DIE VERHAAL VAN ELANDSKLOOF deur Tobie Wiese.
Protea-boekhuis. Sagteband. R220.
MET hierdie werk pak die skrywer in ’n intense verhaal- en
verteltrant die “werklike” geskiedenis van die bruin gemeenskap van Elandskloof
in die distrik Citrusdal aan.
Die NG Kerk koop die grond in 1862 vir die ontwikkeling van ’n
sendingstasie. Onder apartheid en die Groepsgebiedewet moes die bruin mense die
plek in 1961 ontruim. Dit lui ’n stryd in wat daarop uitloop dat hulle in 1996
terugkeer na hul grond: die eerste geval van grondhervorming ná 1994 in
Suid-Afrika.
Intussen bou die skrywer sy vertolkde verloop van die verhaal
sedert 1862 op uit briewe, notules van vergaderings, verslae en onderhoude met
oudinwoners, besonderhede wat hy afwissel en inklee met sy eie vrae,
interpretasies en gevolgtrekkings.
Anders as betoog in ’n onlangse boekresensie in Volksblad,
gebruik die skrywer in sy histories-verhalende aanpak nie verwysings nie, maar
gee hy ook aan die leesgierige gees ’n uitgebreide lys van meer as 40 bladsye
geraadpleegde werke aan die einde van die boek. Hierdie bronne word onder die
betrokke temas in die boek geplaas en bevat primêre, sowel as sekondêre bronne.
Getrou aan die eise van die geskiedskrywing, is eersgenoemde bepalend, omvattend
en uitgebreid. Dit blyk uit die wyse waarop hy dit aanhaal en aanwend in sy
teks.
In sy skets van die historiese verloop van die lewe van die
Elandsklowers kom die skrywer naby aan die belewenisse van bruin mense in sekere
situasies. Sy konsentrasie hierop dreig soms om kroniekagtig en byna
nie-verhalend te word sodat die leser dikwels wonder waarom soveel detail in ’n
bepaalde geval gegee word en hoe die betrokke deel inpas in en bou aan die doel
van die boek as geheel.
Soos die eenvoudige en gewilde indeling van die resente politieke
en maatskaplike geskiedenis van Suid-Afrika, kom die groot ommeswaai in die
verhaal van Elandskloof by 1994.
Die “verhaal” agter die verhaal tot 1994 (ook van 1961 en daarna)
probeer ons oortuig van die bestaan van ’n verontregte groep bruin mense wat ’n
onselfstandige bestaan gevoer het waarin hulle deur ongevoelige, onbegrypende en
selfsugtige wittes bestaande uit die regering van veral ná 1948 (PW Botha as
minister van kleurlingsake loop ook deur oor sy destydse ongevoelige
“kragdadigheid”), die NG Kerk met enkele kerkrade en die Wes-Kaapse Sinodale
Sendingkommissie en die omringende wit boere met hul bevoorregting onder
apartheid, oorheers is.
Juis omdat die skrywer sy eie vrae en interpretasies ruimskoots
aanbied, skemer sy vooroordeel teen die “oorheersers” plek-plek skerp deur. Op
talle plekke kom dit voor asof hy nie meer as sy eie verklaring vir hul optredes
wou soek nie.
Die boek eindig met ’n goed deurdagte en gedokumenteerde hoofstuk
van die probleme wat ná 1996 ondervind word om van die bruin gemeenskap van
Elandskloof ’n groter selfonderhoudende en produktiewe gemeenskap te maak.
Nugtere realisme spreek uit die aanpak van die antwoord op die vraag na
ontwikkeling in Afrika.
Daarmee gee die skrywer ’n breër visie aan die probleem en lewer
hy sy grootste bydrae om die toekoms van Elandskoof en sy inwoners te bestendig.
– Prof. Piet Strauss, departement kerkgeskiedenis aan die
Universiteit van die Vrystaat