Droomfabriek
2010-07-23 22:25
Soms is dit ’n goeie ding om ’n rolprent te gaan kyk sonder om vooraf te veel daarvan te weet.
Want dit is hoe ’n mens kan besef Christopher Nolan is die wêreld se mees geniale droomsmous, skryf Leon van Nierop.
Hy kon net sowel ’n rolprentster gewees het. Christopher Nolan, die geniale regisseur van Memento en The Dark Knight trek gewoonlik blou hemde en stylvolle baadjies aan wanneer hy regie doen, selfs in rowwe omstandighede.
Moenie ’n koelkoos Steven Spielberg verwag met ’n parmantige kepsie, losveter-tekkies en’n megafoon nie.
Hierdie sagsinnige droomsmous is bekend daarvoor dat drome hom betower en dat die meeste van sy rolprente om drome sentreer.
Inception word gesien as die belangrikste droomrolprent tot nog toe uit die droomfabriek, en word selfs in dieselfde asem as klassieke wetenskapfiksieflieks soos 2001: A Space Odyssey, The Matrix en Star Wars genoem.
Nolan erken ook hy is beslis deur hierdie rolprente beïnvloed.
Die groot lekkerte van Inception lê in die feit dat dit die eerste wetenskapfiksie met breinselle is wat nie sy geheime of storie oop en bloot op ’n skinkbord verkoop nie.
Jy moet bitter hard werk terwyl jy na die rolprent kyk. Hy spoel nie net oor die gemoed tussen springmieliewalms deur nie.
Jy moet alle sintuie inspan, jou brein in eerste rat plaas en elke visuele leidraad bestudeer en ontleed om uit die fantastiese storie sin te maak.
Die rolprent gee dus net soveel as wat die kyker bereid is om self te gee.
Nolan is al aangevat omdat hy so min inligting oor die aard van die droomstorie gegee het, maar hy ontken dit met sy tipiese sjarmante glimlag.
“Ek weet mense hou daarvan om alles van ’n rolprent te weet vóórdat hulle gaan kyk, maar dit is nie noodwendig ’n goeie ding nie. Ek het byvoorbeeld die draaiboek vir Pulp Fiction gelees voordat ek die rolprent gesien het, maar toe was die ervaring nie dieselfde nie.”
Hy suggereer dus dat rolprentgangers sekere elemente vir hulself moet ontdek en storie-elemente self moet uitpluis en onkant deur ’n fliek betrap moet word, eerder as om in die hamburger-sindroom te verval.
As ’n mens net hamburgers gevoer word, wil jy later net hamburgers eet.
En Nolan gee jou eksotiese elemente wat die wetenskapfiksie-genre herontwerp en na plekke neem waar hy nog nooit tevore was nie.
Hy swiep jou (en die karakters) letterlik van jou voete af.
Soos sy baanbrekersrolprente Memento en Following bevestig het, handel Nolan se rolprente oor die onderbewussyn.
Oor wat gebeur wanneer jy in jou eie onderbewussyn verdwaal en sin probeer maak uit wat daar aangaan en die geheime wat jy daar verberg.
Byvoorbeeld: Memento het sy storie agterstevoor-om vertel.
’n Man, gespeel deur Guy Pearce, het sy korttermyngeheue verloor en kon net stukkies verbrokkelde inligting uit sy drome bymekaarskraap.
Nolan was maar snoep met hierdie leidrade – dus het intelligente rolprentgangers genot daaruit geput om die visuele legkaart netjies inmekaar te pas om “sin” uit die Pearce-karakter se onderbewussyn te maak, maar hamburger-fliekkykers het gekla dat hulle nie kop of stert van Memento kon uitmaak nie.
“Niemand wou die rolprent aanvanklik maak nie en verskeie ateljees het die teks afgekeur,” onthou Nolan.
Die maatskappy wat die rolprent oorspronklik wou maak, moes dit dus ook uitreik.
Tog het dit R175 miljoen by die loket verdien, wat die weg gebaan het vir Batman Begins en die klassieke The Dark Knight.
En dit wil amper lyk of Nolan nou sy plek ingeneem het langs reuse soos Stanley Kubrick en Ridley Scott – visioenêre regisseurs wat nie net naboots nie, maar oorspronklike meesterstukke skep en rolprentgrense verskuif, wat kykers uitdaag om ’n rolprent weer vir die eerste keer as iets nuuts te ervaar in plaas van om bloot na bekende prentjies te sit en kyk.
Nolan erken dat die donker elemente van elke mens se droomwêreld ’n fassinerende bekoring vir hom inhou, vandaar die tema van Inception, waaraan hy saam met sy broer Jonah gewerk het.
Gerugte wil dit hê dat Nolan reeds tien jaar gelede met die storie begin het.
In hierdie drama slaag ’n groep visioenêre ondersoekbeamptes (hulle kan ook skurke wees) daarin om in mense se drome in te stap en dit te kaap en te ondersoek.
Hulle drome kan dan gemanipuleer word om inligting te versamel, wat natuurlik die laaste menslike grens verbysteek.
Want as daar een ding is wat absoluut privaat is en wat jou eie, persoonlike ervaring is, is dit jou drome.
Indien mense (die regering?) toegang tot daardie drome kry, kan dit die laaste skans van privaatheid afbreek, want dan kan ’n loerbroer selfs jou intiemste onderbewuste geheime ontbloot en inligting oor jou daaruit verkry.
Maar nog erger: Hulle kan inligting in jou drome plant!
Dit is maar enkele van die temas in Inception, wat as die belangrikste wetenskapfiksierolprent sedert James Cameron se Avatar gesien word.
Die vraag ontstaan hoekom Nolan dit nie in 3D geskiet het nie, maar op sy gesofistikeerde manier glimlag hy net skalks.
Dit klink asof hy nog die “outydse” manier van rolprentmaak ondersteun en ’n mens kry die indruk dat indien hy steeds ’n strook film langs ’n ander kon sit en dit fisiek kon sny of redigeer soos in die verlede, hy dit sou verkies bo die digitale tegnologie van vandag.
Dit is hierdie intieme verhouding tussen ’n regisseur en sy rolprent wat uiteindelik tot sukses lei.
Daarom het hy Inception nie in 3D verfilm nie, omdat hy skynbaar nie van oormatige en onnodige foefies hou nie.
In die eerste plek is die 3D-kameras nog lomp en groot, terwyl Nolan daarvoor bekend is dat hy dikwels sélf agter die kamera inspring of daarmee rondhardloop.
Die kamera bly die regisseur se belangrikste verteller, daarom moet die regisseur die kamera ten volle ken en bemeester.
“Ek is nie so ’n groot voorstander van flieks wat net op spesiale effekte berus nie.
Die regisseur moet steeds die septer swaai en sy visie op sý manier oordra.
Dit moet nooit bloot gaan om spesiale effekte wat die rolprent kaap nie. Rolprente is meer as dit. Dit gaan veral oor storie en karakters.”
Waarop ’n mens “sela!” sou wou uitroep.
Nolan wys daarop dat die geniale 2001: A Space Odyssey baie klinies en steriel was, maar dat dit juis om daardie rede gewerk het binne die raamwerk van die profetiese storie wat Stanley Kubrick en Arthur C. Clark wou vertel.
“Maar eintlik was ek dol oor Star Wars. In daardie eerste tonele waar jy saam met die robotte in die sand is en jy sien die ghries en vullis en onvolmaaktheid van alles – dit is waarvan ek hou!”
Nolan erken ook dat hy net sy aandag by een rolprent op ’n slag kan bepaal. Terwyl hy aan The Prestige gewerk het, het hy aan niks anders gedink nie. Hy sal nie gaan fliek nie, omdat sy brein te besig is met die rolprent waaraan hy tans werk.
“Daar vind amper ’n dekonstruksie plaas as ek na ’n ander regisseur se werk kyk terwyl ek aan my eie rolprent skiet,” erken hy.
“Maar nadat ek klaar is, haal ek verlore tyd in!”
Maar is Inception nie deur ander rolprente beïnvloed nie? Een van die grootste flieks tot nog toe oor drome en die onderbewuste is Last Year at Marienbad.
Weer die skaam glimlag.
“Ek het die rolprent eers onlangs gesien, daarom is ek op geen manier daardeur beïnvloed nie. Dit is egter so dat baie ánder rolprente daardeur beïnvloed is en ek is dalk deur dáárdie flieks beïnvloed.”
Wat ook interessant is, is dat Nolan meer aandag trek en meer onderhoude toegestaan het as sy twee supersterre, Leonardo DiCaprio en Ellen Page.
Jy merk ook die fisieke ooreenkoms tussen Nolan en DiCaprio.
Albei is diep in hul dertigs, trek gewoonlik gesofistikeerd aan, is hiperintelligent, bedaard, beredeneerd in hul antwoorde en is albei aantreklik.
’n Mens sou wou skimp dat Leonardo eintlik Nolan in sy eie rolprent is. Selfs hul gesofistikeerde kleredrag en styf agteroorgekamde hare stem ooreen.
Maar dan is Nolan ook ’n gesinsman wat daarvan hou om liewer in sy motorhuis aan ’n rolprent te werk as in gesofistikeerde ateljees.
Nadat The Dark Knight voltooi is, het hy ’n maand saam met sy vrou, Emma Thomas (wat ook as vervaardiger aan al sy rolprente sedert Following gewerk het), en hul vier kinders in Florida vakansie gaan hou.
Eers ná daardie maand se laag lê kon hy aan die komplekse Inception begin werk.
Boonop werk hy en sy broer steeds soms by die huis aan ’n rolprent (dalk letterlik in die motorhuis, vir al wat ons weet!) en word die meeste van die dinkskrums, besprekings en selfs tegniese aspekte daar gedoen, want dit is waar die plat-op-die-aarde Nolan die tuisste voel.
“Plat op die aarde” klink amper na ’n paradoks as dit in dieselfde asem as Nolan se naam gebruik word, maar dit ís so dat die beste regisseurs se wortels stewig in die werklikheid is, wat hulle dan vrye teuels gee om hul verbeeldings met alle mag te ontgin as dit die dag losgelaat word.
Resensente het wêreldwyd oor Inception gejuig . Nes Avatar het dit reeds voor sy amptelike uitreiking legendariese status bereik en blitsvinnig ’n kultusrolprent geword.
’n Deel van die aantrekkingskrag is Nolan se logiese, teruggetrokke onderhoude oor sy eie rolprent, maar ook sy reputasie en die feit dat die kliniese lokprente amper niks oor die fliek verklap het nie, “want ek glo ’n rolprent moet vir homself praat,” verduidelik hy.
En in hierdie dae van breinlose vermaak soos Knight and Day en wetenskapfiksieflieks wat die genre ’n oneer aandoen, probeer Nolan juis om weer ordentlike gestalte en waardigheid aan wetenskapfiksie te gee.
Hy verwys dikwels na The Matrix in sy onderhoude en dit is ook duidelik dat hy hierdeur beïnvloed is en dat elemente soos drogbeelde en hallusinasies, maar veral drome ,’n toonaangewende rol in sy flieks speel.
Maar dit help nie ’n regisseur het ’n visie, soos destyds met die berugte Supernova gebeur het, en ’n gehoor vind nie aanklank daarby nie.
Tog is dit asof Nolan geweet het dat sy rolprent ’n loketsukses gaan wees. Hy is ingenome met die openingsinkomste van byna R450 miljoen binne drie dae.
In Empire erken Ryan Hurd dat dit moontlik is dat mense wat onder druk is of geheime in hulle saamdra, daaroor kan droom.
As jy dus gejag word deur mense wat hierdie geheime wil ontrafel en hulle kry toegang tot jou onderbewussyn of drome, kan hulle op dié manier op jou diepste geheime afkom.
Maar baie mense kan dalk verkies om nooit weer wakker te word nie en altyd te bly droom. Dit is dalk ook een van Inception se vele temas!
Gaan kyk na die rolprent sonder om te veel oor die storie te lees.
Onthou net: Dit is verwarrend en veelvlakkig.
Dit het eintlik ’n tweede besoek nodig om dit ten volle te verstaan.
Dan sal jy dalk eers saamstem dat Nolan inderdaad die wêreld se mees geniale droomsmous is.
Bronne: Empire en The New York Times.