Kaapstad

Saterdag

Sunny. Mild.

13°C
18°C

7 day forecasts

Amped vir die show

2010-03-06 06:00

“Hallo, Mammie.” Jack op die foon met sy ma in sy ma se kar. (Foto: Jan Taljaard)

Foto's   ·   Lesersfoto’s   ·   Volksblad in Foto's Stuur vir ons jou foto's  ·  Stuur vir ons jou foto's

Jan Taljaard

Jack Parow is besig, besig, besig, sommer baie, baie besig. Hy het gister verjaar, vertroetel ’n verterende babelas, sing oormôre by ’n afterparty in die stad, is Saterdag by Ramfest met sy eie vertoning en tree daarna op saam met Heuwels Fantasties en dalk nog Haezer, dan moet hy die Sondagoggend in die nanag terugry Kaapstad toe, want hy vlieg later die oggend Johannesburg toe vir die MK Awards, waar hy ’n aanbieding moet doen.

Volgende Woensdag is dit die Erotic Party saam met Heuwels en Thieve in Klein Libertas en die dag daarna nog Woordfees-dinge by Beyerskloof, maar vandag moet hy nog sy girlfriend by haar huis gaan aflaai, sy ma se kar leen, want syne is gesteel en die kar wat hy by sy girlfriend geleen het, se koppelaar het die gees gegee. Hy moet gaan kyk hoe vorder sake met die ontwerp van sy CD se omslag, ’n afspraak by Canal Walk nakom met ’n Johannesburgse sakevrou wat hom moontlik wil hê as ’n aanlyn-aanbieder by die Sama-toekennings, en draagbare luidsprekers vir sy iPod in die hande probeer kry.

Maar die belangrikste is dat hy ’n sleutel by Pierre Greeff moet kry vir ’n huis op Hermanus, want sy debuut-CD moet oor enkele weke op straat wees en hy moet nog vier songs skryf en almal in Kaapstad pla hom so dat hy nie geskryf kry nie.

Dan is daar nog die probleem met die resep op RSG.

Die mense van Tjailatyd gaan hom kwart voor vyf vanmiddag bel vir Jack Parow se resep vir hul luisteraars en al wat hy regtig van weet, is hoe om vleis te braai (“ek kan nie eens ’n f*kken eier bak nie, bra!”).

Gelukkig het die ma van een van sy vriende vanoggend laat weet sy stuur ’n resep vir gebraaide varkribbetjies met mosterd, maar dis te lank om te SMS en die vriend gaan dit vir hom op Facebook sit, maar hy gaan nie vandag by sy rekenaar uitkom nie en nou moet hy net êrens stilhou sodat hy op Facebook kan kom en die resep kan uitdruk of afskryf...
 
Ek ry saam. Dit is al amper ’n jaar sedert ons eerste onderhoud en ’n jaar waarin daar baie gebeur het met – en vir – Jack Parow, of dan Zander Tyler, soos wat hy 28 jaar gelede gebore en gedoop is.

“F*kkit...” sê hy. “’n Mens moet vroeër in die oggend begin.”

Dan lag hy en verkneukel hom oor hoe lekker sy ma se swart BMW ry – veral in vergelyking met die drietal wrakke waarmee hy die afgelope tyd oor die weg moes kom. “Dis so glad, die ratte knars nie, dit het aircon, alles werk... as my geld inkom, koop ek wragtig ’n ordentlike kar, want so kan ’n mens nie sukkel nie, my ou.”

Dis mos wat Yolandi (Vi$$er van Die Antwoord) ook gesê het toe sy verlede jaar nog kwaai arm was, herinner ek hom. Sy wou geld maak om ’n pikswart Honda Prelude te koop “met ’n vet sound system en neonligte aan die onderkant”.

“Daar’s hy, daar’s hy! Dis die soort ding daai. Miskien ’n mean racer soos ’n Mitsubishi Lancer, jy weet, my bra.”

Hy vroetel met die lugverkoeling, draai om na waar sy lank lydende vriendin, die kunstenaar Dominique Benton, op die agtersitplek sit.

“What’s a good degree Celsius, Dom?”

“Twenty-one,” sê sy. Hy draai die knoppie tot die digitale syfer op 21 staan.

Ons ry na Rondebosch waar Dominique bly. Sy het verlede jaar ’n graad in die skone kunste aan die Universiteit Stellenbosch behaal en is pas klaar met haar eerste uitstalling. Zander hou stil by ’n vulstasie, klim uit om geld te trek. Ons skinder.

Hoe voel dit om Jack Parow se girlfriend te wees?

Soms maar moeilik, sê die Engelstalige Dominique. Al die meisies wat sy aandag op Facebook en by shows wil trek, die afterparty-foto’s wat aanhangers op die internet sit. Dit was veral in die begin baie moeilik en hulle is ’n slag of wat uitmekaar.

Nou het sy maar daarmee vir lief geneem dat Jack Parow eintlik aan almal behoort, al is sy Zander Tyler se girlfriend. Maar dit werk op ’n manier, al is dit a real challenge om ’n verhouding as ’t ware in die oopte en uitgelewer aan die digitale eeu aan die gang te hou.
 
Jack is weer by en die BMW loop glad, want soos hy op “Dans, Dans, Dans” rap, is Jack Parow ’n man wat net in giftige karre behoort te ry.

Hy antwoord op vrae oor hoe hy allemansbesit geword het. Van ’n bykans ondergrondse kultusfiguur in Kaapstad se noordelike voorstede het hy die laaste paar maande die man in aanvraag geword. Was dit “Cooler as Ekke” wat hom eensklaps so op die voorgrond gedruk het?

“Ja, ‘Cooler as Ekke’ beslis, maar eintlik nog vroeër ook toe ek ‘Die Vraagstuk’ saam met Heuwels Fantasties opgeneem het. Skielik het ander mense ook na my begin luister.”

Hoe voel dit om ’n soort celebrity te wees?

“Cool! Dis lekker, ek hou daarvan!” Hy lag guitig, beslis meer selfversekerd as die skamerige kêrel wat ’n jaar gelede vir ’n maatskappy gewerk het wat webruimtes ontwikkel.

Tóé was hy amper inkennig, ’n duidelike onderskeid tussen ’n effe weerlose Zander Tyler en die morsiger en meer openbare Jack wat net besig was om sy rowwe spiere te begin bult. Nou herken mense Jack in winkelsentrums en op straat, selfs sonder sy wildewragtig langpunt-keps.

In Junie wag ’n Britse toer, hy het pas ’n verspreidingsooreenkoms met Sony gesluit, staan op die punt om papiere te teken met ’n groot verspreidingsmaatskappy in een van die Benelux-lande (hy wil nog nie sê wie nie) en dink selfs aan ’n toer na Noorweë.

“Dis die weirdste ding. Op een dag het ‘Cooler as Ekke’ se video 40 000 hits van oorsee gekry en maklik 40% daarvan was uit Noorweë.

Blykbaar verstaan die mense Afrikaans op ’n manier, nou seker nie regte Afrikaans nie, maar die soort slang wat ons rap.”

Die belangstelling van uitgeweke Suid-Afrikaners in Australië en die Midde-Ooste (“ek het nie geweet daar is so baie nie!”) het hom ook laat dink aan ’n moontlike toer na dié streke.

“Hopelik sal die jol daar ook rof rol,” lag hy.

Dan is hy boonop genader om saam met ’n Nederlander te werk aan ’n sokkerlied wat gespeel kan word voor die manne in oranje op die veld draf tydens die Wêreldbeker in Suid-Afrika. Maar hy weet darem nie. “Wat weet ek van sokker? Ek haat eintlik die f*kken game.”

Dié soort bekendheid het nie heeltemal oornag gebeur nie. Die afgelope jaar het hy ook die harde pad geloop met optredes op plekke
soos Klerksdorp, Springbok en Orkney. “Daar is radikale mense daar, my bra.”

’n Jaar gelede was dit ook of hy moeite gedoen het om tussen die fiksie van ’n ontluikende Jack Parow en die werklikheid van die bestaande Zander Tyler te onderskei. Doen hy dit steeds? Kry hy dit reg om nog ’n streep tussen die twee te trek?

Ja, maar dis nie eintlik meer so ’n issue nie, antwoord hy. Jack Parow is ’n show, orraait, maar dit is eintlik ook hy, Zander. Dit is nie ’n vals
front nie. Zander en Jack hou albei van rugby, brandewyn, meisies en paarties, Zander leef Jack se lewe.

Jack is miskien net rowwer, die ou “van die ander kant van die treinspore”, die ou “wat oopmond hoes” en die ou wat sy “brannas skoon drink omdat ek nie wil mors nie”. Jack is die “duiwel van die Bo-Kaap”, die “euwelste ou wat jy ken/mense val dood op die grond van my stem”.

En het daar geld saam met die bekendheid gekom?

Nog nie so baie nie, erken hy. Maar sy geld lê as ’t ware op die horison en wink. “Baie is al vasgemaak, dit moet net kom.”

Dit is nietemin ’n ander soort game waarmee hy nog nie heeltemal vertroud is nie. Hy noem die naam van ’n bekende internasionale fotograaf wat hy byna toevallig ontmoet het en sê hoe bly hy is dat die ou hom kon raad gee.

“Die mense bel jou sommer en wil jou met groot geld gooi – Parlotone-tipe geld, my bra – maar die fotograaf het vir my gesê ek moet kalm bly en al die aanbiedinge eers goed deurkyk. Dit sal nie dadelik verdwyn nie en die belangrikste is dat ek beheer moet bly hou oor my toekoms en wat ek wil doen.”

Ons val agter in by ’n lang string voertuie waarvan die insittendes almal tydsaam en lydsaam wag voor die bottelnek waar die N1 afdraai na die M5 en waar werkers dag en nag karring om die nuwe verbouings betyds vir die Wêreldbeker klaar te kry.

Jack Parow wil in die verkeerde baan verbysteek en dan voor indruk. Dominique wys hom tereg: “This is a great opportunity to practise patience, Zander.”

Op pad van Rondebosch na die stad stel hy die lugversorger se knoppie tot hy 25 °C wys. “Dis ’n beter hitte dié.” Ons praat oor sy musiek en hoe hy skryf.

“Ek het vroeër altyd eers na die beat geluister en dan die lyrics geskryf, maar deesdae werk dit eintlik andersom. Ek skryf eers die woorde op papier neer en dan soek ek ’n beat om daarby te pas.”

“Die Vraagstuk” was byvoorbeeld al klaar geskryf toe hy met Pierre Greeff en Hunter Kennedy van Die Heuwels Fantasties begin saamwerk het.

Die twee besit ook die platemaatskappy Supra Familias, wat tans al Jack Parow se musiek bestuur. “Ons het dieselfde vibe, ons is dieselfde vriende as ’n jaar gelede.”

So ver ons ry, lui Jack Parow se selfoon. Dit is Jack se foon, want Zander praat nog die een oomblik rustig van agter die stuurwiel en as die foon lui is dit meestal Jack wat in ’n soort Bellville-patois induik om te antwoord: “Hey, what’s goin’ down, my broe?”

Maar, soos Zander, is hy ordentlik met almal – selfs die mense wat hom pla vir gratis Ramfest-kaartjies wat hy nie kan gee nie. Ook met die mense wat wil hê hy moet vanaand kom drink, wat hy kan nie omdat hy moet gaan skryf.

Ons praat verder oor die skeppende proses.

“As ek nou Hermanus toe gaan, luister ek nie musiek met lirieke nie, want dit werk nie lekker as jy self met woorde moet werk nie – ek luister maar drum and bass en dub-step, dit help die creative ding en die lyrics.”

Soms, lyk dit, moet hy ook effens gespat wees voor die woorde begin rol. “Wie hou van Brandewyn Drink” en “Cooler as Ekke” het albei laat in die nag in ’n frenetiese gekrabbelry die lig gesien nadat hy homself so effe vies gedrink het vir die omringende geselskap vroeër die aand.

Hy meen sy musiek gaan in die toekoms ook verander. “Ek voel so ek wil meer Snoop Dogg word, meer laid back.” Volgens hom is dit ’n styl waarin hy meer gemaklik voel, hoewel dit moeilik is om te glo dat die storm en drang van die bronstige Jack Parow wat so hard op die beat spring, dan heeltemal die wyk sal neem.

“Hosh, ma se kinders,” groet Parow by die deur van die huurhuis waar Pierre Greeff bly. Die binnekant is onthutsend netjies in vergelyking met die woesteny van koerantknipsels, rekenaarskerms, woldiertjies, klere, rugsakke, tasse en selfs ’n body board wat vroeër die oggend om staanplek en bestaansreg in Jack Parow se besige lewe en blyplek gestoei het.

Jack en Pierre bespreek die CD-omslag. Jack is nie tevrede met die besige agtergrond en die kleiner lettertipe nie en hulle kom ooreen dat die ontwerper die veranderinge moet aanbring. Hy kry ook ’n rekenaar en glip op Facebook om die resep af te skryf.

“Lyk f*kken lekker, nè? Ek maak dit sommer self.”

Ons is nie eens laat vir sy afspraak met die sakevrou van Johannesburg nie. Inderwaarheid is ons vroeg genoeg sodat Jack/Zander nog kan gaan soek na luidsprekertjies vir die iPod.

Hy ken die yslike Canal Walk duidelik soos die palm van sy hand, weet waar al die musiekwinkels en boekwinkels is.

Wat lees hy?

Meestal biografieë, veral van ander musikante. Is nou juis besig met Koos Kombuis se Seks & Drugs & Boeremusiek, het so ruk terug Tyd van die Kombi’s klaargemaak.

Wat dink hy? Is Voëlvry ’n vergelykbare beweging met wat Jack Parow, Die Antwoord en ander besig is om te doen?

“Ja, miskien, ek weet ook nie. Dit was eintlik baie moeiliker daai tyd. Deesdae is daar geld en ons vlieg sommer. Daardie tyd het hulle maar van dorp tot dorp aangesukkel.”

Hy vertoef vir ’n oomblik by ’n draadmandjie vol winskoop-DVD’s. Zander Tyler is ’n ywerige Xbox-speler. Tans is sy ding DJ Hero (Jack Parow is mos ook die life van die paartie).

Die afspraak met die sakevrou verloop goed en ons is op pad terug na Durbanville.

Vir wie sing hy? Wie se stem verteenwoordig hy?

“Miskien vir die everyday gewone mens, ek is ook ’n gewone mens. Die pyle, die onderdrukte mense wat altyd k*k was en nie cool was nie. Jy kry ons oral, in Bellville en Claremont en Benoni. Ons wil net paartie en ’n lekker tyd hê.”

Is dit oukei om so onbetrokke te wees?

“Dit is ’n moeilike vraag. In ons land is daar so baie k*k, die mense is moeg. Van 1992 het die land net uit politiek bestaan, ons land is steeds in die k*k, op a razor’s edge wat van 1992 af nog steeds enige kant toe kan gaan. Die jeug is deel van alles maar kan ook nie eintlik iets doen nie. Hulle kan net sê dis k*k, dis k*k.

“As jy uitgaan wil jy net chill, jy wil ’n paartie hê. Daarom probeer ek my musiek so light hearted as moontlik hou – ek wil nie praat oor goed wat mense elke dag die hele dag hoor nie.”

En as hy nie musiek kan maak nie, wat dan?

“Ek sal altyd iets kreatiefs moet doen. Ek sal musiek maak so lank as wat dit vir my moontlik is, maar ek wil ook skryf.

“Ek hou van skryf, ek hou van Afrikaans. Soos, die taal f*kken kill, dit is my taal, my lewe.”

Sy foon lui weer. Zander antwoord: “Mammie!”

Sy ma is bekommerd omdat hy nog nie op pad is Hermanus toe nie. Hy paai en lui af.

Is jou ma trots op jou?

Hy glimlag breed: “Baie!”
 
Dit is enkele dae later. Jack Parow het die ongewone vroeë tydgleuf van 11:00 op ’n Saterdagoggend op Ramfest IV buite Worcester en die onbenydenswaardige taak om die fees weer aan die gang te skop ná die rumoer en brassery van die vorige aand.

Hy sou aanvanklik al die Saterdagmiddag Johannesburg toe gevlieg het, daarom die vroeë vertoning.

Toe gebeur die ongekende en van oral kruip hulle uit tente, bungalows, Toyota Conquests en ou Citi Golfs.

Sommige staan op in biertente waar hulle die vorige aand aan die slaap geraak het en val oor tenttoue op pad na die verhoog – byna soos zombies wat van die begraafplaas dorp toe struikel. Dit is 10:45 en die natuurlike amfiteater van gras voor die verhoog loop oor.

Agter die verhoog staan ’n vreemderige fris en vars Jack Parow. Hy het die oggend 06:00 uit Kaapstad gery.

“Ek is amped,” sê hy. Hy het twee glase brandewyn en Coke met ys in sy hande. “Ek is woes amped vir die show.”

Inderdaad. Amped en boonop nog opruiend ook as hy tussen songs die gehoor opstook om te drink tot hulle lê.

En self die daad by die woord voeg deur ’n glas brannas en Coke met een slag deur sy keelgat te probeer gooi. Daar loop sulke straaltjies al langs sy snorpunte af tot oor die T-hemp met PAROW daarop.

“Jy dink jy’s cooler as ekke”, rap hy en almal ken die woorde.

Kyk, dis Jack Parow. Hy rol in die Vetness.

binne volksblad

Weer
Verkeer
Lotto
Ksd: 13-18°C Sunny. Mild. Pta: 6-20°C Mostly sunny. Cool.
Jhb: 3-17°C Afternoon clouds. Cool. Bfn: 7-19°C Morning clouds. Refreshingly cool.
Dbn: 15-25°C Sunny. Mild. PE: 15-25°C Morning clouds. Mild.
7-dag-voorspelling...

Betrekkinge - Vind jou droomwerk

Mechanical Practice Lead

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

ENGINEERING MANAGER: MECHANICAL AND PIPING

Gauteng,KwaZulu Natal - Durban,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

ELECTRICAL ENGINEERING MANAGER

Gauteng,Western Cape - Cape Town
Hire Resolve

Motors - Soek deur duisende nuwe en gebruikte motors

Eiendomme - Vind 'n nuwe huis

KALK BAY

House R 13 000 000

MOSTERTSDRIFT

House R 16 000 000

SCHOONGEZICHT

House R 1 900 000

Reis - Besoek, Bespreek, Laat Waai!

Gratis Speletjies - TE VEEL NUUS? Neem ‘n blaaskans

Kalahari.net - doen vandag jou inkopies aanlyn

Lae pryse op Boeke!

Miljoene titels om van te kies. Spaar nou tot 40%!

DVD's vir R129.95 Elk

Kry al die topverkopers en nuwe vrystellings vanaf R129.95 nou! 100e DVD's om van te kies.

Koop jou UNISA & Akademiese Teksboeke & WEN Groot

Koop enige teksboek van kalahari.net en 50 gelukkige lesers sal 'n R100-koopbewys elke dag van Maandag die 19de tot Saterdag 31 Julie wen.

Vuurwarm Musiekvrystellings

Kry jou gunstelingalbum van die musiekwinkel. Lae pryse op ALLE albums.

Tot 20% af op Elektronika

Besoek die Elektroniese winkel vir die nuutste produkte en toebehore. Fantastiese aanbiedings op handelsnaam-produkte.

Vandag se beste aanbod!

Tot 40% Af op Sagtebande

Miljoene Titels

Maak gebruik van dié fantastiese geleentheid & koop wonderlike nuwe uitreikings & ou gunstelinge.

Besoek www.kalahari.net vir miljoene boeke, musiek, DVD's, games & meer!

'n Plaaslike gemeenskap waar jy mense kan ontmoet, fotos en videos op laai en vele meer...
  • top-profiel

  • top-gebeurtenis

  • top-galery

  • top-video