Storie straal deernis met skisofrenie uit
2010-07-24 06:00
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
PAPAWERS deur Ingrid vander Veken. Lapa. Sagteband. R145.
HOOGS interessant soos die hoofintrige van hierdie roman is – die uitbeelding van die trapsgewys ál dodeliker seekatgreep van skisofrenie op een van sy slagoffers – maak ’n sub-intrige tog ’n groter indruk.
Die vertellersperspektief bring iets seldsaam tot stand: Daar is slegs twee hoofkarakters – ek en jy. Die ek-verteller is die stiefma van “jy”, die 24-jarige aantreklike, blonde, jong reus, die skisofrenie-lyer.
En dit is die ongelooflike deernis wat uitstraal van die verteller wat nooit haar eie kinders gehad het nie wat die leser bybly.
Van Vander Veken sê Antjie Krog op die agterblad: “Ek ken geen ander skrywer in watter taal ook al met so ’n oorrompelende empatiese stem nie.”
Met poëtiese eenvoud begin die roman as die ek-verteller haar seun nooi: “Kom na my toe. Kom sit langs my op die bank. Kom sit hier in die son langs my op die bank. Ek sal nie vir jou ’n naam gee nie. In plaas van ’n naam sal ek liewer vir jou ’n lente gee” (bl. 5).
Ook die twee ouerpare het nie name nie. (Die jong man bly aanvanklik by sy eie ma en stiefpa en kuier net soms by sy stiefma en eie pa.)
In sy jeug het hy dikwels vreemd opgetree. Toe hy 21 jaar oud word, raak hy egter “ ’n tydbom in die huis” en kan selfs sy eie pa nie meer met hom praat nie. Hy word opgeneem in “ ’n fort van rooibruin bakstene met ’n skerpgepunte ysterheining om” waarin hy lank behandel word. Daar besoek sy stiefma hom gereeld: “My doodgebore, nooit gebore kind. My groot kind wat nie myne is nie” (bl. 40).
Soms, wanneer hy ’n sweempie beterskap beleef, dompel dit hom in “ ’n see van ongelukkigheid. My arme paddaprinsie, my leeumannetjie wat sy trots verloor het, my hopie hoopvolle ellende” (bl. 101).
Die gemak waarmee die skrywer die sensitiewe uitbeelding van ’n gebroke moederhart (wat in die slot ’n onvergeetlike hoogtepunt bereik) afwissel met meer objektiewe mededelings rakende skisofrenie beïndruk.
Die ek-verteller doen intensief oor die siekte navorsing.
Sy lees een uit elke honderd mense ly in ’n mindere of meerdere mate aan skisofrenie. Dat skisofrene wêreldwyd die meeste hospitaalbeddens beset.
Só kry hierdie roman ’n universele kleur: “Nóú weet ek daar is baie soos jy. Wees jy vir hulle ’n stem; laat jóú verhaal ook hulle verhaal wees” (bl. 5).
Die verhaallyn styg só oortuigend van krisis na krisis dat die leser onwillekeurig op die agterblad kyk: is dit fiksie of werklikheid? Die lang bronnelys beklemtoon egter die skrywer het behoorlik navorsing gedoen.
Christine Barkhuizen le Roux moet met haar knap vertaling van hierdie skitterende Nederlandse roman gelukgewens word.
Vander Veken laat geen twyfel nie dat sy ’n uitmuntende woordkunstenaar en ’n mensekenner by uitstek is.
As verbeeldingryke, oorspronklike skrywer lê sy inderdaad waagmoed aan die dag om die deurmekaar milieu van die skisofreen uit te beeld. Dit is ’n gebied waarop nog min ander skrywers hulle begeef het.
Dog dit is eintlik daardie ander kenmerk wat as’t ware terloops ingevleg word wat hierdie ’n opwindende leeservaring maak: die ek-verteller se onvoorwaardelike liefde vir haar “sprokieskind”, haar “naweekkind” wat so uitsigloos in die ongenaakbare greep van ’n genadelose geestessiekte vasgevang is.