‘Witboy’ vol humor
2010-06-26 06:15
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
WITBOY IN AFRIKA: REISE DEUR DIE DONKER KONTINENT deur Deon Maas, Tafelberg-uitgewers. R180.
AS ek die slag reisverhale lees, is dit met min of meer dieselfde ingesteldheid as wat ek Stephen King lees: diepe dankbaarheid dat alles in die boek met iemand anders gebeur het. Maar selfs vir ’n geswore huishaan en uiters gewillige bestuurder van Jan Tuisbly se karretjie soos hierdie leser is Deon Maas se versameling reisvertellings ’n heerlike leeservaring.
Minstens ’n deel van die lekkerte, moet ’n mens erken, kom uit ’n soort schadenfreude.
Die situasie op Lagos se Murtalla Mohammed-lughawe met een van Maas se eerste besoeke aan Nigerië, klink byvoorbeeld na niks minder as ’n nagmerrie nie: “Anders as in ander lande sit die doeanemense hier op ’n verhoog. Wanneer jy jou paspoort oorhandig, kyk die amptenare af op jou. Voor die verhogie is daar ’n streep. Jy mag nie oor die streep trap nie, jy moet oorleun om jou paspoort te oorhandig. As jou voet oor die streep trap, word jy teruggestuur om alles van vooraf [sic] te doen.” (bl. 93)
Slegs ’n stewige bedraggie omkoopgeld kan jou van dié en soortgelyke rompslomp red. En hierdie is nie die soort situasie waar jy teëpraat nie (tensy jy Deon Maas is).
Die prentjies wat by my opgekom het, is min of meer dié van die gemiddelde staatsdienskantoor – behalwe dat byna almal met AK47’s gewapen is. Waarskynlik geen pret as jy dit eerstehands moet beleef nie, maar ’n leunstoelreisiger kan nie help om dikwels hardop te lag nie.
Die meeste van Maas se Afrikareise het hy onderneem om ’n aantal seisoene van ’n realiteitstelevisiereeks vir ’n Nigeriese biermaatskappy te help vervaardig. Sy beskrywings van die toestande waarin hulle hierdie programme moes opneem (en die politiek agter die skerms van so ’n program), laat omtrent jou hare orent staan.
Anders as die deursnee-toeris soek Maas doelbewus en teen goeie raad in die underbelly van ’n plek op, wat hom in ’n stadium byna-byna op sy wittebrood met seerowers in Madagaskar laat koppe stamp.
Tipies Maas skroom hy nie om aanvegbare stellings te maak nie, soos dat Suid-Afrika se bier die verveligste in die wêreld is; en daar is volop kostelike uitsprake soos: “Ek het nog altyd gedink vlermuise is die beste bewys dat God ook van horror movies hou” (bl. 41).
Plek-plek kon die proefleser met ’n skerper oog gekyk het, soos met “leestofloos” (bl. 42), “by kombuis ingeloop” (bl. 46), “van vooraf” (bl. 93) en “maaar” (bl. 117), asook die onnodige dat drank jou goedkoper per bottel as per sopie uitwerk en dat Nigeriërs ’n weersin in soesji en pizza het.
Of jy nou ’n aanhanger van die omstrede Maas is of nie, Witboy in Afrika (ook in Engels beskikbaar as Witboy in Africa) is pakkende leesstof.
Die skrywer slaag daarin om met humor (dikwels ten koste van homself) die realiteit in talle Afrikalande, en die ervaring van reis in Afrika, op ’n onsentimentele wyse te skets.
En hoewel die prentjie dikwels vol korrupsie, magsug en politieke onbeholpenheid is, is die eindelike boodskap oorwegend positief: Suid-Afrikaners kla dikwels onnodig, en daar is hoop vir Afrika (mits jy jou Westerse verwaandheid by die huis los).
Maar hierdie “donker kontinent” van die boek se subtitel is nou eenmaal nie vir sissies nie, soos selfs die hardekwas- Amerikaanse kletsrymers 50 Cent en Akon volgens Maas in Nigerië op die harde manier moes leer.
En waarskynlik die belangrikste boodskap wat Maas jou deur die boek indril: As jy in Nigerië tuisgaan, onthou om jou eie badprop saam te vat.
DEON MAAS praat op die Volksblad-kunstefees met Danila Liebenberg oor Witboy in Afrika. Die gesprek is gratis en vind op 9 Julie om 15:30 plaas.