Herinneringe wat ’n stad nie kan afskud nie

2012-01-27 22:22

Herman Charles Bosman.

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Ek en Tim Sandham is al van vroeg vanoggend op Herman Charles Bosman se spoor in Johannesburg se middestad. Al is Bosman se naam sinoniem met die Marico-distrik en karakters soos oom Schalk Lourens van die Bosveld, het hy die grootste deel van sy lewe in die Goudstad gewoon, gewerk en geskryf. “En hy is hier dood en begrawe,” sê Tim, saam met Craig MacKenzie die skrywer van A Bosman Companion – From Abjaterskop to Zwingli, wat onlangs hier verskyn het.

Ons staan in Bosman se alma mater, die Hoërskool Jeppe in Kensington, in die einste vertrek waaroor Bosman geskryf het in sy essay “Jeppe High Revisited”. Die nuwe skooljaar het pas begin, en die skool se gange is die ene rumoer. ’n Ouerpaar sit in die voorportaal om ’n kind te kom inskryf; elders klink vrolike kinderstemme uit ’n klas- kamer.

Volgens die skool se prospektus is dit een van Suid-Afrika se top-twintig seunskole, en dié sukses berus op die waardes wat hier by seuns ingeprent word: lojaliteit, eerbaarheid, die hegtheid van vriendskappe.

Bosman sou dalk nie hiermee saamgestem het nie. In “Jeppe High Revisited” skryf hy hy was een Sondagmiddag in 1946 in die omgewing toe hy op die ingewing van die oomblik besluit het om te kom kyk hoe sy skool 25 jaar ná sy matriekjaar lyk.

“The inner door of the classroom was unlocked,” verduidelik hy in die essay hoe hy toegang tot die skoolgebou verkry het. “I strolled through into the hall. There were the same cups and shields and heads of various species of South African antelope – Eland, Tsessebe, Impala, Oribi and so on. And portraits of past principals. And photographs of cricket and soccer teams. And I ambled about the hall feeling very inferior. For I knew that among al those hundreds of framed photographs you would not find my likeness anywhere; I would not appear in any one of those distinguished groups in cricket flannels or football jerseys. You could spend all day searching for me along those thousands of faces of past students and you would look in vain.”

Dan vervolg hy: “In Jeppe High School’s oak-panelled hall I realised, then, to what extent I was, and am, an outcast.”

En dan: “There was a kindliness about the memories that the past awakened, and when I climbed out through the broken window of the Form 111 classroom again, and I stood once more on the stoep of my old school, a sweet sadness pervaded my spirit. And then I remembered, again, that my photograph was not preserved in that hall. And so it was in mild resentment that I muttered to myself, ‘To think of all the years I wasted in this hobo joint.’”

Vandag is dinge anders. ’n Geraamde skildery van Bosman, sy hoed kenmerkend skuins op die kop, pryk nou teen ’n muur in een van die portale. Dit was juis Tim wat dié portret aan die skool geskenk het. “Jy kan maar sê Bosman is my passie,” sê hy.

Tim glo Bosman was een van Suid-Afrika se beste skrywers en storievertellers en sê die boek wat hy en Craig saamgestel het, is juis gemik op lesers wat vertroud is met Bosman se lewe en werk. “Jy kan jou vinger maklik lê op inligting oor sy kinderdae, sy studie, die moord op sy stiefbroer, sy tyd in die dodesel, sy familie, sy gesin en vriende en sy werk as joernalis en skrywer.” Dis sowel hand- leiding as woordelys, biblio- grafie as biografie.

Dit reën toe ons by die skoolgebou uitstap. Die lug is grou, maar dis warm; drukkend. Dis presies ’n dag soos die een wat Bosman beskryf het in sy essay “Notes on the Good Earth”.

Vroeër vanoggend was ons by Gandhi-plein, die eertydse Van der Bijl-plein, in die middestad, en ons gewaarwordings kon net sowel reguit uit Bosman se essay kom: “Drab Johannesburg on a drab foggy morning at the wrong end of Harrison Street, fisheries, butcher shops, dead fish gaping with glazed eyes in the face of every passer-by repeating to him the sad senseless total of his life.”

Die essay vervolg: “People hurrying, scurrying by, faces colourless [...] drab people, fish shops and the glazed look in the eyes of dead fish.

“And suddenly a miracle happens, a new light and colour comes to every eye. Blazes of colour reflect from the silvery grey scales of fishes, from the dusty windows and the dirty wet pavements. Down the street a hindu in a red fez comes striding along after his cart which is laden with fresh veld flowers.”

Ook op Gandhi-plein word Bosman deesdae onthou. ’n Reuse-foto van hom is teen een van die geboue gemonteer, en verbygangers kan dit beswaarlik miskyk. Op die foto verskyn Bosman – geklee in ’n pak en gestreepte das en met sy hoed skuins op die kop – met ’n sigaret in die hand en bekommerde trek op sy gesig. Die foto is geneem waar hy iewers in die stad stap, en volgens die woorde wat daaronder pryk, het Bosman in die jare veertig ’n kantoor in die “High Court Building” gehad.

In die inleiding tot sy boek Bosman’s Johannesburg skryf Stephen Gray Bosman het oor ’n tydperk van 20 jaar sowat 100 artikels en essays geskryf waarin elke nuanse van die Johannesburg van sy tyd vasgevang is. Bosman het sy waarnemings gebruik as onderbou vir baie van sy stories, asook as stof vir sy gevatte koerantrubrieke soos “Talk of the Town” en “Pavement Patter”. Op ’n manier lees sy skrywes soos aantekeninge uit ’n notaboek oor die Johannesburg van sy tyd.

Maar Bosman was meer as net ’n optekenaar, sê Gray. Hy het die migrasie van mense van die plaas na die stad beskryf, en in dié stories verteenwoordig Johannesburg hoop en welvaart, maar ook die dreigende plek wat immigrante gekou en uitgespoeg het.

In teenstelling hiermee was sy stories oor Groot Marico en die Bosveld en die mense wat dié meer aardse wêreld bevolk het. In sy 1945-essay “Rebuilding Europe’s Cities” het Bosman juis vertel hy begin dink aan ’n storie wat hy eendag wil skryf wanneer hy meer tyd het. (Hy het toe baie kortverhale, rubrieke en artikels vir die geelpers uitgeryg en moes heeltyd spertye haal.)

Die storie wat hy beplan, het Bosman geskryf, sal gaan oor die stedelinge wat in Johannesburg woon en die plattelanders wat in die Marico-bosveld woon.

“These two sets of people, those who live in city flats and those who live on the farm, don’t know each other. They never meet. But life does exactly the same things to each of them. Life is like that.

“And the story ends with the heroine of this little group of people in the city, smashed into pieces by the things life has done to her, declaring that she can’t stand it any longer: she’s got to get away, somewhere. And the girl on the farm, to whom exactly the same things have happened, says this has been too terrible. She’s going to Johannesburg. What she wants is life.”

Die verskil tussen die stad en die platteland of die plaas, het Bosman geskryf, is eenvoudig: “The city has gutters.”

Wanneer jy jou vandag in Johannesburg se besige middestad bevind, wonder jy wat Bosman in dié roesemoes van mense sou raaksien. Watter stories sou hy ontgin uit Pol­ly­straat, waar deesdae byna net immigrante woon?

Bosman het hom dikwels uitgespreek oor die verval van die stad, die sloping van geboue en selfs oor die verdwyning van ou mynhope. Dit alles het die stad se karakter bepaal, het hy geglo.

Toe hy verneem het die Standard-teater gaan gesloop word, het hy op sy kenmerkend snydende manier in ’n koerantrubriek geskryf hy het te laat van die stadsraad se plan gehoor. Maar as iemand hom daarvan vertel het terwyl die storm oor die sluiting van die teater nog gewoed het, sou hy vir hulle gesê het:

“No, the Historical Monuments Commission will not place a blue plaque on the Standard. They will pull down the Standard Theatre like they have pulled down all the old buildings, theatres, gin-palaces, dosshouses, temples, shops, arcades, cafes and joints that were intimately associated with the mining-camp days of Johannesburg. Because I know Johannesburg. And I am satisfied that there is no other city in the world that is so anxious to shake off the memories of its early origins.”

Maar vandag is blou gedenkplate aangebring teen die geboue waar Bosman gewoon en gewerk het. Herinneringe word nie meer skaamteloos afgeskud nie. ’n Blou plaatjie merk die woonstel by nr. 88 in Pollystraat waar Bosman en sy tweede vrou, Ellaleen Manson, ’n ruk lank gewoon het.

Daar is ook een op die muur van ’n voorstedelike huis in Bellevue-Oos wat beter dae geken het, Isipingo-straat 19. Dié huis, op die kruin van ’n hoë randjie, is met Vi­bra­crete-mure en lemmetjiesdraad omring. Dit is die huis waarin Bosman sy stiefbroer doodgeskiet het.

Daar is vandag niemand tuis nie, maar deur die gate in die staalhek kry ’n mens ’n blik op die stoep en die kaal werf. Toe Bosman se ma, Elisa, haar seuns, Herman en Pierre, gebring het om hier by haar tweede man, William Russel, en sy kinders te kom woon, was hier ’n tuin en vrugtebome.

Ondanks dié mooi en vredige uitsig was daar onmin en wrywing tussen die egpaar en hul gesin. Bosman, toe reeds ’n onderwyser in die Marico, en sy stiefbroer, David, moes ’n kamer deel wanneer albei aan huis van hul ouers was, en ook daar het die onderliggende spanning toegeneem.

Dit het uiteindelik breekpunt bereik: In die skoolvakansie van 1926 het Bosman, toe 21, sy stiefbroer, toe 23, in die vroeë oggendure in hul kamer met ’n jaggeweer doodgeskiet. Dié geweer, het hy later vertel, het hy van die Marico na Johannesburg gebring toe hy by sy ma kom kuier het. Bosman was toe enkele maande met sy eerste vrou, Vera Sawyer, getroud.

Hy is op die ouderdom van 21 jaar ter dood veroordeel en in die dodeselle van die Pretoria-Sentraal-gevangenis opgesluit.

Ná ’n paar jaar tronkstraf is sy vonnis versag tot tien jaar harde arbeid, en hy het uiteindelik net die helfte hiervan uitgedien.

Bosman se spore lê die hele Johannesburg vol. Ons was vroeër vanoggend by Gracestraat 14 in Jeppestown waar die Bosman-gesin die eerste keer in Johannesburg kom woon het nadat hulle van Kuilsrivier in die Kaap hierheen verhuis het.

Die ligging van sy kinderhuis is bekend, maar dit is haas onmoontlik om die huis op te spoor, want ’n laekoste- behuisingskema is intussen daar opgerig.

Ons was ook op die trap van die Johannesburgse stadsaal waar Bosman as hoërskoolseun gaan luister het na die opruiende toesprake – en vuisgevegte – van die mynwerkers tydens die arbeidsonrus van die jare twintig.

Bosman het juis vertel hy het baie op die trap van die stadsaal geleer. Waar baie mans hul kennis op universiteit leer, kry ander hul opvoeding op die trap van die stadsaal, het hy blykbaar aan ’n vriend gesê.

Tim het my ook geneem na die Johannesburgse stadsbib­lioteek waar Bosman ure deurgebring het, eers as skoolseun en later as onderwysstudent aan die Universiteit van die Witwatersrand. Dit was ook hier waar hy Ellaleen Manson, ’n bibliotekaresse en sy tweede vrou, ontmoet het.

Bosman is later van Ellaleen geskei en toe met Helena Stegman getroud. Hulle het in ’n huis in Miltonstraat in Lombardy-Oos gewoon, en Bosman het dié huis “Paradise Regained” genoem.

Tim het ’n dowwe swart-en-wit foto van die huis saamgebring, maar wanneer ons die straat besoek, kan ons die huis nie uitken nie.

Dit was by dié huis waar Bosman een aand ná ’n partytjie begin kla het sy bors pyn. Hy is na die Edenvale-hospitaal gebring, en daar ondersoek en ontslaan. Terug by die huis het hy inmekaargesak. Helena het weer met haar man hospitaal toe gejaag, maar hy het op pad soontoe gesterf.

Bosman is begrawe onder groot plataanbome in die Wespark-begraafplaas teenaan Beyers Naudé-rylaan. Die graf van die akteur Patrick Mynhardt is langsaan op linkerhand – Mynhardt was teen die einde van sy loopbaan veral bekend vir sy vertolkings van Bosman se karakter oom Schalk Lourens.

Daar is ’n eenvoudige steen op Bosman se graf, ’n granietnaald waarop staan: “Die Skrywer, The Writer. Herman Charles Bosman. 5-2-1905 – 14-10-1951.”

Iemand het ’n blomhouer van graniet op sy graf geplaas.

Dit was seker ’n poetsbakker wat dit gedoen het – iemand nes Bosman, sê Tim. Hy moet dit van een van die ander grafte gaan haal en na Bosman s’n verskuif het, want daarop staan: “Liefling, ek sal u nooit vergeet nie.”


Toe Bosman sy alma mater, Hoërskool Jeppe, besoek het, was hy ontsteld omdat daar geen afbeelding van hom was nie. Dis intussen reggestel.


Die High Court-gebou waar Bosman in die 1940's 'n kantoor gehad het.


Hy het oomblikke soos dié gevang.


Bosman het sy stiefbroer in dié huis, Isipingostraat 19, doodgeskiet.


Bosman het graag gekuier in dié hotelkroeë in Fordsburg.


Sy oom het hom as kind vertel dat dié beelde een keer elke vyf jaar van hul voetstukke afklim om die blaas te gaan leeg maak.


Bosman en Patrick Mynhardt se grafte in die Wespark-begraafplaas.


binne volksblad

Weer
Lotto
Ksd: 13-19°C High level clouds. Mild. Pta: 7-21°C Sunny. Refreshingly cool.
Jhb: 4-18°C Sunny. Cool. Bfn: 3-20°C Sunny. Refreshingly cool.
Dbn: 15-25°C Sunny. Mild. PE: 14-26°C Sunny. Warm.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

ERP Developer

JHB - Southern Suburbs
Communicate Bruma IT Delivery
R200000 - R240000

VB.NET Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R320000 - R420000

WCF Developer

JHB - Central
Communicate Bruma IT Delivery
R350000 - R450000

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

TOYOTA

Yaris 1.3 T3 Plus 5-dr
2007
R 109,995.00

FORD

Focus 1.6 Ambiente MY05
2007
R 129,995.00

TOYOTA

Quantum 2.7 14-s Bus
2007
R 224,990.00

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Chobe Marina Lodge

Spend 2 nights on the banks of the banks of the Chobe river at Chobe Marina Lodge from R6717 per person sharing. Includes return flights, taxes, transfers and accommodation. Book now!

Kalahari.com - doen vandag jou inkopies aanlyn

Diablo 3 nou beskikbaar

Die langverwagte Diablo 3 is nou beskikbaar vir R449,95. Koop dit nou.

Wintertreffers

Nuwe reekse pas ontvang. Verdryf die winterkoue met Downtown Abbey, One Tree Hill & nog veel meer. Koop dit nou.

Nuwe musiek-DVD’s

Kyk na al jou gunstelingmusiek op DVD. Koop dit nou.

The Sins of the Father

Bestel jou kopie van die #1 topverkoperskrywer Jeffrey Archer. Nou slegs R186,95. Koop dit nou.

Avengers nou beskikbaar

Marvel Avengers-aksiekarakters nou beskikbaar vanaf R189,95. Koop dit nou.

Aanbod van die week

PS3 speletjies vanaf R149.95

Plus PS2 en PSP speletjies vanaf R99.95. Slegs terwyl voorraad hou. Koop nou.

Besoek www.kalahari.com vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
Daar is vars stories op ons tuisblad. Kliek hier om hulle te lees.