‘Ek het wat ek wou hê’
2012-01-27 22:22
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Wat doen jy op Saterdae?
Ek probeer solank as moontlik in die bed lê. Dis nou wanneer ek nie afsprake het nie.
Hoe lyk jou gemoedstoestand vandag?
Rustig.
Wat behels aardse geluk?
Om rustig en tevrede te wees.
Wat is die diepste put van ellende?
Die dood van ’n geliefde.
Waar woon jy, en waar sou jy eerder wou woon?
Ek woon in Pretoria en ek is baie gelukkig hier, maar ek sal ook gelukkig wees met ’n woonplek in die Bosveld.
Wat is jou grootste tekortkominge?
Ek is rusteloos.
Met watter tekortkominge in ander kan jy saamleef?
Eintlik niks.
Wat kan jy nie verduur nie?
Vervelige mense of enigiets wat my verveel.
En wie kan jy nie verduur nie?
Dít is my geheim.
Wat is vir jou snaaks?
Baie dinge in die lewe, ook my kleinkinders wat baie snaakse goed kwytraak.
Wie is jou lewende helde?
Ek het nie eintlik lewende helde nie.
Wie is jou fiksiehelde?
Batman, ensovoorts.
Wie is jou gunsteling- historiese figure?
Napoleon, Bach, die tenoor Enrico Caruso en nog so ’n paar.
Wie of wat was jy in ’n vorige lewe?
Dit sou ek ook graag wil weet!
Wie is jou gunsteling-musikant of –komponis?
Bach bo almal, en ook Chopin. Daar is geweldig baie uitstekende musikante van wie ek hou. En nie net uitlanders nie – ons het ook fantastiese Suid- Afrikaanse musikante.
Wanneer en waar was jy op jou gelukkigste?
Om eerlik te wees, moet ek toegee: in Wene. (Mimi het Suid-Afrika in 1953 verlaat en tot in 1978 vir die Weense Staatsopera gesing. Sy is in 1996 vereer met die hoogste toekenning wat ’n kunstenaar van die Oostenrykse regering kan ontvang, die Österreichische Ehrenkreuz für Wissenschaft und Kunst. – Red.)
Watter oorsese stad sou jy graag nog wou besoek, en hoekom?
Om die eerlike waarheid te sê, ek was nou al oral in die wêreld. Die land wat ek laaste besoek het, was China. Ek was in Oktober verlede jaar vir die eerste keer daar.
Wie sou jy die graagste vir ete wou nooi?
Daar is te veel om een te kies.
Wat sou jy dan vir ete maak?
Dit hang af van die genooides. As dit oorsese vriende is, sal ek definitief bobotie of iets Suid-Afrikaans maak.
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n man?
Goeie maniere en intelligensie.
Watter eienskappe bewonder jy die meeste in ’n vrou?
Natuurlikheid en menslikheid.
Wat waardeer jy die meeste in vriende?
Hul vermoë om getrou te wees en jou vriendskap te waardeer.
Watter deugde beïndruk jou?
Opregtheid en die bereidwilligheid om te help en iemand in nood by te staan.
Waarmee verwyl jy die graagste jou tyd?
Met Duitse blokkiesraaisels.
Wat verveel jou?
Mense wat heeltyd net oor hulle kwale en siektes praat. En ook skinderbekke.
Wat is jou mees kenmerkende eienskap?
Dis eintlik iets wat iemand anders oor my moet antwoord, maar as ek nou móét antwoord: my ongeduldigheid, dink ek.
Wat is jou grootste vrees?
Om te verdrink. Dit moet vreeslik wees.
Waaroor is jy spyt?
Baie dinge, dit sal vervelig wees om alles op te noem.
Wie is jou gunsteling-digters, en wat is jou gunsteling-versreël?
N.P. van Wyk Louw, D.J. Opperman, Totius, Eitemal, en heel boaan die lys Boerneef. (Jy verstaan seker hoekom.) Een van my gunsteling-versreëltjies kom uit Van Wyk Louw se “Groot Ode”: “Lieflike dinge bly lieflik.”
Wie is jou gunsteling-skrywers?
Ek het nie eintlik meer gunsteling-skrywers nie. Ek is mal oor gedigte, en dít is wat ek regtig lees wanneer ek wil lees. Ek het eens op ’n tyd Edgar Wallace gelees, ook Athol Fugard, Stuart Cloete, Wilbur Smith, Breyten Breytenbach, en vele meer. En dan noem ek nog nie eens die Duitse skrywers wat ek gelees het nie, want toe ek eers daarmee begin het, kon ek nie ophou nie.
Wat is jou gunsteling-name?
Maria en Hendrik.
Wat is jou gunsteling-voël?
’n Pou.
Oor watter gawe sou jy die graagste wou beskik?
Nee wat, ek het wat ek graag sou wou hê.
Wat is jou grootste uitspattigheid?
Om sommer op enige plek met enigiemand te begin praat.
Wat is jou kosbaarste besitting?
My twee kinders en my twee kleinkinders.
Wie of wat is of was die liefde van jou lewe?
Daar is ’n paar mense.
Wat was jou heel grootste prestasie?
Toe ek my Kammersängerin-titel in 1966 in Wene gekry het.
Hoe sou jy eendag wou sterf?
In my slaap.
Wat dink jy gebeur ná die dood?
Ek en my geliefdes sal dan weer saam wees.
Op tagtig sowaar nóg ’n nuwe talent
Die internasionaal vereerde sopraan Mimi Coertse begin in Februarie met die verfilming van die eerste rolprent waarin sy ’n rol vertolk.
Die fliek Talent is gegrond op die verhaal van vier plaaslike kunstenaars wat ondanks hul moeilike omstandighede beroemd word. Mimi vertolk die rol van ’n sanger wat ’n straatveër met ’n wonderlike stem onder haar vlerk neem.
Mimi word vanjaar 80.


Bo en heelbo: Mimi Coertse was al in die sestigerjare ’n opera-ikoon.