John Smit se vertelling is eerlik en opreg
2009-12-20 23:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
CAPTAIN IN THE CAULDRON – THE JOHN SMIT STORY deur Mike Greenaway.
Highbury Safika Media. Sagteband. R225.
Geen ander kaptein ter wêreld
het soveel bykomende kwessies op sy skouers nie.
Suid-Afrika, met sy reënboognasie,
soos Smit reeds in die tweede hoofstuk lostrek, is uniek. En dit bring soms
unieke probleme vir die span mee.
Hoewel Smit dit nie in soveel
woorde sê nie, sluit hy hom aan by sy eweknie van die Suid-Afrikaanse
krieketspan, Graeme Smith, wat in A Captain’s Diary 2007
lof vir die Proteas het omdat hulle ondanks al die beweerde woelinge van die
veld af tog bo uitgekom het.
Smit en sy makkers het dit
ook op die rugbyveld reggekry.
Smit takel dié gewigtige
onderwerp sommer vroeg. Hy verwys in die hoofstuk Rainbow
Nation Rugby na dié komplekse drama van die Suid-Afrikaanse
rugbypolitiek.
Smit stel dit sommer dadelik
duidelik hy is nie teen kwotas nie, maar..
Die kaptein vertel die
destydse breier Jake White het hom die oggend voor ’n toets teen die All Blacks
in Johannesburg ingeroep. Die span was die vorige dag reeds goedgekeur.
White het aan Smit gesê hy is
aangesê om die span te wysig sodat dit meer aan “demografie” moet voldoen.
Fourie du Preez is toe deur
Bolla Conradie as die skrumskakel in die beginspan vervang. Smith sê dit was
die begin van die verbrokkeling van die verhouding tussen Du Preez en die
breier.
Smit sê daar is baie mense
van verskillende groepe wat by die administrasie van die spel betrokke is. Hy
het oor die jare uit persoonlike ondervinding geleer sekeres probeer self munt
slaan uit hul betrokkenheid eerder as om Suid-Afrikaanse rugby te laat baat
vind wat baie hartseer is. Hy sê van die mense aan bewind wou hulle eerder in
hul hoedanigheid laat geld het en dat uitslae nie juis voorkeur by hulle geniet
het nie.
Smit verwys ook na die
voormalige Saru-adjunk, Mike Stofile, wat hom nog nooit op enige wyse
ondersteun het nie en wat tot vandag toe nog nooit eens met hom gepraat het
nie. Smit sê Stofile wou altyd net by White weet waarom hy met hom volhard bo
ander hakers soos Chiliboy Ralapele, Gary Botha “en sy gunsteling”, Schalk
Brits, wat volgens hom beter as Smit was. Stofile het glo ook uitgevaar omdat
die verhouding tussen die kaptein en breier na sy mening te heg was.
Luke Watson se omstrede
insluiting en die gevolg daarvan word later in die boek bespreek.
Smit sê toe hy in die
Barbarian-span ’n kamer met die All Black-kaptein Richie McCaw gedeel het, het
hy opnuut besef hoe sy rol as kaptein van dié van ander internasionale spanne
verskil – maar hy verruil dit steeds vir niks nie.
In die eerlike en opregte
vertelling onthul Smit ook baie wat agter die skerms aangaan.
Hy praat oor sekere aspekte
van die insouting van nuwe spelers, terwyl sy vertelling oor die berugte Kamp
Staaldraad seker die onthullendste nog is van alles wat reeds daaroor geskryf
is.
Na dese sal ’n mens ook
anders na ’n toetswedstryd kyk. Jy sal byvoorbeeld meer let op die plettervatte
wat gemaak word. Smit vertel die speler wat met die hardste lakslag vorendag
kom, word ná die tyd vereer. ’n Kershaw-jagmes word aan die betrokkene gegee en
Smit skerts as Henry Honiball, alias die Lem, nog in die span was, sou hy
waarskynlik al ’n groot versameling daarvan met al sy knipmes-duikslae gehad
het.
Dit is maar een van die talle
interessanthede in die boek. Daar is nie veel beeldpoetsery soos in ander boeke
wat onlangs verskyn het nie. Smit sê ’n ding soos dit is. Dit is ’n goeie
opsomming van sy loopbaan, asook Springbok-rugby die laaste paar jaar.
Nadat dit nie te waffers op
die afgelope toer na Europa met die Bokke gegaan het nie, is dié boek ’n goeie
Kersgeskenk om Bok-harte weer te laat warm klop.
– Johann
de Jager, sportverslaggewer
- Volksblad