‘Titaan’ beste van twee wêrelde
2009-10-19 02:26
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
TITAAN – ’n ROMAN OOR DIE LEWE VAN MICHELANGELO
BUONARROTI
deur Karel Schoeman.
Human & Rousseau. Kaapstad, Pretoria.
R310.
...ALMAL wat dit lees, weet nou ten minste wat regtig in sy lewe
gebeur het. (p. 666)
Die epigraaf gee die gedagtes weer van Michelangelo Buonarroti, ná
die verskyning van Ascanio Condivi se kort biografie oor die beeldhouer,
skilder, argitek, digter en militêre argitek. Maar die biografie wat
Afrikaanssprekendes behoort te lees, is dié van Karel Schoeman, met die gepaste
titel Titaan, wat sowel die œuvre onder bespreking en die
dokumentering daarvan deur ’n outeur wat gelykwaardige status as historikus en
romanskrywer het, beskryf. In die roman self word die term toegeskryf aan pous
Julius II: “Dis titaniese projekte wat jy aanpak, Michelangelo Buonarroti
(...), en dit pas by wat ’n mens moontlik as jou titaniese persoonlikheid sou
kan beskryf.” (p. 266)
Hierdie roman oor die lewe van Michelangelo Buonarroti (soos die
sub-titel aandui) bied dan ook ’n interessante invalshoek op debatte oor die
vorm waarin ’n biografie geskryf moet word en op die ontwikkeling van Schoeman
se historiese en sosiologiese studies in ’n minder akademiese styl. Hierdie
monumentale teks van 727 bladsye verskuif die generiese bakens tussen biografie
en roman, want hoewel dit so gemaklik en spannend lees soos wat die leser van ’n
goedgeskrewe roman deur ’n meestervakman kan verwag, is die gedetailleerde en
presiese navorsing deur ’n argivaris en bekroonde historikus gedoen. Ongeag die
sub-titel het die leser dus hier die beste van twee wêrelde: die verteltrant van
’n roman en die deeglikheid van ’n biografie. Enersyds is ’n magdom inligting so
deeglik verwerk dat aanhalings nie meer nodig is nie; andersyds vereis die
romanformaat geen voetnote of bibliografie nie.
Die nadeel van Schoeman se generiese keuse is dat die bronlose teks
self nie in ’n historiese werk aangehaal kan word nie, en dat belangstellende
lesers nie die tale van die bronne kan verifieer nie. Lees die outeur Italiaans,
kon hy sy sensitiwiteit as skrywer en sy insigte as historikus inspan om
Michelangelo se (moeilike) gedigte te analiseer en te vertaal, of is dit via ’n
ander teikentaalvertaling gedoen?
Die parameters van hierdie lewensverhaal is opsigself interessant:
Hoofstuk 1 begin nie met ’n geboorte nie, maar met die vervloë glorie van ’n
volledige familienaam waaraan sy materialistiese, onkunssinnige vader meer
waarde heg as aan sy seun se uitsonderlike talent en waarmee hy homself voorstel
aan die skilder Domenico Ghirlandaio, by wie hy hoop om die 12-jarige
Michelangelo as vakleerling te plaas. Die liefdelose respek waarmee die seun sy
vader bejeën, is een van die vele temas wat in die roman ontwikkel word en wat
Schoeman se belangstelling in genealogie en familiegeskiedenis bevestig. Condivi
skryf sy biografie van Michelangelo in samewerking met die kunstenaar, wat die
verlede probeer onthou: “Stemme, gesigte, insidente, episodes: Waar is die
patroon?” (p. 665)
Een van Schoeman se patrone is om te toon dat ons dikwels dit word
wat ons afstoot in ons ouers: Die “begin” wat Michelangelo self kies, is ironies
genoeg dieselfde inligting wat sy vader altyd ongevraag verskaf het: [...] “ons
familie”, herhaal hy, “stam af van die grawe van Canossa, ’n roemryke ou familie
uit die land van Reggio, ’n baie ou familie met keiserlike bloed in hul are” (p.
666). In die loop van die teks word die stemme van die kunstenaar en die
verteller byna een, sodat die roman stomp eindig met Michelangelo se dood op die
eerbiedwaardige ouderdom van 89 jaar.
Michelangelo was buitengewoon gelukkig wat sy beskermhere betref
(om maar net Lorenzo de Medici en pous Julius II te noem) en hy besef dit
terdeë: Nooit sal hy weer so ’n opdrag kry, sal sulke kanse hom ooit weer gebied
word nie. (p. 209).
Die publikasie van hierdie roman is moontlik gemaak deur die
Hiemstra-trust (en ’n skenking deur die vorige rektor van die UV, prof.
Frederick Fourie). Die vraag kan gestel word of die werk van een van die
grootste Afrikaanse skrywers gepubliseer sou kon word sonder beskermhere; die
nawoord beklemtoon dat vandag se titane ook beskerming nodig het om navorsing te
doen of te publiseer.
Dit is jammer dat die inhoudsopgawe nie volledig aangebied word
nie, maar dat slegs die onderafdelings van die 7 seksies waarin die roman
verdeel is (Die
Leertyd, Die Lydensbeeld, Die Kolos, Die Pous, Die Doodskapel,
Die Laaste
Oordeel, Die Einde), aangedui word. Victor Hugo het ons geleer dat die
inhoudsopgawe ’n onmiddellike, visuele oorsig van die teks gee; dit is die teks
se steierwerk, en behalwe dat dit die opsporing van die onderafdelings
vergemaklik, is dit ook ’n hoogs gekondenseerde weergawe van die roman. Goeie
ondertitels, soos Die einde van die wêreld (p. 446) wek spanning; ander, soos
Graflegging, is selfs meer treffend as die hooftitel (Die
einde).
Schoeman het die gawe om temas te verenig in pragtige, sintuiglike
beskrywings, soos wanneer die 89-jarige Michelangelo se oog die klipdrumpel
tref, wat herinneringe wek aan sy werk as beeldhouer: Hy sien die klip van die
drumpel soos dit glansend die sonlig vang, gladgeskuur deur die voete van die
generasies wat reeds hier gekom en gegaan het, en onthou weer die beelde, die
grafmonumente, die glans van die gepoleerde marmer, die beitelmerke in die ruwe
klip, die kapel in Florence, die groot koepel wat eerlank sal begin oprys oor
die dakke van Rome. (p. 725) Asof die roman die leser laat met ’n laaste,
essensiële vraag: Wat is die nuttigste, die drumpel van ’n woning of ’n
kunswerk? In ’n era waar waardes en norme daagliks herdefinieer word, watter
plek neem ’n biografie, in Afrikaans, oor Michelangelo Buonarroti in? Dis net
deur dit te lees dat lesers ’n oordeel sal kan vel.
– Naòmi Morgan, professor van die departement Afrikaans,
Nederlands, Duits en Frans aan die Universiteit van die
Vrystaat
- Volksblad