POMP 09 – ’N BIBLIOTEEK VAN GEDAGTES. Griffel Media.
Sagteband. R230.
’n Tussenruimte. Iets waarin ’n mens jou verlustig en in kan
verdwaal om vir ’n wyle ’n skuiling te vind teen die harde werklikheid van die
lewe en alledaagse uitdagings wat dit bied.
Dit is wat Pomp die leser bied.
Pomp is ’n uitsonderlike Afrikaanse kuns- en kultuurjoernaal
wat vars lewe in die letterkunde blaas. Dit is jonk, modern en vol verrassings
waarby oud en jonk sal aanklank vind.
Met die toemaak van Insig en selfs Insigboeke het
die uitgewers ’n mark of ’n hongerte in lesers raakgesien. Maar Pomp is so ’n
bietjie slimmer, hoewel hy hom nie te intelligent probeer hou nie. Hy verseker
dat almal hom verstaan, waardeer en selfs hartstogtelik bemin. Dit is soos ’n
kort vakansie vir ’n ondersoekende persoon. Om Pomp oop te maak en bladsy vir bladsy te
verken is so lekker soos om ’n boks eksotiese sjokolade te kry sonder om te weet
hoe elke sjokolade gaan proe. Pomp is ’n joernaal wat die hoogtepunte van
boeke, fotografie, kuns, letterkunde, musiek, ontwerp, reis, sport, gedagtes en
wyn vir die afgelope jaar op ’n oorspronklike manier oordra.
Om gedeeltes van Pomp uit te sonder is amper soos om ’n
rolprent-liefhebber te vra watter rolprent die beste is. Dis gewis ’n
onmoontlike saak, omdat die verskillende gesaghebbende seksionele snitte
uitstekend uitgebeeld of verwoord word. Elke leser se belangstelling sal ook
bepaal watter gedeeltes van die boek die meeste geniet word.
Enkele hoogtepunte vir my is Deon Maas se reis as Lucky Dube se
toerbestuurder vir ’n vertoning in Rwanda in 1998, Erns Grundling se Stoeiers in die
Suburbs en Jan van der Merwe se kosbare vertelling As die duiwel se stert
jou raps. Kramer se reis huis toe deur Dawid de Villiers en Tilla
Slabbert is ’n verdere hoogtepunt en Buiteboer se onderhoud met Breyten
Breytenbach in New York op 5 Oktober 2000.
Maar daar is soveel meer. Die fotografie in die joernaal slaan jou
asem weg, die uitleg is anders en interessant, dit is ’n ware nuusbron en Pomp is ’n moet
vir enige liefhebber van Afrikaans.
Dis een van die boeke wat ’n mens nie sommer sal uitleen nie, die
gevaar dat hy permanent gegaps kan word is te groot.
– Karen Ebersohn, Volksblad-redaksielid