Langenhoven se satire tref steeds die kol
2010-03-07 22:29
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
Karen Ebersohn, Volksblad-redaksielid
SONDE
MET DIE BURE en HERRIE OP DIE OU TREMSPOOR deur C.J. Langenhoven.
Protea-boekhuis. R100 elk.
’n Aangename, plesierige, genotvolle en verruklike leeservaring.
Daar is sekerlik nie genoeg woorde om te beskryf hoeveel ure se vreugde ’n mens
uit die legendariese skrywer C.J. Langenhoven se boeke put nie. En ’n mens wil
nie graag soetsappig raak nie, maar Langenhoven verdien alle lof.
Sonde met die bure is die eerste boekie in die
reeks van twee wat as een van sy satiriese verhale bestempel word. Die twee
verhale is byna ’n eeu gelede, in 1921, en Herrie op die ou tremspoor, in 1925, geskryf,
maar steeds kan jy nie anders as om in verwondering te staan voor Langenhoven se
besonderse talent nie. Al twee verhale spreek vandag nog tot die leser. Die
leser kan in die storie inklim en saam met die skrywer ervaar asof dit vandag
is. Dit is seker een van die merkwaardigste prestasies waaraan Langenhoven se
werke vandag gemeet kan word. Daar is dikwels oor hom gesê: Langenhoven skryf
nie, maar hy praat. Die twee boeke beklemtoon dit. Sy aanslag, wat deurspek is
van sarkasme en kwinkslae, laat ’n mens kraai van lekkerkry.
Sonde met die bure begin met Sagmoedige
Neelsie wat onder sy bure se obsessie met geld en aansien ly. Boonop het
Vroutjie
’n alewige behoefte om saam met die bure “hoogheilig” en in weelde te
leef. Sy wil soos hulle ook ’n vakansiehuis en motorkar hê. Sagmoedige Neelsie
sug net, want dit is tog so duur.
Op ’n dag skaf hy dan vir Herrie, ’n oud-sirkusolifant, aan. Hy
voeg daarby ’n trem en skielik het hy ’n vakansiehuis op wiele. Wat kan ’n mens
nou meer vra. So val hy en Vroutjie en Engela (met haar honderde koffers met
haar nuutste klere) en Herrie en Jakhals in die pad op ’n reis enig in sy
soort.
Vier jaar later volg Herrie op die ou tremspoor, net so kostelik en
avontuurlustig soos sy voorganger.
In die verhaal ly arme Sagmoedige Neelsie weer. Maar die keer is
dit nie die bure wat sy siel versondig nie, maar wel sy vroutjie. Sy dring aan
dat hy ’n vaste werk moet kry.
’n Lig in die tonnel gaan toe skielik aan toe die Universiteit van
Stellenbosch hom nooi om ’n paar lesings as gasdosent te kom aanbied.
Sagmoedige Neelsie weet die enigste manier wat hy die ingewikkelede
onderwerpe sal kan bestudeer, is as hy die vrede van Meiringspoort gaan
ervaar.
So val hy en Vroutjie en Engela (weer met haar honderde koffers met
haar nuutste klere) en Herrie en Jakhals in die pad op ’n reis na Meiringspoort.
Met (weer) diverse gevolge...
Die twee boeke is onveranderd gelaat, spelling en leestekens is nie
gemoderniseer nie en dit dra by tot die outentisiteit van die verhale.
Beslis ’n moet vir elke boekrak en jonk en oud sal dit geniet.
- Volksblad