Om te sterf vir jou Kiez

2012-01-27 22:22

In Duitsland staan WG vir Wohngemeinschaft (woongemeenskap). Dit verwys na ’n gemeenskaplike woning waar studente, kunstenaars en intellektuele in vrede en in Schmutz (Duits vir vullis) met mekaar saamleef.

Dié WG’s is volop in Berlyn en bied ’n vorm van alternatiewe behuising vir jong mense wat op soek is na ’n leefstyl buite die hoofstroom. ’n Kamer in só ’n WG word taamlik moeilik bekom, waarskynlik omdat dit, ironies genoeg, meer hoofstroom as alternatief geword het. Daar is webblaaie waar mense kan soek na WG’s in verskillende buurte. Onderhoude en selfs scouting-partytjies word gehou om die regte Mitbewohner vir ’n oop kamer te vind.

Dit is eerstens belangrik om te bepaal in watter Kiez (Berlyns vir woonbuurt) jy wil bly. Ná die val van die Berlynse Muur in 1989 was dit Prenzlauerberg. Deesdae is dit Friedrichshain, Kreuzberg of Neukölln waar die boheme, die anargiste en die studente teen taamlik billike huur saambly. En dis hier waar jy wíl bly, want dis hier waar dinge gebeur, waar kroeë en alternatiewe winkels is, waar jy tweedehandse skatte kan vind, jou nagte kan omdans, waar jy ondergrondse flieks in klein Kinos aan die agterkant van kroeë kan sien en daarna aan die regisseur vrae kan stel.

Dis in hierdie woonbuurte waar die gees en karakter van Berlyn gevind word, en dit is dié deel van die stad wat die hoofstad onderskei van ander Duitse stede wat ná die Tweede Wêreldoorlog in vervelige kommersiële hubs verander het.

Berlyn is bekend as Mieterstadt. Mieter is Duits vir ’n huurder, en in Berlyn is die regte van huurders belangrik. Huur is bekostigbaar, en in vergelyking met ander stede is dit hier nie maklik om ’n huurder uit te skop nie. Om huurders uit te skop omdat die eienaar van ’n gebou dit wil opknap en in duurder woonstelle wil omskep, is iets wat in Berlyn met opstand begroet word. ’n Onlangse voorbeeld hiervan is wat gebeur het by Liebigstraße 14, ’n behuisingsprojek waar die Berlynse polisie in Februarie 2011 ingegryp het om die bewoners met geweld te verwyder.

Liebigstraße 14 is een van die Mieterstadt se laaste woonstelgeboue wat kort ná die val van die muur omskep is in ’n formele plakkersblok, oftewel besetztes Haus (besette huis). Die Berlynse behuisingsraad het in 1992 besit van die gebou geneem en die destydse plakkers gevra om ’n huurkontrak te onderteken waarvolgens hulle die geregtelike huurders geword het. Die huis is later verkoop aan privaat ontwikkelaars wat die bewoners meegedeel het hulle moet trek omdat die eienaars die woonstelle wil opknap. Dit was nie so maklik nie. Die uitsetting het jare geduur en op ’n hofsaak afgestuur, waarna die verloorders (die bewoners) steeds geweier het om uit te trek.

Op 2 Februarie is meer as 2 500 polisielede ingespan om die 25 bewoners uit die gebou te verwyder – dus meer as 100 polisielede per bewoner. Meer as 1 000 betogers het op dieselfde dag buite die gebou vergader om hul misnoeë te wys oor die proses van gentrifikasie wat volgens baie mense die karakter van Berlyn verander. Vensters is gebreek, betogers het in ’n stryd met die polisie gewikkel geraak, die afdelingswinkel KaDeWe is met verf bestook, en die stadsaal in die distrik Schöneberg (waar J.F. Kennedy in 1963 sy “Ich bin ein Berliner”-toespraak gelewer het) is gevandaliseer. En so het Liebig 14 ’n simbool van anti-gentrifikasie in Berlyn geword.

Ek lei die woord gentrifikasie af van die Engelse gentrification, die Duitse Gentrifizierung en die Nederlandse gentrificatie. Dit is afgelei van die woord gentry, wat verwys na die mense van die deftige stand. Die afleiding is in die jare sestig deur Ruth Glass geskep en beskryf die proses waarin ’n woonbuurt wat vir die werkersklas geskep is, geleidelik omskep word in een vir die middelklas. Armoedige, verrinneweerde huise word omskep in elegante, duur wonings wat die sosiale status en markwaarde van die buurt, en mettertyd ook sy karakter, verander.

In hul boek Gentrification in a Global Context (2005) beskou Roland Atkinson en Gary Ridge gentrifikasie as ’n nuwe vorm van stedelike kolonialisme waarin die kultuur en karakter van ’n buurt deur ’n welgestelder kultuur oorgeneem word.

’n Tipiese voorbeeld van ’n Berlynse buurt wat aan gentrifikasie oorgelewer is, is Prenzlauerberg. Ná die val van die muur het dié Oos-Berlynse buurt ’n middelpunt van boheemse Berlyners geword. Dit is oorspronklik vir die werkersklas gebou, en die meeste van die geboue was ná die Tweede Wêreldoorlog meestal of gedeeltelik staande. Nadat dié buurt by die Duitse Demokratiese Republiek ingesluit is, is oop huise en leë ruimtes deur kunstenaars, intellektuele en studente ingeneem. Geleidelik het eiendomsontwikkelaars Prenzlauerberg se potensiaal raakgesien, en dit is omskep in ’n buurt vol modieuse woonstelgeboue met huurtariewe wat die oorspronklike inwoners nie kon bekostig nie.

Vandag is Prenzlauerberg vol jong gesinne en jappies – iets wat die Berlyners van Fried­richs­hain, Kreuzberg en Neukölln verag. Tog getuig dit van ’n proses wat onvermydelik ook na dié buurte beweeg.

In Berlyn word voortdurend gepraat oor die huur wat hier of daar opgaan, en die effek wat dit op hierdie of daardie buurt sal hê. Daar word gereeld bespiegel oor watter Kiez ná Fried­richs­hain cool sal word.

Dit is ironies genoeg juis die “alternatiewes” wat die gentrifikasie begin, omdat hulle bepaal wat “in” is. Waar hulle gaan, volg die jappies en trend-soekers.

Hoewel die “alternatiewes” gentrifikasie, jappies en materialisme verag, kry ek dikwels die gevoel dat in Berlyn gesóék word na ’n rede vir misnoeë en sinisme, opstand en revolusie. Dat optogte sonder werklike rede gebeur. Dat die idee van revolusie belangriker is as die rede waarom dit gevoer word.

Die jaarlikse F**k Parade is ’n goeie voorbeeld hiervan. Dié Berlynse techno-optog is in 1997 begin uit protes teen die kommersiële gebruik en verspreiding van kultuur. Dit was veral ’n teenreaksie op die Love Parade, die elektroniese musiekfees wat vir die eerste keer in 1989, enkele maande voor die val van die muur, in Wes-Berlyn gehou is.

Die Love Parade was aanvanklik ’n politieke vredesoptog, maar het in ’n kommersiële musiekfees sonder politieke doel verander. Meer as ’n miljoen mense het die fees tussen 1997 en 2000 jaarliks bygewoon. En toe, in Januarie 2010, het ’n stormloop tydens die fees die dood van 21 mense beteken. Sedertdien is dit nog nie weer gehou nie.

Die mees onlangse F**k Parade het herinner aan die oorspronklike Love Parade voordat dit kommersieel geword het. Meer as 20 trokke het alarm in die strate veroorsaak met techno en ander elektroniese musiek wat daaruit blêr, en oral was slagspreuke soos “Vryruimtes behou, subkultuur bevorder” wat anti-gentrifikasie steun.

Die polisie was gespanne: ná verlede jaar se onluste in Londen weet hulle jong mense kan vinnig ’n vlam by die lont bring.

Behalwe dat ’n trekker aan die brand gesteek is, het die parade taamlik vredig afgeloop. Dit was toe maar net nóg ’n manier waarmee Duitse jong mense teen die hoofstroom reageer.

Maar bied feeste soos die F**k Parade nie maar net nog ’n verskoning om partytjie te hou nie? Het jong mense in Berlyn werklik rede om in opstand te kom?

Sedert die optog verlede Februarie by Liebigstraße 14 het protes in verskeie vorme oor die wêreld gespoel, en die vele vertakkings van die Occupy Wall Street-beweging het ’n gesig gegee aan dié wat gekant is teen materialisme, kommersiële misbruik en die onderstrominge van die kapitalisme.

Dalk soek Generasie X nog ’n werklike rede vir opstand en protes, en is daar nie altyd ’n gemene deler wanneer jong mense die vuis lig nie. Maar intussen gee plekke soos Liebigstraße 14 ook vir ons iets om voor te veg.


Net nog ’n gebou? Toe nie. Meer as 1 000 mense het betoog toe dié gebou se dae getel is. Foto’s: Stefan Arno Möhl


 

binne volksblad

Weer
Lotto
Ksd: 13-19°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 15-25°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

WebSphere Specialist

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R500000 - R600000

iPhone Applications Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R450000 - R520000

CRM developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R300000 - R400000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Yaris 1.3 T3 Plus 5-dr
2007
R 109,995.00

FORD

Focus 1.6 Ambiente MY05
2007
R 129,995.00

TOYOTA

Quantum 2.7 14-s Bus
2007
R 224,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.