Misdaadprys vir SA skrywer
2011-07-28 11:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Kaapstad
’n Onbekende Kaapse skrywer het onlangs die verhoog gedeel met twee internasionale veterane in misdaadfiksie toe sy met die Britse Crime Writers’ Association (CWA) se Debut Dagger-prys bekroon is by die Theakston Old Peculier-misdaadskryffees in Harrogate, Engeland.
Michele Rowe, ’n Kaapse rolprent- en TV-draaiboekskrywer wat die prys ontvang het vir haar nog ongepubliseerde sielkundige riller What Hidden Lies, het gesê sy kon haar ore nie glo toe sy die oproep kry nie.
“Ek was vas oortuig iemand gaan terugbel en sê hulle het ’n fout gemaak of van plan verander.”
Sy is ’n paar dae voor die jaarlikse misdaadfiksie-fees met die nuus gebel sodat sy reisreëlings kon tref of ten minste ’n aanvaardingstoespraak via video voorberei.
Sy het dadelik begin geld bymekaarmaak vir ’n vlieg- en treinkaartjie en selfs op die nippertjie ’n kamer gekry in The Old Swan, die ou hotel waar Agatha Christie op ’n keer gaan wegkruip het. Maar brongitis het uiteindelik gekeer dat sy die reis kon onderneem.
Rowe het haar boek verlede jaar geskryf as deel van wyle Stephen Watson se kreatiewe skryfkursus wat sy aan die Universiteit van Kaapstad gevolg het. Haar studieleier was Mark Behr (Die Reuk van Appels ).
Sy het die prys ontvang vir haar eerste drie hoofstukke – die vereistes vir die CWA se debuutprys.
Die Dagger-pryse word baie hoog aangeskryf deur lesers én uitgewers van misdaadfiksie. “Sowel agente as uitgewers lees jou werk as deel van die beoordeling en ek is deur beide genader selfs nog vóór ek gewen het,” het Rowe vertel. Sy het reeds ’n Britse agent en haar boek verskyn waarskynlik vroeg aanstaande jaar.
By dieselfde geleentheid in Harrogate het Lee Child die prys ontvang as misdaadskrywer van die jaar vir sy Jack Reacher-roman 61 Hours , terwyl die 91-jarige PD James vir die tweede keer vereer is vir haar buitengewone bydrae tot misdaadfiksie.
Lesers, skrywers en uitgewers is dit eens dat plaaslike misdaadstories stadigaan in gewildheid – én gehalte – toeneem. Sifiso Mzobe het onlangs die Sunday Times -fiksieprys vir Young Blood gewen, terwyl Trackers , die Engelse vertaling van Deon Meyer se Spoor , uitstekende voorafpublisiteit in Engeland ontvang.
Meyer neem ook deel aan vandeesweek se Bloody Book Week-misdaadfiksie-fees in Johannesburg.
- Volksblad