‘Ons skryf soos ons chat’
2010-01-08 23:23
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Kort voor sy dood het die taalkundige Fritz Ponelis ’n stuk oor taalvermenging (“Die taal wat ons praat”, 19 Desember 2009) vir By geskryf.
Met sy kenmerkende rustigheid verduidelik hy hoe “demotiese” Afrikaans, dit wil sê die Engafrikaans wat deesdae so algemeen gepraat word, redelik onlangs ook tot ’n geskrewe taalvorm ontwikkel het.
Ponelis verwys onder meer na die demotiese inslag van Koos Kombuis en Jeanne Goosen se skryfwerk en vervolg: “’n Spoorslag vir die skryftalige ontwikkeling van demotiese Afrikaans was die verset teen apartheid en die verbinding tussen klassieke Afrikaans en hierdie ideologie.”
Apartheid is lankal verby en tog is daar steeds skrywers wat voortgaan om demotiese Afrikaans in hul tekste te gebruik.
’n Paar jaar gelede het ’n storm losgebars oor Jackie Nagtegaal se Engafrikaans in haar debuutroman Daar’s vis in die punch.
En in dieselfde uitgawe van By waarin Ponelis se artikel verskyn, is daar ook ’n gedig van Loftus Marais, “Studie met krismisboom en kat”, wat wemel van die Engelse woorde.
Marais se gedig begin soos volg:
die swart kat jessy (pragtig so dragtig)
is uitgestrek langs ’n krismisboom
van goedkoop plastiek:
oh nativity for the 21st century
eers dink jy niks kan méér verskil nie:
die kalm feit van ’n ronde kat
en die cross-dressing boom
se metafisika van kitsch
om gelyk te kyk na die ritme van die kat se asem
én die ritme van die elektriese liggies
is ’n visuele weergawe
van om “she sells sea shells on the sea shore” te sê
Marais se gedig is goed, selfs baie goed, maar hoekom vind hy dit nodig om in feitlik elke strofe na Engels oor te slaan?
Omdat ek al dikwels gesien het hoe behoudende literatore op hul neuse moes kyk oor kritiek op skrywers wat die grense van die taal en die literatuur probeer toets, wil ek nie toelaat dat my eie weersin in demotiese Afrikaans in die skryftaal hier my oordeel vertroebel nie.
Marais se Engelse woorde steek onmiddellik dwars in my taalpuristiese krop, maar die hoë gehalte van sy gedig dwing my om verder te dink.
Dra die Engafrikaans in die gedig nie dalk by tot die geslaagdheid van “Studie met krismisboom en kat” nie?
Dit is immers bekend dat vernuwing in die literatuur dikwels tot stand kom wanneer elemente uit die populêre kultuur opgediep word om sodoende ’n vars en uitdagende uitwerking te bewerkstellig.
Dit is moontlik dat die Engelse woorde aan die meeste poësielesers wat daagliks voel dat hulle in hul spore moet trap om suiwer Afrikaans te gebruik, ’n gevoel van bevryding gee.
Die bevrydende uitspraak van die destydse Genootskap vir Regte Afrikaners, “Ons skryf soos ons praat,” klink nou so: “Ons skryf soos ons chat.”
Die demotiese Afrikaans in die gedig sluit verder aan by Marais se ironiserende blik op die Kersgegewe met die vervlakking wat die eietydse postmoderne tydvak kenmerk.
Met verwysing na die maagdelike Maria se vlekkelose ontvangenis sê hy oor die dragtige kat wat “vain en versadig” by die Kersboom lê: “ja daai conception was alles behalwe immaculate”. Boonop is die Kersboom van plastiek n flashing arrow / wat histeries wys na niks”.
Die kat en die Kersboom se alledaagse aanwesigheid is net te sterk en hul sintuiglike materialiteit wil maar net nie toegang bied tot ’n dieper godsdienstige boodskap om die betekenisvolheid van die Kersverhaal op te roep nie.
Die besoedelde Afrikaans van die gedig illustreer verder die spreker se onvermoë om sin te vind in die kunsmatige Kersboom en die dragtige kat wat lyk soos ’n parodie van Maria se heilige swangerskap.
Die onsuiwerheid en banaliteit van die alledaagse lewe soos voorgestel deur die plastiek “hemelboom en heksekat” vind dus ’n teenhanger in die demotiese taal, wat net so onsuiwer en banaal is.
Marais se klaarblyklik funksionele gebruik van Engafrikaans in “Studie met krismisboom en kat” ruim egter nie my aanvanklike ongemak heeltemal uit die weg nie.
Ponelis se waarskuwing oor sorgvrye pogings om klassieke Afrikaans met demotiese Afrikaans te vervang, dra vir my steeds gewig: “Origens is dit hoogs twyfelagtig of ’n variëteit soos demotiese Afrikaans wat so ingrypend deur Engels beïnvloed word, hom op sy eie teen Engels sal kan handhaaf.
“Die invloed bring demotiese Afrikaans so ná aan Engels dat met die volste reg gevra kan word of dit enige sin sal hê om hierdie variëteit op sy eie naas Engels te hê.”
Digters en skrywers wat al om die hawerklap na demotiese Afrikaans oorslaan en nalaat om eers die volle register van klassieke Afrikaans te benut, verswak uiteindelik die taal.
Daar rus ’n verantwoordelikheid op talentvolle en bekroonde digters soos Loftus Marais om hul woorde versigtig te weeg.
Skrywers neem die voortou om die taal te ontwikkel en die res van die taalgemeenskap volg graag in hul voetspore.