul vrese vir Islamitiese terreur begin oorskadu.
Hier’s die ander tameletjie van die Amerikaanse politiek: Die feit dat daar net twee dominerende partye is, maak sake eintlik ingewikkelder. Want binne elk van dié partye is reaksionêres, konserwatiewes, gematigdes, progressiewes, ekstremiste...
En daar is polities min verskil tussen ’n progressiewe Republikein en ’n konserwatiewe Demokraat.
Die heilige graal van die Amerikaanse presidentsverkiesing is die middelgrond. Want die lawaaimakers wat die vlaggies swaai, is die aktiviste, die klein minderheid binne elke party. Die gesogte middelgrond word deur die stille meerderheid bewoon, ’n meerderheid wat dikwels sinies en apaties oor die Amerikaanse politieke proses is.
Obama kon in 2004 die middelgrond wen en apatiese kiesers by die stembus kry. As die Republikeine wil keer dat Obama nog vier jaar lank in die Withuis woon, moet ook hulle die middelgrond wen. En in 2012 sal dié middelgrond nie geswaai word deur skuimbek-tirades teen aborsies en gay-huwelike nie.
Die afgelope maand is die Republikeinse benoemingsirkus in volle gang. Obama is as dienende president die outomatiese Demokratiese kandidaat vir die verkiesing op 6 November. Dit is dus die Republikeinse hoopvolles wat die land deurkruis om babas te soen, oorlogskandidate se hande te skud en pannekoeke te bak om na stemme te vry.
Terwyl die kandidate hul geoefende passies op die verhoog uithaal, onderhandel hul sterkmanne agter die skerms om die steun van senators en goewerneurs en ryk sakelui te kry. Veral ryk sakelui, want ’n geldkoffer so groot soos ’n klein Afrikaland se begroting is nodig om genoeg media-blootstelling te koop.
Die benoemingsproses draai om die koukusse en voorverkiesings wat in elke Amerikaanse deelstaat gehou word. Die kandidate val die een deelstaat ná die ander binne om steun te werf met openbare optredes, televisiedebatte, advertensies en elektroniese werwing.
Voorverkiesings werk basies soos enige gewone verkiesing: Die kiesers van die staat bring ’n geheime stem vir die kandidaat van hul keuse uit. Koukusse is ietwat ongewoner: Aktiviste en partyverteenwoordigers kom in skoolsale of selfs privaat huise bymekaar en redeneer oor wie die beste kandidaat is. Dan word daar gestem, of soms gaan staan mense net in verskillende hoeke van ’n vertrek om te wys wie hulle steun.
Die bekendste koukus in die land is in Iowa (3 Januarie) en die bekendste voorverkiesing in New Hampshire (10 Januarie). Nie omdat hierdie twee deelstate altyd reg kies nie, maar omdat dit vroeg in die wedloop aan kandidate ’n sielkundige voorsprong kan gee. Ook verlede Saterdag se voorverkiesing in Suid-Carolina was belangrik, omdat dit die kandidate se eerste toets in ’n konserwatiewe suidelike staat was.
Hoe lyk die Republikeinse span ná Iowa, New Hampshire en Suid-Carolina? Saai. In koerantberigte en politieke meningspeilings is dit duidelik dat konserwatiewe kiesers kopkrap oor wie om te steun. Hulle kla hulle vind nie een van die kandidate juis oortuigend nie.
Want kiesers met meer as twee breinselle weet jy stem nie vir iemand net omdat sy skuimbek-retoriek jou geval nie; jy steun die kandidaat wat jy dink die middelgrond kan wen. Want só wen jy die Withuis. Daarom het die buiteperde soos Michelle Bachman, wat vurig teen gay-huwelike gekant is, asook Herman Cain, wat Irak weer wil binneval, sommer gou in die vullisdrom beland.
Hoe oninspirerend die Republikeinse spannetjie is, word bewys daardeur dat die eerste drie state in vanjaar se benoemingswedloop deur drie verskillende kandidate gewen is: Iowa deur Rick Santorum, New Hampshire deur Mitt Romney en Suid-Carolina deur Newt Gingrich. Iowa het ’n bietjie opwinding gebied toe Romney as wenner verklaar is, maar toe net-net deur Santorum geklop is nadat ’n dispuut verklaar is.
Van die drie word Romney, ’n Mormoon, en Gingrich as die voorlopers beskou. Santorum word nie werklik ’n kans gegun nie; die vierde kandidaat, Ron Paul, ook nie.
Wat is dan te kies tussen Romney en Gingrich? Bitter min. Albei se veldtogte is gebou op konvensionele konserwatiewe kwessies soos minder belasting; minder welsynsdienste; tradisionele gesinswaardes (’n manier om te sê jy is gekant teen gay-huwelike en aborsies sonder om dit hardop te sê); strenger immigrasiebeheer; en hierdie seisoen se buitelandse beleid-treffer, Iran. Niks wat apatiese kiesers uit hul politieke slaap gaan laat wakker skrik, of ekstremiste gaan oprui nie.
Oor dan na die plan B van enige verkiesingsveldtog: rugstekery en swartsmeerdery. Hier was dit Gingrich wat deurgeloop het toe sy gewese (tweede) vrou, Marianne, op die televisie onthul het dat hy haar voor die keuse van ’n ope huwelik of ’n egskeiding gestel het toe sy buite-egtelike verhouding met Callista Bisek op die lappe gekom het.
“Hy wou hê ek moet eenvoudig die skelmpie verduur,” het Marianne gesê. Sy het geweier, en die skelmpie is nou Gingrich se derde vrou. Gingrich se opponente het gal gebraak: Hoe kan hy sê hy is ’n voorstander van tradisionele gesinswaardes en terselfdertyd ’n ope huwelik wil bedryf? Politieke ghoeroes het gedink dit gaan hom in Suid-Carolina laat verloor, maar dit het nie.
Die kiesers van Suid-Carolina was veel meer verontwaardig oor Romney, ’n suksesvolle sakeman en een van die rykste kandidate tot nog toe, wat nie aan Jan Taks sy volle deel gegee het nie. Kort ná Gingrich se oorwinningstoespraak verlede Saterdag het Romney onderneem om sake met die belastinggaarder reg te maak.
Die benoemingstrein stoom nou voort na Florida, ’n staat met baie stemme om te oes; ook ’n groot Spaanssprekende kieserskorps. Die kandidate sal op eiers loop as dit by immigrasiebeheer kom. Teen Junie sal die laaste voorverkiesings en koukusse afgehandel wees, waarna die Republikeinse kandidaat op die party se nasionale konvensie gesalf sal word.
En dan is dit helpers uit die kryt vir die groot boksgeveg teen die man in die Withuis.
Republikeinse kiesers stem klaarblyklik net oor een ding saam: Obama moet waai. Maar wie is die man wat hom sy goed gaan laat pak?
- Deon Lamprecht was vir drie jaar Media24 se verteenwoordiger in die VSA.


Mitt Romney (bo) en Newt Gingrich (onder) droom van die Withuis, maar pres. Barack Obama span gemaklik uit in die Oval Office.