Dot skets met humor verhale uit eie bodem
2011-05-28 06:03
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
SYSTAP ONDER DIE JUK deur Dot Serfontein. Protea Boekhuis. Sagteband. 191 bladsye. R140.
IN hierdie welkome derde uitgawe van ’n bundel sketse oor merkwaardige Noord-Vrystaters kry lesers die geleentheid om ’n vroeë Dot Serfontein te leer ken. Sy, tans 86, was 44 jaar toe die boek in 1969 verskyn het, waarna dit in 1982 heruitgegee is.
Al die kenmerke wat haar latere publikasies so gewild gemaak het, word reeds hier aangetref: haar onvergelykbaar humoristiese, boeiende vertelstyl; haar fyn waarneming van mens, dier en omgewing; haar deurdringende dog deernisvolle karakterbeelding; haar ingeligtheid tot in die fynste besonderhede. Daar is 11 sketse in die bundel. Die vier langstes is besonder treffend.
“Ongekroonde Victoria”, gaan oor Hannie Wolmarans, gesiene perdeteler, onverskrokke boervrou van Steynsrus. “Haar woord was natuurlik die enigste woord wat daar was” (bl. 23).
Systap onder die juk verras met sy vertellings oor die herhaalde rebelsheid (die “systap”) van die Noord-Vrystaters. “Met verloop van tyd het dit die Noord-Vrystaat se trots geword; hy laat hom niks vertel van g’n niemand nie” (bl. 31).
Agt jaar lank het die jong Dot en haar niggie by haar ouma Sannie Serfontein geloseer. Eers veel later besef sy watter groot vormende rol hierdie besonderse vrou in haar lewe gespeel het. Daarvan vertel sy in “Geel Rose”: “Ouma, klein soos sy was, het soos ’n leeu gestaan tussen ons en Die Lewe” (bl. 71).
Bondig en boeiend vertel die skrywer in “Sleg vir besigheid” van die Vrystaatse politiek in die eerste helfte van die twintigste eeu: “Ek het grootgeword in ’n huis wat meegeleef het met elke asemtog van die volk” (bl. 89). Die leser verneem van Smelters en Gesuiwerdes, die Ossewatrek (“naïef die ou programmetjie... maar toe was dit die uur van verrukking” (bl. 103)), die Ossewabrandwag, die Stormjaers, die Oorlogsjare en die moord op Verwoerd.
In die ander sewe sketse word naby familie van die skrywer uitgebeeld: haar oumagrootjie, tant Sannie Leeukuil, haar pa (Oupats), haar ma (Boeta), en andere. Hoe heg die verhouding tussen haar en haar ma was, blyk onder meer uit: “Ek was al een wat geweet het hoe kwesbaar sy was; hoe seer sy kry as dinge vir haar te mooi is” (bl. 137).
Gesels was dikwels onnodig tussen haar en haar pa. “Ons het ure saam te perd agter die beeste deurgebring sonder om ’n woord met mekaar te praat”. (bl. 178).
’n Besonder mooi kenmerk van die bundel is die erkentlikheid waarmee Dot Serfontein diegene huldig wat haar in haar jeug gevorm het. Sy doen dit egter steeds met haar kenmerkende vermenging van eerlikheid en humor, soos wanneer sy sê: “Ek moet met skaamte erken dat ek van genl. De Wet se heldedade geweet het voor ek van Christus se wonderwerke gehoor het” (bl. 90).
Dit is die derde publikasie van Dot Serfontein wat die afgelope drie jaar heruitgegee word. Soos die vorige twee, sal ook hierdie bundel ongetwyfeld oral verwelkom word deur wie ook al besonder knap geskrewe, goed nagevorste leesstof uit eie bodem wil lees. Dit is verblydend om te sien dat Dot Serfontein nou die erkenning begin kry wat haar, ’n onderskatte skrywer, al lank toekom.
– Stoffel Cilliers, vryskutresensent
- Volksblad