EEN HART deur Johannes Prins. Lapa-uitgewers.
Sagteband. R110.
Wit-kwesbaar-sag. Hierdie samevoeging wat op bl. 52 in die
digbundel een
hart staan, onderlê die strekking van Johannes Prins se
debuutpublikasie.
Kwesbaarheid doen dit voor van die eerste gedig, waar die
uitgelewerdheid van die boer in Suid-Afrika ondubbelsinnig verwoord word. Die
boodskap van uitgelewerdheid word versterk deur die verdere repliek van die
digter in dieselfde vers met die woorde: “my verse is uitgelewer”.
Soos die hart en sy sake reeds van die eerste vers in die bundel
eksplisiet betrek word deur die verwoording van die kwesbaarheid, só word die
hart vir die res van die eerste helfte van die bundel op veral geïmpliseerde
wyse bygeroep. Van die tweede helfte van die bundel, beginnende by brugrubriek op
bl. 33, word die hart egter eksplisiet in woorde en ook in die letterlike vorm
van die woord betrek.
Ook word die een hart, soos die titel lees, deur die progressie van
die gedigte in die bundel tot koepel en versamelnaam omvorm, aangesien die hart
wat verwoord word in ’n gediversifiseerde maat by die leser aandoen. Die een
hart wat uitgeroep word en bly staan in die kaartspel brug neem die vorm van ’n
lewensmetafoor in brugrubriek aan. Daarna word die letterlike hart van die mens
en die kwesbaarheid daarvan pertinent verwoord: die pa wat aan ’n hartaanval
sterf (bll. 34 tot 35), die trapmeultoets wat die beeld van ’n witmuis op ’n
wieletjie betrek (bll. 36 tot 37) en die sterflikheid van die mens; in hierdie
geval die digter se pa en ma wat spesifiek aan ’n hartaanval en kanker sterf
(bll. 38 tot 40). Maar dan word ’n nuwe hart in die lewensiklus van dood en lewe
treffend op bl. 58 in die gedig eerste sonar aangekondig:
“ ’n besoeker
van ’n ander planeet
kyk na my
met haar hart” (bl. 58)
Op bll. 24 en 25, in afstandbeheer, word die hart (waarskynlik
die van ’n vrou) gelykgestel aan die prosesseringstelsels van ’n rekenaar.
In een hart word die Karoomotief telkens raakgeloop (bll. 27, 28
en 32) en ook die Boeddha-motief (bll. 12 en 15), maar dit is die koerantmotief
(bll. 16, 17, 18, 19, 20 en 30) wat die element van sagtheid in die samevoeging
“wit-kwesbaar-sag” (bl. 58) uitnemend naderbring vir die leser. Die beskrywing
van die belewinge van ’n nuusredakteur, soos Jo Prins in werklikheid vir Volksblad se
susterskoerant Beeld is, word só akkuraat en met deernis beskryf dat dit die
leser aangryp en bybly:
“ ’n nuusredakteur
bid nie
want god is net nog
’n storie (bl. 19) ...
’n nuusredakteur
bid nie
want god is net nog
’n leser (bl. 20)
Ondertone van die monopolie van Media24 se markbelang in die
Suid-Afrikaanse koerantwese word ook in die woorde gevind.
Daar word ook by heelwat geleenthede in die bundel na die element
van wit kleur in die samevoeging “wit-sag-kwesbaar” op bl. 58 verwys. Miskien
word die treffendste verwysing hierna in die tweede deel van die gedig malaria
aangetref:
“ek is die afrikaan
met die wit vel
in kampala
wat my verbondenheid koorsig bely,
onherroepelik deel
van dié kontinent met ’n taal
eie aan my wil” (bl. 47)
Die bundel is ’n besonderse debuut wat in toeganklike trant geskryf
is en verskeie wonderskone vergelykings, personifikasies en metafore dra. Seker
die treffendste gedig word op bl. 23 aangetref in dink ek, waarin
vertroue onverwags gedekonstrueer word. Daarmee saam is meeuberg op bl.
48 ’n wonderskone gedig waarin die huis van die digter gemetaforiseer word met
die see. Die huis se gastekamers sal “skeure wees – ek sou haar genooi het om
bruisend deur my sloepe te kom slaan, om gejaagd en uitasem my kamers te
deel”.
Die bundel hou ’n kaleidoskoop van kleur van een hart aan die leser
voor. Dit sal vir seker die effek hê dat dit een-een aan elke hart gaan raak wat
dit lees.
– Danila Liebenberg, instruksionele ontwerpnavorser by e-Leer aan
die UV en skrywer.