Boeke op fees sal jou in jou spore laat stol
2011-05-28 06:04
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
GRIFFEL MEDIA stel op vanjaar se Vryfees vyf boeke bekend wat jou in jou spore sal laat stol.
Net soos spoke, sieners en spiritiste oor die geskiedenis heen Afrikaanstaliges in hul tred gestuit het, laat Agter die Somber gordyn jou stilstaan.
Verhale binne die gedagtegang word op 12 Julie deur Johannes de Villiers onthul wanneer hy om 16:00 met Pieter Steyn gaan gesels.
Op dieselfde dag gesels Hans Pietersen oor sy boek Die vrese van ons Vaders wat in naam aansluit by eersgenoemde boek se tema. Maar die vrese in hierdie publikasie spruit uit vrae oor die huidige gelyke bestaansreg van geloof en ongeloof, asook die nalatenskap van Christelik-nasionale onderwys met hedendaags dikwels ’n naïewe evangelisasie daarbinne. Jan van der Merwe gaan hierdie gesprek die oggend om 09:00 lei.
Net daarna, om 10:30, gaan die bespreking oor Christelike geloof voort.
Prof. Hermie van Zyl gaan by Pieter Bingle hoor watter vastrapplekke daar vir die mens in die wêreld behoue gebly het.
Watter betroubare bakens het nog soos Oortrapklippe uit die evangelie staande gebly?
Effe later in die dag ondersoek Ralph Barnard en dr. Wollie Grobler die standpunt of die veroordeling van gays op grond van die Skrif, onbillik en nie-korrek is. Kom luister na hulle om 14:30 met die bekendstelling van Barnard se boek Gays en God.
Nog ’n spoorstoller behoort die gesprek op 15 Julie om 10:30 te wees wanneer dr. Jan-Ad Stemmet met Amos van der Merwe oor sy biografie oor Eugene Terre’Blanche gaan praat. Kom luister na ’n aangrypende blik op een van Suid-Afrika se bekendste mense.
Al hierdie geleenthede vind in eksamenlokaal 4, oorkant die Callie Human-saal op die kampus van die Universiteit van die Vrystaat, plaas.
- Volksblad