KAROONAG EN ANDER VERHALE deur Deon Meyer. Human en Rousseau.
Sagteband. R160.
Lesers met ’n sagte plekkie vir speurder-kaptein Bennie Griessel,
een van die protagoniste van Infanta, sal bly wees om te hoor hy is nou 34 dae sonder
alkohol al voel hy nog “die dranklus wat ontluik soos ’n skaam minnares” (bl.
39). Hy moet in Die perfekte moord sin maak van ’n selfmoordbrief wat vreemde
bekentenisse bevat en hy kry hond se gedagtes.
En Lemmer van Onsigbaar is ook terug in die verhaal Karoonag waarin
’n plaasaanval ’n onverwagse wending neem en ’n internasionale geur kry. Dis ’n
lekker skop-skiet-en-jaagstorie en die arme Lemmer skryf sy splinternuwe bakkie
af omdat hy Lemmer se Eerste Wet oortree: Moenie betrokke raak nie...
Só maak verskeie ander geliefde karakters weer hul buiging.
Die bundel bevat ses kortverhale en ’n lang-kortverhaal, Stiltetyd, wat
as vervolgverhaal in Die Burger verskyn het. Van die ander verhale soos Die
Nostradamus-dokument en Die ontvoering van Leendert le Roux het as
vervolgverhale in Huisgenoot en Sarie verskyn.
Die pas in die kortverhale is flink soos dit ’n spanningsverhaal
betaam. Maar wat pla, is dat dit verby is nog voordat die storie behoorlik op
dreef kom. Meyer is gelief vir sy goeie karakterisering, maar die
kortverhaalgenre is net te kort hiervoor.
Dalk is dit hoekom die langer Stiltetyd bevredigender is, want hier leer
ken die leser Johnnie October en sy vrou, Pearlie, as mense wat in jou hart
kruip, veral ná die fiktiewe onderhoud met Pearlie in die nawoord. In Stiltetyd
eksperimenteer Meyer met die wetenskapfiksiegenre wanneer moorde onder rare
omstandighede gepleeg word. ’n Jong meisie ontdek sy kan die tyd laat stilstaan
en ontrafel saam met October die moorde.
Wat baie interessant van die bundel is, is dat daar ná elke verhaal
’n Nawoord is wat verduidelik wat die oorsprong daarvan is.
Hierdie “nawoorde” beantwoord baie van die vrae waaroor lesers dikwels wonder
soos oor die oorsprong van verhale, die skrywer se skryfproses en oor die
karakters. Meyer-liefhebbers sal dit beslis geniet om te sien wat hom idees gee
en hoe hy die skryfproses aanpak. Meyer vertel byvoorbeeld oor Die Skoen in
Maria dit was een van die opdragte terwyl hy sy meestersgraad in
kreatiewe skryfwerk onder Marlene van Niekerk gedoen het. Hy vertel hoe sy hulle
as studente gemotiveer en gestimuleer het en dra die verhaal aan haar op.
Verslag oor ’n verdwyning word weer opgedra aan Petra Muller
“wat een donker nag op Melkbosstrand my mistieke muse was”. En oor Die ontvoering van
Leendert le Roux erken hy “met die insluiting van Die Ontvoering...
in hierdie bundel het ek lank gedink oor ’n moontlike totale herskryf
daarvan, want vandag staan die leemtes en foute daarin ongemaklik uit... ek
het eindelik besluit om dit nie te doen nie...” En dit verg moed van ’n
skrywer om homself só bloot te stel.
Hoewel die meeste verhale nie nuut is nie, is Karoonag en ander
verhale ’n lekker peusel-boek in die afwesigheid van ’n Deon Meyer-roman
in 2009. Lesers kan egter hul lippe solank aflek, want ’n roman, sy dikste nog,
verskyn volgende jaar, en Meyer is by uitstek ’n romanskrywer.
– Adéle Dempers