Leesplesier vir van kleuters tot tieners
2010-03-14 21:31
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Karen Ebersohn, Volksblad-redaksielid
PRINSES MOSSIENES en DRIE HOERA’S VIR DENVER! Deur Wendy Maartens en illustrasies deur Alida Botma. Lapa-uitgewers. Sagteband. R70 elk.
Albei hierdie boeke behandel onaangename situasies waaraan kinders blootgestel word: In Prinses Mossienes is dit egskeiding en in Drie Hoera’s vir Denver molestering.
Saam met Dina en Denver ervaar ons die pyn en verwarring wat kinders in sulke situasies ondervind. Die verhaal werk deur die hele proses van hartseer, skaamte, erkenning en genesing.
Agterin albei boeke is riglyne en hulpnommers vir kinders om so ’n situasie te hanteer, asook inligting vir ouers en onderwysers soos wat om te doen as ’n kind jou in sy vertroue neem of as jy tekens sien wat dui op onderliggende spanning of seksuele misbruik.
PHAPO SE GESKENK deur Marita van Aswegen. Illustrasies deur Fanie Viljoen. Knowledge Thirst Media. Sagteband. R95.
Phapo is ’n mooi, slim meisie op die rand van puberteit. Sy woon saam met haar ouma en pa in ’n landelike gebied. Haar ma is dood toe sy gebore is en haar pa is sterwend aan vigs. Sy wil nog speel, maar haar maats stel net in verhoudings belang. Maar haar ouma leer haar ’n belangrike lewensles uit die ou Sotho-kultuur hieroor. ’n Mooi vriendskapsband ontwikkel ook tussen haar en Lucy.
Deur Phapo se ervarings word kinders die uitwerking van vigs en die voordele van weerhouding van seksuele omgang geleer. Hierdie deernisvolle boek het my met hartseer vervul oor soveel kinders wat weens vigs alleen die lewe moet aandurf en ook oor hoe ons hartvogtig by mekaar verbyleef. Hoewel dit soms grens aan prekerigheid is dit ’n storie wat in ons land met sy morele verval van groot waarde kan wees.
Bogenoemde drie boeke hoort beslis op elke laerskoolonderwyser of kinderberader se boekrak.
BEWAAR ONS PLANEET deur Martyn Bramwell en andere. Lapa-uitgewers. Sagteband. R110,95.
“Mense is merkwaardige diere. Ons kan met mekaar praat en ons kan die wereld om ons verander. Nietemin is daar dinge waarmee ons nie so goed is nie. Een daarvan is dat ons te groot lewe.”
Só lui die inleiding van Bewaar ons planeet waarin die mens se geweldige aanslag op die aarde en sy hulpbronne bespreek word. Daarna volg vier afdelings, Aarde, Water, Diere en Voedsel, waaronder verskeie bewaringskwessies bespreek word. Baie oulik is ook die aksieplan met wenke wat by byna elke tema verskyn. Pragtige volkleurfoto’s verbreed ook die inligting en prikkel die jong lesers se verbeelding.
Die boek is ’n nuttige naslaanbron met ’n inhoudsopgawe, woordelys en alfabetiese indeks wat dit die ideale boek maak om laerskoolleerlinge te leer om naslaanbronne te gebruik.
VANG DIE MONSTER deur Norbert Landa. Illustrasies deur Tim Warnes. Lapa. Sagteband. R72.
Die uitdrukking lui om van ’n molshoop ’n berg te maak, maar in die oulike storie maak Eend se vriende van ’n muis ’n monster. Eend roep om hulp wanneer sy ’n vreemde geluid onder haar bed hoor en elkeen wat kom help, las ’n stertjie by die storie wat die diere al hoe banger maak. Die aanlas-storie met sy verrassende einde en oulike illustrasies is pure pret vir kleuters.
Dit kan outjies help wat bang is vir monsters om te sien dat dit eintlik niks is om voor bang te wees nie.
MOTORS, TROKKE EN ALLES WAT RY en MY EERSTE BOEK VAN ALLES! deur Richard Scarry. Protea-boekhuis. Hardeband. R120 elk.
Richard Scarry het die kuns vervolmaak om leer groot pret te maak. Sy boeke is ’n bombardement van kleur, karakters en woorde, maar dit kan ’n kind ure lank besig hou.
Motors, trokke en alles wat ry gaan die Oink-gesin op reis en sien van brandweerwaens tot padmaakmasjiene en motors met vreemde vorms soos die muis-gesin se kaaswiggiemotor. Tussendeur kan jy na Goudgogga soek en kyk of Sersant Flossie die wilde Dingo gevang kry om vir hom ’n parkeerkaartjie te gee.
In My eerste boek van alles! gaan Henk en Wurmpie skool toe, besoek die dokter, gaan kyk hoe lyk dit op ’n plaas, die hawe en die stasie. Hulle leer van kleure, goeie maniere, die liggaam, die maande van die jaar, vorms en veel meer.
Hoewel die boeke vir kleuters is, is dit ook geskik vir beginnerlesers. Geen kinderboekrak is volledig sonder ’n Richard Scarry-boek nie – dit is vir my steeds onweerstaanbaar.
DIE KNAL-LEKKERSTE WETENSKAPBOEK IN DIE HEELAL DEUR DIE SLIMKOPPIES. Human en Rousseau. HOE BYNA ALLES UITGEVIND IS DEUR DIE BRAINWAVES. Malan-media. Albei hardeband. R150 elk.
Die Slimkoppies-strokieskarakters (Brainwaves in Engels) is die handelsmerk van die illustreerders Lisa Swerling en Ralph Lazar en Claire Watts verskaf die woorde vir die reeks boeke. Die Slimkoppies het al in die menslike liggaam rondgereis, die planeet deurkruis en nou wys hulle hoe die wetenskap lyk en hoe dinge uitgevind is.
Die knal-lekkerste wetenskapboek se agterblad sê “dit is ’n ontploffing van wetenskaplike lawwigheid.” Laf of nie, hierdie boeke is gepak met inligting oor die wetenskap.
Hoe byna alles uitgevind is is ’n “briljante boek van groot idees”, want uitvinders was immers kreatiewe denkers.Met hul karikatuur-karaktertjies wat alles verduidelik, staan funky groot oor hierdie boeke geskryf. Dit is ’n visuele fees met baie inligting wat lag-lag oorgedra word.
GEHEIME OP KEURBOSLAAN deur Theunis Krog. Human & Rousseau. Sagteband. R99,95.
Berrie Serfontein is in die moeilikheid. In ’n fluistergesprek wat hy toevallig hoor, dreig ’n vreemde besoeker met ’n Amerikaanse aksent om geheime uit sy pa se verlede bekend te maak. Berrie besluit om sy pa te beskerm – hoe weet hy nie.
Die klassieke Keurboslaan-reeks is steeds gewild en die moeite werd.
- WEN! Twee lesers kan elkeen ’n eksemplaar van die boek wen. SMS “Wen Keurboslaan”, jou naam en posadres na 41849. SMS’e kos R2. Die kompetisie sluit vandag om 24:00.
MEISIES SE DINGE & OPBLAASBRA’S deur Cathy Hopkins. Malan-media. Sagteband. R115.
Lucy is veertien jaar oud, maar sy lyk twaalf jaar oud. Haar beste vriendinne, Izzie en Nesta, kan deurgaan vir sestien jaar. Dit voel vir Lucy asof alles om haar verander. Almal behalwe sy weet al wie hulle is en wat hulle eendag wil word. Dit laat haar in ’n stadium uitroep: “Dit voel net of niks rêrig pas nie... Ek pas ook nêrens in nie!”
Hierdie boek is ’n roman oor tienerwees, maar bied op ’n vars manier raad oor grootword vir meisies. Ná sommige hoofstukke is daar bv. engelkaarte met inspirerende gedagtes. Die oorsprong van die engelkaarte is deel van die verhaal, so ook die lysies met wenke soos hoe om die ander geslag se aandag te trek wat elkeen van die drie hoofkarakters opstel.
Die boek is vertaal in cool tienertaal en behoort groot byval te vind. )?WEN! ’n Leser kan ’n eksemplaar van die boek wen. SMS “Wen Meisies”, jou naam en posadres na 41849. SMS’e kos R2. Die kompetisie sluit vandag om 24:00.
GLORIOUS GALUMPIOUS STORY COLLECTION deur Roald Dahl. Puffin Books. Sagteband. R279.
“I am totally convinced that most grown-ups have completely forgotten what it is like to be a child be-tween the ages of five and ten... I can remember exactly what it was like. I am certain I can,” word Roald Dahl agterin een van die boeke in die versameling aangehaal. As jy of jou kinders nog nie kennis gemaak het met Roald Dahl nie, moenie die versameling van vyf van sy kinderboeke misloop nie. Dahl verstaan ’n kind se kop en sy aweregse humor sal Ma en Pa ook laat grinnik.
Die boksie wat ons vir resensiedoeleindes gekry het, bevat James and the Giant Peach, The Magical finger, The Giraffe and the Pelly and Me, Esio Trot en Fantastic Mr Fox (nou ook as ’n rolprent beskikbaar).
Al die boeke voer ’n kind in ’n fantasiewereld soos min mee. Die Engels is maklik en ons het dit vertaal-vertaal gelees vir sommige mense in ons huis wat weier om Engelse stories te luister. My dogters van sewe en nege jaar oud het die Engels maklik gevind.
Quentin Blake, wat jare saam met Dahl gewerk het, se illustrasies ondersteun veral die humor goed.
SWEEF EN ANDER VERHALE. Lapa-uitgewers. Sagteband. R80.
Sweef en ander verhale is ’n splinternuwe kortverhaalbundel uit die pen van 25 uiteenlopende skrywers. Van hulle is bekende jeugboekskrywers soos Martie Preller, Leon de Villiers, Jaco Jacobs, Zulfah Otto-Sallies en Fanie Viljoen tot nuwe stemme soos Marietjie Vos en Christo Davids (Errol van 7de Laan). Davids se verhaal oor ’n jong seun se worsteling met sy pa wat hom weggegooi het, het baie beïndruk.
Al die verhale in Sweef het een ding gemeen – dit is gemik op tieners en hul belewenis van die wêreld, hul emosies, hul vrese en natuurlik hul ervaring van die liefde en die lyflike.
Die stories handel oor hedendaagse kwessies waarmee tieners te doen het, hoe hul daarop reageer en die gevolge van hul optrede. Soos egskeiding van ouers, teleurstelling van vriende wat ’n mens in die steek laat, hoërskool wat vir sommiges nie lekker is nie, Mxit en tegnologiese vooruitgang en vrees vir die onbekende.
Van die verhale is vreemd en selfs onheilspellend, soms onnodig so. Miskien is dit my waarneming omdat die ouderdomsverskil tussen my en die teikenmark omtrent 10 tot 15 jaar is. Sweef voorsien nie vir ouer lesers nie. Die jeug sal waarskynlik aanklank by die verhale vind.
Die bundel is veronderstel om die leser te laat dink en droom met stories wat jou sal laat ril en raai, en bowenal stories wat jou sal laat... sweef. Daarin slaag die skrywers. Luidens Litnet is die bundel ook perfek vir klaskamergebruik en daar is ’n onderwysersgids met uitgewerkte vrae en skryfwenke. Die samestellers is Adinda Vermaak en Marieta Nel, albei kenners van leesstof vir jong mense. Sou ek die bundel ’n paar jaar gelede geniet het en aangeskaf het? Waarskynlik, ja.
- Volksblad