Skrywers ondersoek breinkwyn in staat
2010-02-22 06:20
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
THE POVERTY OF IDEAS – South African democracy and
the retreat of intellectuals deur William Gumede en Leslie Dikeni (reds). Jacana
Media. R180.
Omdat demokrasie as instelling in Suid-Afrika nou fel onder die
soeklig geplaas word aan die hand van ontstellende gebeure en onverantwoordelike
uitsprake plaaslik, is The poverty of ideas ’n besonder welkome en tydige publikasie.
Dit is ’n publikasie wat diepe analitiese introspeksie tot gevolg gaan hê.
Het daar al inderdaad, soos so dikwels beweer word, ’n demokratiese
bestel in die ware sin van die woord in Suid-Afrika sedert 1994 ontwikkel? Tot
vervelens toe word van “ons jong demokrasie” gepraat sonder dat die substansie
daarvan tot sy volle konsekwensie deurgetrek word. Kan van demokratiese
verkiesings in Suid-Afrika gepraat word as blatant onder meer gedreig word met
“We will kill for Zuma” en ook as ’n sekere deel van die kiesers gedreig word
met die verbeuring van voorregte as hulle nie vir die ANC stem nie?
In die lig hiervan beteken net die trek van ’n kruisie op ’n
stembrief nie die verkiesingsproses is demokraties gefundeer nie. “Supposedly,”
skryf Gumedi, “we should be able to conclude that South Africa has a democratic
political culture. Not yet. It is often mistakenly assumed that to have
democratic institutions in place or to conduct regular ‘free and fair elections’
is tantamount to a mature democracy”.
Aan die hand van bogenoemde aanname grens demokrasie in Suid-Afrika
nog aan ’n hersenskim.
As redakteurs het Gumede en Dikeni, albei akademies deeglik
onderleg, met behulp van 13 uitgelese medewerkers ’n baanbrekerpublikasie
gelewer. Gumede is onder meer die skrywer van Thabo Mbeki and the battle for the soul of the
ANC.
Dit is gewis net deeglik onderlegde akademici wat ’n onderwerp soos
hierdie so voortreflik en verantwoordelik kan aanbied. Dit is ’n boeiende dog
ietwat ontstellende weergawe van intellektuele denke en verbandhoudende
ontwikkeling in die post-apartheidera. Vir diegene wat spekuleer wat van die
Suid-Afrikaanse intelligentsia geword het, is die lees van die boek
noodsaaklik.
Die skrywers het die uitdaging opsigtelik aangepak in ’n poging om
die ongemaklike verskynsel van die ontwaarding van idees en die intellek in die
openbare sektor in die post-apartheid-Suid-Afrika onder die aandag te bring. Die
skrywers ontleed die onverdraagsaamheid teenoor kritiek en meningsverskil veral
in die Mbeki-era en die uitwerking wat dit gehad het en steeds het op die
konsolidasie van die demokrasie.
Ware demokrasie gaan in alle opsigte gepaard met vreeslose openbare
standpuntinname van kritici sonder verbondenheid aan ’n politieke party of
kulturele affiniteit. Dit moet mense wees sonder vrees vir die magshebbers se
politieke viktimisering. Dit is juis hier waar die verantwoordelikheid van die
intelligentsia lê.
Sedert Polokwane is daar ’n sigbare ruimte vir debat te bespeur.
Tog is dit nog nie genoeg nie. Polokwane het wel finaal die inperking van
konsensus opgehef en vars denke geïnisieer. Tog is die mees flagrante
onmatigheid van die Mbeki-era nog flink met ons. Onverdraagsaamheid wat
opponerende denke betref, bly ’n stremmende faktor by die vul van vakatures,
bevordering en die toeken van staatstenders.
Dringende aangeleenthede kry steeds nie aandag nie. “ South Africa is stuck
in interlocking crises. Not only has there been a staggering collapse in the
sense of social justice, ethics and moral values but the dream of a
compassionate society ... has now turned into a nightmare for millions who
‘live in gruelling, demeaning, dehumanizing poverty’, while a small elite
connected to the leadership of the ANC ‘become very rich at the stroke of a
pen’.”
Deur die publikasie is daar ’n strewe na wetenskaplike
voortreflikheid aan die hand van ’n funksionele verwysingsraamwerk. Dit is
jammer dat ’n register, wat vir die leser en navorser nuttig is, nie aangelê is
nie.
Ek wil hierdie publikasie sonder enige voorbehoud sterk aanbeveel.
Die duidelike perspektief, wat oor die breë politieke spektrum deurgaans
samehangend na vore tree, sal dit die moeite werd maak om te lees en te
oorpeins.
– Ockie Geyser, emeritus-professor van die departement
geskiedenis, UV
- Volksblad