SUMMERTIME deur JM Coetzee. Harvill
Secker-uitgewers. Hardeband. R298,95.
JM Coetzee se jongste fiktiewe outobiografie, Summertime, is
die derde deel van ’n trilogie en word deur Boyhood en Youth voorafgegaan. Gesamentlik bied die werke ’n blik op die verskillende stadiums van
Coetzee se lewe.
Tipies van sy werk daag die jongste toevoeging ook die tradisie van
die outobiografie uit deur dit as geskiedkundige feite vermom as fiksie aan te
bied.
Coetzee skryf in die derde persoon oor homself en ook uit die
perspektief van ’n groep sprekers wat elkeen ’n kenmerkende, afsonderlike
identiteit kry – Julia Frankl, die getroude vrou met wie Coetzee ’n stormagtige
verhouding gehad het, Margot Jonker, ’n niggie met wie hy ’n groot en
gekoesterde deel van sy kinderjare gedeel het, Adriana Nascimento, die
Brasiliaanse immigrant en eksotiese danser op wie hy byna irrasioneel verlief
geraak het, en ander.
Coetzee gebruik hierdie individue se stemme om ’n saamgestelde
beeld van homself te bou deur ’n reeks onderhoude deur nog ’n fiktiewe karakter,
die jong Engelse biograaf, Mr Vincent. Feit en fiksie, illusie en werklikheid,
word só dig vervleg in hierdie ongenadig eerlike en struktureel komplekse
fiktiewe memoir.
Deur die persoonlike vertellings van hierdie individue bied Coetzee
die leser insigte in sy verlede wat spesifiek konsentreer op die jare 1971 tot
1977 waartydens hy saam met sy bejaarde pa in Tokai Road, Kaapstad, gewoon het
ná ’n kort diensbeurt aan ’n Amerikaanse universiteit.
Die jonger Coetzee kom na vore as ’n eksentrieke, raaiselagtige,
afsydige karakter – ’n komplekse, teruggetrokke man wat moeilik verhoudings
aanknoop en oor die algemeen in sy omgang met mense sukkel.
Die vertellings is omsigtig gekonstrureerde retrospektiewe
voorstellings van Coetzee in verskillende lewensfases en wissel van die
persoonlike, intieme herinnerings aan sy destydse minnares tot die liefdevolle
rekonstruksie van ’n familielid met wie Coetzee ’n groot deel van sy kinderjare
bestee het. Dit word gevolg deur die bitsige verslag van sy gedoemde
verliefdheid op die ma van een van sy Engels-leerlinge in die tyd toe hy as
aanvullingsonderwyser gewerk het. Hierdie vrou se vertelling is deurspek van
herinnering aan die onbeholpe, sosiaal ontoereikende skrywer wat sy beskryf as
’n obsessiewe sluipjagter wat ’n beslis gedoemde liefde najaag. Dit wek die
beeld van Coetzee as ’n jong man wat worstel met die eksistensiële laste van
onbeantwoorde erotiese begeerte en pynlike selfbewustheid. Dit word duidelik dat
Coetzee homself sien as ’n essensieel eensame karakter wie se intelligensie
blykbaar konstant ongemaklik met die meer instinktiewe kant van sy natuur
verkeer.
Die laaste hoofstuk fokus op Coetzee die akademikus wat aan die
Universiteit van Kaapstad doseer. Hierdie deel word deur sy
universiteitskollegas, Martin en Sophie, beskryf en hul vertellings gaan oor
Coetzee se politieke en ideologiese verbintenisse. Hy word geskilder as iemand
wat terselfdertyd ’n naïwe idealis en somber fatalis is, ’n mens wat
geskiedkundige gebeure sien as die manifestasies van ’n onpersoonlike proses wat
heeltemal onafhanklik van die individuele en kollektiewe wil staan. Coetzee se
geneigdheid om op ’n afstand van maatskaplik-politieke gebeure te staan verklaar
miskien sy afsydigheid teenoor die swart vryheidsbeweging in die Suid-Afrika van
die jare 70 en 80.
Coetzee se politieke afsydigheid word deur die uitgangspunt gevorm
dat wit aansprake daarop dat hulle van Suid-Afrikaanse oorsprong en identiteit
is, inherent “fraudulent” en “illegitimate” is. Dit is ook hierdie uitgangspunt wat
volgens die vertelling tot sy vertrek in 2001 uit Suid-Afrika gelei het.
Coetzee se mede-akademici brei in die laaste afdeling uit oor sy
ideologiese standpunte en verras met die onthullings dat Coetzee hom diep tot
die 1960’s verbind gevoel het. Dit was ’n tyd dat hy veilig gevoel het binne ’n
ideaal, ’n kwasi-feudale maatskaplik-politieke bestel. Ons word vertel dat die
skrywer nie ware simpatie met die swart vryheidsbeweging gehad het nie, maar
slegs op ’n onpersoonlike, intellektuele vlak verstaan het dat dit moes
plaasvind.
Intellektuele afsydigheid blyk die oorheersende eienskap van
Coetzee se persoonlikheid te wees, soos dit in Summertime beskryf word, en dit word sterk
beklemtoon deur die vorm van die memoir – ’n fiktiewe biografie wat die Self op
’n punt tussen geskiedenis en fiksie plaas. Dit bevestig Coetzee se gevestigde
siening dat die Self, en enige voorstelling daarvan, net soveel ’n skepsel van
die subjektiewe verbeelding as van sy geskiedenis en feite is.
– Manuela Lovisa, dosent van die Engels-departement aan die
Universiteit van die Vrystaat. Resensie vertaal.