‘Die Bike-boek’ is gemaklike leesstof
2009-10-12 04:53
- Artikelopsies
- Deel
- Kry Volksblad op
DIE
BIKE-BOEK
saamgestel deur Tobie Wiese. Tafelberg. Sagteband. R165
“Maar toe daal die hel op my neer: ’n Meisiekind met ’n wit Golf ry
my TMax onder my gat uit. Kan die f*kken vroumens nie kyk waar sy ry nie!” (Ben
du Toit) Dit is dié soort juweeltjies wat jy in Die Bikeboek, ’n
versameling kortverhale oor motorfietse en hul ryers, kry, want in die boek word
’n ding gesê soos hy is...
Die
Bike-boek is deur Tobie Wiese saamgestel en bevat bydraes van bekendes en
minder bekendes, skrywers en nie-skrywers en selfs van mense wat nie motorfiets
ry nie! Maar een ding het al die stories in gemeen: Dit gee jou ’n kykie in die
wêreld van motorfietsryers en gou besef jy as uitgewekene in die geledere dat
motorfietsry ’n bekoring vir baie mense het wat jy nie sommer by kar-mense sal
aantref nie. Daar is nie verniet ’n stekie of twee na die vierwielrygoed of
eerder hul bestuurders wat nie altyd die nodige respek en eerbied vir dié op
tweewiele het nie.
Die verhale, sommige effe ernstig, ander meer humoristies en hier
en daar dalk een selfs leersaam, is goed geskryf soos ’n mens van die uitgelese
klompie motorfietsryende skrywers kan verwag.
Die verhale is kort en bondig. Jy word nie verveel met langdradige
intriges en uiteensettings oor die ryer of die motorfiets nie.
Anders as mense wat kar bestuur, het elke “baaiker” tog ’n storie
om te vertel. Moet ook nie dink dat die stories laf, verspot of vuilbekkig is
bloot omdat dit van “baaikers” af kom nie. So sal ons nie die gerespekteerde
klompie skrywers in die gesig vat nie. Die verhale wissel van hoekom dié of
daardie persoon op ’n motorfiets besluit het, tot daardie koop-ervarings, die
trippies
iewers heen en wat is ’n lekker baaikstorie sonder ’n valslag?
Van die verhale is deur gróót skrywers soos Deon Meyer, Kerneels
Breytenbach en Dana Snyman neergepen, ander deur ’n klompie bekende joernaliste
en selfs Madiba se regterhand, Zelda le Grange, is ’n baaiker en vertel
meer.
Die boek sal enige leser redelike genot verskaf en jy hoef nie iets
van motorfietse te weet of self ’n motorfietsryer te wees om die lief en leed
van die manne en vroue op die ysterperde te geniet nie. Uiteraard sal
motorfietsryers met baie meer in die verhale kan identifiseer, maar dit is vir
’n wyer gehoor as net die “baaikers” bedoel.
’n Paar van die verhale se temas vertel al klaar ’n storie: Hoe drie softies manne
geword het (Albé Grobbelaar), Die biologie van biking (Piet Oosthuizen),
Rum en
dissipline, dis wat hulle kort! (Kalie Kirsten), Daar’s ’n (klein) rebel op die
dorp! (Jaco Kirsten), ’n Scooter is nie ’n poegie nie (Ben du Toit),
Hoe Ray Charles
sy liefde vir Scrabble verloor het (Kerneels Breytenbach), Die Harleys, die
poedel en Jack Daniels (Dana Snyman), Dáái dae was rof (Jon
Minster) en Koffie vir dié wat dors het (Tobie
Wiese).
Inderdaad lekker gemaklike, ligte leesstof wat snaaks is en ’n mens
so ietsie leer van die psige van motorfietsryers.
– Jannie Hennop, redakteur van Motor-Volksblad
- Volksblad